Hier is waarna jy hierdie week (17 tot 21 Februarie) op Suidooster, Skemergrond, Diepe Waters en Binnelanders kan uitsien.
Suidooster
Julle! Ek weet ek was oor die afgelope paar weke nie ’n groot aanhanger van Kaashifa (Jawaahier Petersen) nie, maar ek dink jul monde gaan (net soos myne) oophang as julle Jawaahier se briljante toneelspel hierdie week sien. Ek net nou nie verwag dat die storie só ’n draai sou neem nie, maar ek sal nooit kwaad wees oor ’n goeie plot twist nie! As sy nie ’n Safta vir hierdie storielyn wen nie, dan weet ek nie. Gee vir die vrou sommer ’n Emmy ook! Dit was een van dié sepie se mees onverwagse en skokkendste storielyne nog. Ek het net so stom soos Moena (Jill Levenberg) na my TV gestaar. Brava!
Intussen is Speurder Susan (Natasha van der Merwe) weer aan diens, maar hierdie keer is daar baie meer op die spel. Soms wens ek net sy los dinge uit. Is sy soos gewoonlik op die regte spoor of sit sy die pot hierdie keer heeltemal mis? Lee-Ann (Portia Joel) kry ook ’n interessante versoek van Carlo (Jaden Booysen), wat dinge effens ongemaklik in die huis gaan maak. Maar ek dink sy oordryf weer – ons almal weet Lee-Ann kan mos soms onnodig wees.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
Hulle sê mos dinge gebeur in drieë, maar LJ (Julian Robinson) val nie daarvoor nie. Soms bring die heelal dinge oor ’n mens se pad en ander tye mag dit dalk net Riekie (Zandélle Meyer) wees. Ella (Marlee van der Merwe) bevind haarself twee keer in die hospitaal en LJ is oortuig dat die verlede dalk homself sal herhaal, veral noudat sy tannie ’n nuwe boyfriend het. En dié se dogter het mos eers onlangs oranje vir pienk verruil, so LJ het genoeg rede om bekommerd te wees.

Louis (Germandt Geldenhuys) vind iets uit oor sy ma wat verhoudings binne sy gesin gaan uittoets. Ek sou sê pos die tannie weer op ’n vliegtuig London toe… Onmiddellik!
Bonnie (Antoinette Modise) was nog nooit gelukkig wanneer dit by die liefde kom nie, maar hierdie keer voel ek dit saam met haar. Dit is presies hoekom ’n mens nooit besigheid en plesier moet meng nie. Maar dit sorg beslis vir pret vermaak!
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Diepe Waters
René (Marijke Coetser) moet die stukkie van haar verhoudings optel en ongelukkig kom vergifnis nie so maklik soos leuens nie. Zelda (Sandi Schultz) gaan nie vir Gys (Justin Strydom) deur haar vingers laat glip nie, maar karma is iets waarmee jy nie moet mors nie. Sy mag dalk ’n stokkie voor Gys en René se planne gesteek het, maar danksy haar inmengery in René se lewe het die heelal spoke uit haar verlede kom wakker maak.
Nina (Reze-Tiana Wessels) se stres en angs van die afgelope paar maande kom in ’n hartverskeurende toneel uit, tog, met die pyn in die lewe kom daar ook geluk en hoop. Ons sien dít hierdie week.
Pam (Tracey-Lee Oliver) se nuutste projek is ’n groot sukses, maar ek weet net nie of dit die regte mense lok nie.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Skemergrond
Christine (Devonecia Swartz) beter nie te vroeg feesvier nie, maar of die Louws weer ’n haas uit hul hoed uit kan pluk, weet ek nie. Hul finansiële paniek maak my meer benoud as my debietorders in Januarie. Dit voel as of hierdie arme familie vasgevang is in een laaaang Janu-worry wat nooit end kry nie.
Shakiel (Ashley Riddles) se situasie het die hele dorp op hol, maar Beeno (Duncan Johnson) besef nie dat mense binne sy eie sirkel op sy spoor is nie. Hy beter seker maak dat hy nie te windgat raak nie.
Gloria (Hunter Plaatjies) en Kevin (Gershwin Mias) begin ook die legkaartstukke bymekaar sit.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.