Menu terloops
In Sepies [3 Nov 2024]

Sepievoorskou: Oorlog dreig in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’


Wraak en verbode liefde is groot temas in sepieland hierdie week, met ’n hele paar raaisels wat opgelos moet word. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die sepiedrama wat vandeesweek op kykers wag. 

Sepievoorskou: Oorlog dreig in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’

Hier is waarna jy hierdie week (4 tot 8 November) op Binnelanders, Suidooster, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien.

Diepe Waters

Sanet (Nadia Valvekens) is uit op borgtog, maar in ’n verrassende wending word daar iets in haar motor gevind wat haar hele saak op sy kop draai. Sanet het heel kalmer as ek gereageer toe sy twee en twee bymekaar begin sit. Ai, almal dink altyd Sanet het die kat aan die stert beet, maar dié vrou se intuïsie is selde verkeerd. 

Ongelukkig kan dieselfde nie gesê word van haar sussie, Anja (Reandi Grey), nie. Anja was nog altyd te sag en vertrou mense te maklik. Dit is juis daarom dat sy haarself in hierdie ongemaklike situasie met René (Marijke Coetser) bevind. Ek was net so nuuskierig soos Zelda (Sandi Schultz) toe René laat val dat sy vir Anja van ’n vorige tydperk in haar lewe ken. Daai gesprek was nogal interessant en nou wonder ek of sy ook in Boskruin is vir wraak. 

Dit was ’n hartroerende oomblik toe Lettie (Stephanie Baartman) sien wat haar Boskruin-familie vir haar gedoen het. Ek het self sommer ’n traan gestort.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Skemergrond 

Patty (Gretchen Ramsden) beter haar kamerdeur sluit en met iets in haar sak rondloop, want hoor wat ek vandag sê: as sy nie wakker pies eet nie, is sy een van die dae nie langer met ons nie. Sy is lekker naïef en is altyd op die verkeerde spoor. 

Hazel (Carmen Maarman) is nou nie die wêreld se maklikste housemate nie, maar agter haar harde persoonlikheid is ’n brose vrou. Ek voel nogal vir haar en ek weet nie of Ronnie (Mario Haupt) dit in hom het om sy huwelik te red nie. 

Maar ek het glad lekker gekry toe Christine (Devonecia Swartz) ’n proeseltjie van haar eie medisyne gekry het. Iemand moes lankal hierdie vrou in haar plek sit. 

Louis (William Adams) is op breekpunt en lyk asof hy wil bars. Hy en Amber (Talia Davis) se verhouding neem ’n ongemaklike draai hierdie week en ek weet nie of ek heeltemal met Lily (Hildegardt Whites) se reaksie saamstem nie. Have a heart!

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Soos Lee-Ann (Portia Joel) hierdie week wys, doen mens snaakse dinge buite jou karakter wanneer jy bang is. Nes Lee-Ann, sou ek ook maar paranoïes wees as ek tot daardie vlak moes daal. Dit sit nie in enigiemand se broek om so genadeloos op te tree nie. Ek weet nie of ek haar moet geluk wens en of ek moet bang wees nie. 

Maar ek vat eerder my kanse met Lee-Ann as met Kaashifa (Jawaahier Petersen) op die oomblik. Sy is op die oorlogspad en danksy die dinge wat Rhafiek (Irshaad Ally) aanvang is hy nommer een op haar hit list. Min weet sy dat haar woede eintlik op Nazeem (Irvine van der Merwe) moet wees. Maar Siya (Gantane Kusch) sien nie eens die gevaartekens raak nie. Hy beter wakker skrik of hy sit met ernstige regskwessies. Vandat Mo (Alushay Klazen) haar makeover gekry het is sy uitgeslaap en hou die kind haar met grootmens dinge besig. 

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Binnelanders 

Dit is nou of nooit vir Nicolette (Kate Roothman) en Uys (Gerald Steyn), maar gaan hulle regtig daardie volgende stap neem? Ek weet darem nie of ek so ver vir ’n strandhuis sou gaan nie… 

Ten minste is hulle nie Naomi (Je-ani Swiegelaar) wat vir Tracy (Melinda Viljoen) in ’n interessante posisie gevind het nie. Ek skaam my dood! 

Maar selfs dit is beter as die ongemak waarin Joe (Roberto Kyle) homself bevind noudat sy geliefde oom op sy ma verlief geraak het. Gaan hy intree of gaan hy dinge so los?

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies