Ons ontmoet hierdie week ’n nuwe gemeenskap in sepieland en ek kan nou al vir hulle sê die mense van Gemoedsdrif in Skemergrond se kaste kan skaars toe danksy al die geraamtes wat hulle daarin probeer wegsteek. Moenie toelaat dat die mooiheid van die Louw-familie se skouspelagtige blomplaas jul verblind nie!
Hier is waarna kykers hierdie week (1 tot 5 Julie) op Suidooster, Binnelanders, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien.
Suidooster
Kry maar julle chips gereed en los ’n bietjie ekstra kleingeld in jou baadjie se sak as jy wil sien wat agter die mure van Texas (Donovan Pietersen) se nuwe wassery gebeur. Of moet ek eerder sê, Nazeem (Irvine van der Merwe) se wassery… Nuuskierigheid het nog nooit vir Gary (Craig Adriaanse) enige gunste gedoen nie, maar hier is ons weer! En ten spyte van Riaan (Daniel Coetzee) se ondersoek, is hy ongelukkig nie so slim soos Gary nie. Gary sit twee en twee bymekaar en besef dat die duiwel beslis in die onderwêreld ronddraai. Hy moes nou al uit sy foute met Nazeem geleer het en weggebly het, maar nee! Dié geheim is mos te lekker, maar ongelukkig voel Justin (Eden Classens) nie dieselfde nie en dit kan moeilikheid vir hulle veroorsaak.
Wat as ’n goeie plan begin het, is vinnig besig om uit te rafel, want tannie Kate (Annelisa Weiland) en pastoor Siya (Gantane Kusch) se “Barmhartige Samaritaan”-persona kan nie saamstem oor waarheen die geld van die ring se verkope moet gaan nie. Sal hulle hierdie geheim kan hou? Of gaan geld nog ’n verhouding in Ruiterbosch in gevaar stel?
Dit is geen geheim dat Mymoena (Jill Levenberg) deesdae baie eensaam is nie, maar sy vind hierdie week ’n nuwe stokperdjie wat dalk meer kwaad as goed gaan doen.
Intussen sien Aiden (Theodore Jantjies) net hartjies wanneer hy na Lisa (Elsje Slabbert) kyk. Maar is Ruiterbosch se nuutste inwoner regtig so gaaf soos wat sy voorgee?
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.
Skemergrond
Dit is altyd besig op Everlasting Blomplaas in Gemoedsdrif, maar hierdie week woel dit ekstra met voorbereiding vir Jasmine (Khadija Heeger) se spoggerige 60ste verjaarsdag. Ongelukkig gebeur dinge nie altyd soos wat ’n mens beplan nie en kan geheime van die verlede dinge in jou toekoms kom omkrap.
Gloria (Hunter Plaatjies) is een van die bekkige blommeverkopers in die Kaap en sy is ook die jongste op Everlasting se afleweringslys. Sy vang iemand se oog en dit gaan of ’n match made in heaven, of ’n totale ramp wees.
Hazel (Carmen Maarman) is die Louw-familie se golden child… Of so dink sy. Maar wat het jare gelede tussen haar en haar suster gebeur wat haar so bitter gemaak het?
Skemergrond is vanaf 1 Julie 2024 om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit sal ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar wees.
Diepe Waters
Ná Karla (Daniélle Swanepoel) se ongeluk verlede week wil Charity (Dané de Waal) niks weet van swem nie. Ek sou seker ook bang gewees het as ’n psycho soos Michelle (Nadia Beukes) vir my en my vriende probeer terroriseer het. Ná ’n moeilike pep talk van Karla laat dit vir Charity dieper oor dinge dink.
Sanet (Nadia Valvekens) kan haarself net nie help nie en moet altyd matchmaker speel. Ongelukkig blaas dit soos gewoonlik in almal se gesig op. Kan sy en Ben nou net trou en ’n bietjie gaan honeymoon, asseblief?
Jacques sal vinnig moet besluit hoe hy die toekoms wil aanpak, want dinge gebeur blitsig in Boskruin en ek is seker hy wil nie nog ’n besluit berou nie.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Conrad (Hykie Berg) en Tracy (Melinda Viljoen) baklei al weer oor Leah en soos gewoonlik is dit heeltemal onnodig. Julle sal nie kan raai waaroor dit hierdie keer gaan nie, maar sal hulle dit sonder prokureurs kan uitsorteer?
Louis (Germandt Geldenhuys) wil die bietjie hare wat hy wel het, uit sy kop uittrek danksy Ella (Marlee van der Merwe) se inmengery wat saadjies in Naomi (Je-ani Swiegelaar) se kop plant. Maar dit lyk asof sy hierdie keer genuinely aan ’n plan gedink het wat vir almal sal kan werk. Hierdie plan is nogal ’n bietjie van ’n game changer!
Steve (Clint Brink) en Nicolette (Kate Roothman) mag dalk die hots vir mekaar het, maar met ’n eksvrou wat binnekort baie hulp onder jou dak gaan benodig (not for me), plaas dit baie meer spanning op hul vars verhouding as wat hulle gedink het. Wat Steve hierdie week doen help ook nie die saak nie.
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.