Hier is waarna jy hierdie week (31 Maart tot 4 April) op Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Diepe Waters
Ons almal ken vir Zelda (Sandi Schultz) as die prim en proper Boskruin-sakevrou en skurk wat elke paar maande die lewens van die mense rondom haar omkrap. Wel, as jy ooit vir Zelda met ’n bietjie meer van ’n Kaapse houding wou beleef, is hierdie jou week om in te skakel. Ek moes twee keer kyk toe ek die nuwe gesig, Hilda (ja, ook Sandi Schultz), op my skerm sien verskyn.
Ek het mos gesê Kelsey (Robyn Rossouw) is too good to be true, maar ek het beslis nie hierdie kinkel voorspel nie. Ek het wel vir ’n oomblik my oë gerol, want al wat ek kon dink, is, “… hier gaan ons weer…” It’s giving a serious Vivian vs Charmaine (Vinette Ebrahim) 7de Laan–throwback, maar tog op al die lekkerste maniere. Kom ons hoop dat Hilda so mal en vermakerig soos Vivian is, want dan is kykers – én Zelda – in vir groot sports. En wie weet, dalk met dit wat hierdie week uitspeel, kan Zelda vir Gys (Justin Strydom) terugwen. Dit is as ’n ander vriendin nie eerste haar man afvry nie. Shame, Zelda het omtrent geen vriende of familie oor wie sy kan vertrou nie. Maar is dit nie tog hoe karma werk nie?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Wat het arme Lee-Ann (Portia Joel) al ooit gesondig om haar huidige situasie te verdien? As ek so na Carlo (Jadon Booysen) se gedrag kyk, is dit genoeg om my van enige ouerskapplanne te laat afsien. Om ’n ouer te wees, is glad nie speletjies nie!
Tot nou toe was ek nog aan Carlo se kant, maar hierdie week vat hy dinge darem te ver. Ek sou presies soos Wade (Dean Smith) reageer as my kind ooit so iets moes probeer. En dan verbeel Carlo hom nog dat hy ’n big deal is! Dit is hoekom kinders nie te veel geld moet hê nie, want anders probeer hulle sulke dinge doen. Imagine! Wie sou kon raai dat die bedagsame Carlo in só ’n tiener-nagmerrie sou verander? Wel, los hom meer met oom Zimpie (Irvine van der Merwe) en dan kyk ons hoe hy uitdraai. Ongelukkig is Carlo nie net ’n teleurstelling vir sy familie en vriende nie – arme Frankie (Mienke Ehlers) se geduld raak ook nou op.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
Van vyande na lovers?! Julle gaan nie glo wie vir wie hierdie week verneuk nie! Dit is ’n groot gemors wat meer as een verhouding gaan beïnvloed. Gelukkig is die mense van Binneland-hospitaal al teen dié tyd gewoond aan love triangles, maar dit beteken nie dat hulle jou nie gaan oordeel nie. Hierdie drie het dan nou net besties geword en kyk nou! Dit is juis danksy ’n love triangle dat Conrad (Hykie Berg) en Max (Kevin Smith) hulself ook nou in ’n ongemaklike situasie bevind. Hulle kry ’n nuwe ontvangsdame en sy is allermins die droomkandidaat… Wag tot julle sien wie dit is! Daar is wel een persoon wat bly is oor haar terugkeer en dit is Joe (Roberto Kyle).
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.