Terwyl iemand hul onderduimsheid in ‘Binnelanders‘ probeer wegsteek, staan iemand anders op die punt om ’n belangrike familielid in ‘Suidooster’ te verloor. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek in ons sepies uitspeel.
Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (21 tot 25 Julie) in Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Suidooster
Sal daar ooit ’n maand verbygaan sonder dat die Samsodien-familie hulself in die moeilikheid bevind? Lyk my Bennie (Richard September) het dié keer te ver gegaan met sy sê-goed, want dit laat Kaashifa (Jawaahier Petersen) drastiese besluite neem. Ons almal weet mos Kaashi dink nie voor sy iets doen nie. Sy was nog altyd vinnig op haar perdjie! Ja, ons almal weet Rhafiek (Irshaad Ally) kan soms baie dramaties wees en te vinnig praat of reageer, maar hierdie keer staan ek bankvas agter Fiekie. Hoe kan Kaashifa so iets wil doen en dan verwag dat almal net by haar planne gaan inval? Sy is mos lekker laf!
Al is Nazeem (Irvine van der Merwe) se raad nie altyd van die beste nie, sou ek hierdie keer na hom luister. Kaashifa is nou wel die ma van Rhafiek se kind en hy is nog lief vir haar, maar wat sy nou vra is darem te belaglik. En om eerlik te wees, het sy nie eens gevra nie, sy sê sommer net dat dít is hoe dit gaan wees. Dit sou enige persoon se bloeddruk opstoot en nou moet sy maar met die gevolge lewe. Ek sien net een uitweg vir Fiekie en ek hoop hy luister na Nazeem.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
As daar nou een persoon is wat weet hoe om ’n gat vir haarself te grawe, is dit Delia (Odelle de Wet). Vir ’n uitvoerende hoof en slim vrou, maak sy darem dom foute! Amor (Laura-Lee Mostert) bring haar troefkaarte hierdie week uit en dit dwing vir Delia om ook haar eie troefkaart te speel. Maar nie almal val vir Delia se verskonings nie. Ek moet sê dit was nogal die eerste slim besluit wat sy in ’n lang tyd geneem het. Maar gaan dit haar gat en reputasie kan red? Of is dít eintlik die finale spyker in haar kis?
Dit kan nog enige kant toe swaai, maar na DAAI verdoemende e-pos blaps, gaan ek my geld daarop sit en raai dat dit ’n groot wonderwerk gaan vat om haar te kan red. Maar wie weet? Delia vind altyd ’n uitweg! En dalk is haar reputasie binne die familie nou al soveel beter dat hulle haar ook red, want die groot hond is nou op haar spoor.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Skemergrond
Dit vrot ook orals in sepieland dié week! Dit is veral toksies verby in Gemoedsdrift danksy twee ou gesigte wat die gemeente warm onder die kraag het. Wel, dít en die nuwe dominee se onkonvensionele manier van dinge doen…
Ek moet sê ek geniet hom vreeslik baie, veral met die reaksies wat hy uit die kerk-anties ontlok. Hy is beslis nie jou gewone dominee nie, maar soms kort ’n mens iets nuuts en opwindend. Die Here weet Gemoedsdrift het verandering en gebed nodig vir al die sondes en skandale wat daardie ou dorpie tref.
Iemand wat onder hul oë wegkruip, word ook dié week gevind en julle gaan nie glo wie dit is nie. Ek het ’n traan gepik vir hierdie reünie, al het dit die res van die dorp op hol gehad. Gaan hy wegstap? Of is dit hoe sy storie eindig?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.