Menu terloops
In Lysie-lysie [12 Mar 2025]

12 onvergeetlike sepietroues, kinkels en al


Van Janice en Lionel se pragtroue in ‘Arendsvlei’, tot Susan en Elana se samekoms op ‘Suidooster’ – sepietroues is altyd propvol verrassings. Hier is 12 sepietroues wat kykers allermins vir net die ‘I do’s’ sal onthou.  

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
12 onvergeetlike sepietroues, kinkels en al

Ons love ’n sepietroue. En as dié liefdesvierings in dramatiese ekstravaganzas vol skokkenke kinkels ontaard? Nog beter! Gloria (Hunter Plaatjies) en Beeno (Duncan Johnson) se troue hierdie week in Skemergrond is dus soos TV-poeding. 

Op die oog af is dit ’n luukse viering op Everlasting, maar agter die glans is dit eintlik ’n sting-operasie om Beeno, die dwelmbaas wat die Gemoedsdrift-gemeenskap ontwrig, vas te trek. Terwyl kykers hulself voorberei vir die chaos wat voorlê, kyk ons terug na 12 van die mees onvergeetlike sepietroues – sommige wat verwagtinge op ’n pragtige manier oortref het, en ander wat geheel en al ontspoor het.

1

Bianca se troue eindig in tragedie (Suidooster)

Bianca (Simone Biscombe) se troue moes ’n nuwe begin wees, maar om met haar voormalige ontvoerder te trou, het dodelike gevolge gehad. Net toe sy haar beloftes wou aflê, het haar geliefde stiefpa, AB (Cedwyn Joel), ’n noodlottige koeël gevat wat eintlik vir haar bruidegom bedoel was. Hierdie tragiese oomblik het kykers se harte gebreek. Dit het die troue as een van die skokkendste oomblikke in Suidooster se geskiedenis vasgelê.

Simone Biscombe en Evan Hengst in Suidooster.
Simone Biscombe en Evan Hengst in Suidooster… kort voordat hul karakters se troue in chaos gedompel is. Foto: Verskaf
2

Ayesha en Langes se trouplanne (Arendsvlei)

Ayesha (Megan Saayman) en Langes (Bobby Stuurman) was gereed om te trou, maar hul trouplanne is in chaos gedompel. Onverwagte struikelblokke het hul sprokieshuwelik vertraag en kykers laat wonder of hulle ooit by die kansel gaan uitkom. Uiteindelik het hulle wel tydens ’n uitspattige tradisionele Moslem-seremonie getrou. Maar hul huwelik het nie lank gehou nie en geëindig toe Ayesha vermoor is.

Arendsvlei, sepietroue
Ayesha het asems weggeslaan op haar en Whalied (Langes) se troudag. Foto: Skermgreep
3

Janice en Lionel se pragtige viering (Arendsvlei)

Janice (wyle Crystal-Donna Roberts) en Lionel (Jody Abrahams) se troue was ’n hartverwarmende oomblik wat gewys het dat liefde enige struikelblok kan oorwin. In ’n romantiese wending het hulle kykers met ’n surprise troue bederf. Die boheemse tema en seremonie, wat oor twee dae buite die pragtige Stellenbosch verfilm is, het ’n unieke flair aan die program gegee. Só ook het dit vir kykers herinner hoekom hulle al van die begin af so bankvas agter hierdie paartjie gestaan het.  

Arendsvlei
Janice (wyle Crystal-Donna Roberts) en Lionel (Jody Abrahams) se sprokiestroue het harte vermurwe. Foto: Verskaf
4

Carmen en Rhafiek se mylpaal (Suidooster)

Carmen en Rhafiek se verhouding het ’n paar struikelblokke oorkom, en hul groot dag het bewys die liefde kan alles oorwin. Toe die bruid enkele ure voor die troue nog skoonveld is, is gevrees sy het die hasepad gekies . . . Gelukkig het die rebelse Carmen Fourie, nadat haar motor onklaar geraak het, tot almal se verligting op die nippertjie opgedaag vir haar groot dag. Die tema van die troue was harmonie en vermenging en Suidooster wou wys dat die twee families ondanks hul verskille kan saamsmelt en gelukkig wees. Rhafiek het die huwelik ingevolge die Moslemgebruik voltrek voor ’n imam en mansgetuies. Ongelukkig het dié huwelik later dramaties verbrokkel… 

5

Alexa en Fikani se droomtroue (7de Laan)

Alexa (Carina Nel) en Fikani (Nicholas Nkuna) het verskeie uitdagings oorkom om uiteindelik hul droomtroue te hê. Hierdie geliefde paartjie het in Julie 2021 eers Fikani se wortels eerbiedig met ’n tradisionele troue en daarna ’n Westerse seremonie gehad wat kykers reg oor die land bekoor het.

6

Tracy en Tertuis se gelukkige huwelik (Binnelanders)

Vir ’n slag het Binnelanders vir kykers ’n sepietroue sonder drama gegee. Tracy (Melinda Viljoen) en Tertuis (Reynard Hugo) se troue was ’n roerende en vreugdevolle geleentheid wat bewys het dat liefde sonder drama kan seëvier in sepieland. Maar net soms.

sepietroues, binnelanders, sepies
Uiteindelik saam! Foto: Skermgreep
7

Susan en Elana maak geskiedenis (Suidooster)

Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther von Waltsleben) se troue was ’n baanbrekende oomblik vir Suidooster, aangesien dit die eerste lesbiese troue in Suid-Afrikaanse sepiegeskiedenis was. Alhoewel hul eerste huwelik en aanvanklike verhouding nie gehou het nie, was hul tweede troue steeds ’n historiese en inspirerende TV-oomblik.

8

Charmaine en Neville se raaiselagtige amper-troue (7de Laan)

Charmaine (Vinette Ebrahim) en Neville (Zane Meas) was vir jare ’n gunsteling-paartjie, maar hul troue was vol last minute surprises. Die seremonie is nooit voltooi soos beplan nie, en kykers is met ’n emosionele raaisel gelaat. Dít is maar hoe meeste van hul verhouding voor kykers se oë oor die jare ontvou het. Die een raaisel na die ander… 

9

Zelda en Gys se trouprobleme (Diepe Waters)

Nog onlangs was Zelda (Sandi Schultz) en Gys (Justin Strydom) op pad na hul pragtige troue. Geheime uit die verlede en onverwagte gebeure het egter hul spesiale dag laat sneuwel. Hul troue het ’n toets vir hul verhouding geword, maar ongelukkig kon hul liefde nie die leuens oorleef nie.

10

Zee en dr. Sudesh se spesiale dag (7de Laan)

In November 2023 het 7de Laan geskiedenis gemaak met sy eerste gay-huwelik tussen Zakhele ‘Zee’ (Ray Neo Buso) en dr. Sudesh Reddy (Kyle Clark). Hierdie mylpaal-episode is geprys vir sy verteenwoordiging en emosionele diepte. Al het hul verhouding sy op- én af-dae gehad, was hul troue ’n glansryke en vreugdevolle gebeurtenis.

11

Bibi se sprokiestroue (Getroud met Rugby)

In November 2021 het kykers se geliefde Bibi (Stephanie Baartman) en Jordan (Theodore Jantjies) elope om in Kaapstad te trou. Ná hul terugkeer het hulle ’n grootskaalse viering met familie en vriende gehou, wat dit een van die gewildste troues in die reeks gemaak het.

12

Karabo en Tau se troudag (Generations)

Karabo Moroka (Connie Ferguson) en Tau Mogale (Rapulana Seiphemo) se verhouding was een van die mees ikoniese verhoudings in Generations. Kykers het lank vir hul troue gewag! Hoewel dit amper nie gebeur het soos beplan nie, het hulle uiteindelik die knoop deurgehaak in een van die grootste en mees bespreekte troues in plaaslike sepie-geskiedenis.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies