Dit voel asof karakters om elke hoek en draai in ons sepies moet koes om ’n drama-vuishou te mis. Genevieve (Delia Pereira), Nazeem (Irvine van der Merwe), Zoë (Lauren Joseph) en Johan (Liam Bosman) bevind hulself in warm water, met hul sondes wat hulle inhaal. Dit terwyl die liefde tussen JP (Anzio September) en Yvette (Charlene le Roux) blom en Angie die bande met Wade se familie herbou.
Sepies op ons radar die week is Binnelanders, Suidooster en Arendsvlei.
Binnelanders
Ek sou top dollar betaal het om in die vertrek te wees toe Genevieve vir At (Hans Strydom) sien. Dit het gelyk asof haar oë uit haar kop pop. Die uitdrukking op Genevieve se gesig was priceless. At se plan om Genevieve te vang, het stadiger gevat as vleis in ’n pressure cooker, but, oh, the sweet taste of revenge.
Ek kan nie wag om te sien hoe Genevieve haarself uit hierdie een probeer wurm nie. Alle skurke dink mos hulle is untouchable, maar ons weet teen die tyd dat ons sepieskrywers altyd aan ’n epiese downfall werk. Ek hoop Genevieve probeer daar uitstorm en dat Delia (Odelle de Wet) haar met ’n klap in haar spore stop.
Min mense kry die kans om te sien of hoor wat mense regtig van hulle dink. At het die afgelope paar maande baie gesien en gehoor, so ek dink dit sal die mooiste einde wees as hierdie groot drama tot ’n versoening tussen At en Conrad (Hykie Berg) lei. Hopelik sal hulle uiteindelik die strydbyl kan begrawe.
Daar gaan arme Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) se geld en rykdom. Ek wonder wat At vir hulle gaan sê oor die feit dat hulle meeste van sy geld vir liefdadigheid wou gee. Ek dink At gaan met hierdie tweede arm ’n hele paar veranderinge aan sy lewe – en testament – maak.
Kyk Binnelanders op DStv Online.
Suidooster
Ek het nie vir Nazeem as ’n spa-mens gesien nie, maar shame hy probeer regtig aan Zoë bewys dat hy ook fancy kan wees. Lee-Ann (Portia Joel ) is al heel maand uit vir bloed. Sy is soos ’n hond met ’n been; Ruiterbosch se eie Nancy Drew. Jy kan niks van haar af wegsteek nie en ek is hier vir dit.
Ek het die ongemak deur my TV gevoel toe Zoē, soos ’n tiener wie se ma hulle by ’n kêrel se huis betrap het, uit die slaapkamer moes kom. Ek sou net daar van skaamte sterf. Die aarde kon my maar op daardie oomblik insluk en ek glo sy het dieselfde gevoel. Nazeem is natuurlik glad nie gepla nie, want hy wil net hê hulle moet saam wees. Hy glo dat hulle ’n happily ever after gaan hê! Kan iemand vir Nazeem gou wakker klap, want hy droom beslis. Bridgette (Denise Newman) sal dit nooit toelaat nie.
Ten minste is daar goeie nuus: Wade en Angie is weer saam en sy familie ondersteun hulle dié keer. Ty (Maurice Paige) het glad vir Angie betaal omdat sy na Carlo gekyk het. Ek wonder nog of dit werklik ’n goeie ding is…
Kyk Suidooster op DStv Online.
Arendsvlei
Praat van voor op die wa wees… Eers soek Anthony familie en nou soek hy aandele in die skool. Ek sou, nes Beatrice (Jolene Martin), vir hom ’n mondvol gegee het. Ek kan nog nie agter die kap van die byl kom nie, maar dis duidelik hy voer iets in die mou. Die liefde van sy lewe is ook nie onskuldig nie, want dit lyk vir my sy is die een met die planne. Ek is al siek van in haar suur gesig vaskyk. Ek hoop hulle vind uit wat sy planne is voordat hy die aandele kry. Niemand luister ook vir Beaty nie – al is sy altyd reg!
Intussen kan jy met Yvette en JP toor. Dié twee is smoorverlief en ek love dit vir Yvette. Sy verdien ’n prins ná al haar hartseer, ek hoop net JP gaan nie haar hart breek nie.
Kyk Arendsvlei op DStv Online.