Menu terloops
In Sepies [25 Jul 2022]

Sepies: Is ’n lewe agter tralies nou Ingrid se voorland op ‘Arendsvlei’?


…Of gaan sy haarself wéér uit die moeilikheid kan wurm? Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Is ’n lewe agter tralies nou Ingrid se voorland op ‘Arendsvlei’?

Wraak, verkeerde besluite en slegte nuus het verlede week onmin in sepieland gesaai. Die winde waai woes in Suidooster, Arendsvlei en Binnelanders – maar dis hoe ons daarvan hou!

Arendsvlei

Ai, ek is seker julle is al moeg daarvan om na my vendetta teen die “geliefde” suster Ingrid (Rehane Abrahams) te luister, maar ek het laaaaank gewag om dié TV-skurk agter tralies te sien. Ek het al begin twyfel of die dag ooit sou kom. Maar soos die Engelse sê: Good things come to those who wait.

Toe Debra (Kay Smith) ná haar oupa se dood die stukke bymekaar begin sit, is die waarheid met poëtiese geregtigheid geopenbaar. Ek wou verlede week nie ’n episode mis nie. Ek kon skaars 24 uur wag om die volgende episode te kyk. Met elke leidraad en bewys wat gevind is, is die spanning verder opgebou. Ek was teen Woensdag so bang dat Beatrice (Jolene Martin) of Auntie Gertie (Celeste Matthews) self vir Ingrid sou konfronteer of selfs vir haar met hul kaal hande te lyf gaan. Dit sou definitief ’n anti-klimaks gewees het as sy sou sterf. Dit is dan so lekker om vir Ingrid kwaad en opgewerk te sien. Sy dink steeds sy gaan met hierdie moorde wegkom. Sy weet immers nog nie dat haar pa op sy sterfbed soos ’n kanarie gesing het nie.

Beatrice het gelyk sy kan iets oorkom toe Debra en Janice (Crystal-Donna Roberts) vir hulle vertel van Dawid (Oscar Petersen) se bobeen wat soos ’n trofee in ’n glasraam geplaas is. Nee kyk, Ingrid is soos Thys (Sherman Pharo) gesê het, “een siek persoon”! Om iemand te vermoor is een ding, maar om iets van daardie persoon as ’n trofeetjie te hou, is iets uit ’n true crime dokkie.

Minstens het die skille uiteindelik ook van Angel (Chelsea-Faith Thomas) se oë afgeval. Sy het mos vir Ingrid op die foon gehoor praat met haar ma, wat ook ’n misdadiger is. Angel kan gelukkig wees dat die polisie by die boksklub aangekom het voordat sy die bom laat bars het. Sy kon dalk net Ingrid se volgende slagoffer gewees het. Sy het Ingrid vrygespring, maar ek wonder of Angel dié keer suksesvol van haar man sal kan vlug. Verlede keer het haar kar mos gaan staan toe sy deur die bosse gery het om Joburg toe te gaan. Hopelik bly sy die keer op die N1. En as sy in die moeilikheid beland sal sy hopelik vir Daniel (Cantona James) eerste bel. Nou dat hy weet daar is nie meer ’n baba nie, gaan Daniel nie sommer weer vir Angel aan haar eie genade oorlaat nie.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Suidooster

Ruiterbosch se grootste skurk is ook weer besig met skelmstreke. Ai, ek wens Wade (Dean Smith) wil ’n slag na sy broer luister in plaas van sy over the top-meisie, Angie (Char Carrie). Ty (Maurice Paige) gaan ’n aar bars as hy uitvind dat Wade geld by Nazeem (Irvine van der Merwe) geleen het.

Ons almal wil iemand hê wat by ons staan en in ons glo, maar Angie help hom net van die wal af tot in die sloot. Wade se skuld raak net meer. Ek wil amper nie eens kyk wat dié week op hom wag nie. Veral as hy sy eerste paaiement aan Nazeem mis nie… Nes Dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) in Binnelanders, leer Wade nooit uit sy foute nie.

Kyk Suidooster op DStv Online.

Binnelanders

Annelize en Conrad (Hykie Berg) het verlede week die strydbyl begrawe… Maar sy is reeds besig om weer agter sy rug te konkel. Plaas sy vir hom inlig, maar Annelize kan soos Wade haarself net nie help nie. Ek hoop hulle albei begin vir ’n slag luister en oop kaarte speel.

Kyk Binnelanders op DStv Online

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies