Soos die true crime-genre se gewildheid aanhou toeneem, raak gru-vrate se kykspyskaart ook al langer.
Kyk maar net na die sukses van Showmax se dokkiereeks Devilsdorp. Ja, daar was baie kinkels, drama en die storie was buitegewoon bisar, maar dit het ook gebaat by ’n wêreldwye beheptheid met ware lewensdramas wat al meer lugtyd op die kassie kry. Soos die een gruwel na die ander voor ons afspeel, raak dit moeiliker om weg te kyk.
Showmax het intussen ook The Illuminated vrygestel, ’n ondersoekende dokumentêre reeks wat kyk na Suid-Afrikaanse godsdiensbewegings wat buite die hoofstroom val, asook hoe ekstreme godsdienstige oortuigings mense kan dryf om afgryslike dade – soos moord – te pleeg.
Kyk dié en ander stories (die lys is ’n kombinasie van dokkie-reekse en -flieks, realiteitsreekse, en fiksie) wat diep die donker in delf:
The Illuminated, ’n nuwe ondersoekende dokumentêre reeks op Showmax, kyk na Suid-Afrikaanse godsdiensbewegings wat buite die hoofstroom val. Dit sluit onderhoude met kundiges, leiers, oud-lede, nuwe voorstanders, asook teenstanders van dié groepe in. Só probeer die vervaardigers om in elke episode ’n insider-siening, ’n koekeloer agter die gordyn, te gee.
Terwyl die eerste episode handel oor Israel-visie, fokus die daaropeenvolgende episodes op The Church of Scientology; die Christ in Me International Collective; netwerkbemarkingsondernemings en korporatiewe transformasie-afrigtinginisiatiewe wat sekere ooreenkomste met godsdiensgroepe het; KwaSizabantu; nuwe evangeliese kerke; Mancoba Seven Angels Ministries; en The Fellowship in Hermanus. Daar word ook gekyk na hoe ekstreme godsdienstige oortuigings mense kan dryf om afgryslike dade te pleeg – soos die moord van die Lotter-egpaar deur hul kinders, Nicolette en Hardus.
Boetie Boer, Inside The Mind Of A Monster is ‘n ware misdaad-dokkiereeks op Showmax waarin die reeksmoordenaar Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken oor sy grudade vertel. Dit neem kykers terug in tyd na 1990 toe Wilken sy moordtog in Port Elizabeth, nou Gqeberha begin het. Soos die joernalis Brett Adkins in die lokprent sê: “Toe hy in hegtenis geneem is, het dit geklink soos iets uit ‘n fliek. Skielik het ons ’n reeksmoordenaar gehad.”
In die vyfdelige dokkiereeks bespreek Wilken openlik sy misdade met dr. Gérard Labuschagne, die voormalige afdelingshoof van die polisie se ondersoekende sielkunde-afdeling.
Buiten Wilken se weergawe van gebeure is daar ook verskeie onderhoude met onder andere sy kinders, Sonika en Sergius, die familie van een van die slagoffers, asook sers. Ursula Barnard van die polisie se kinderbeskermingseenheid, en sers. Derick Nosworthy van die moord-en-roof-eenheid wat albei sleutelrolle in Wilken se vervolging gespeel het.
In dié Showmax-dokumentêre prent word die moorde van hoërskoolleerders Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) ondersoek. Albei was leerders aan die Hoërskool Stella in Noordwes. Die twee meisies is op Saterdagoggend, 26 Mei 2018, dood in hul koshuis aangetref. Terwyl Marna in ’n badkamer gevind is, is Sharnelle opgehang by die trap gevind.
Stella Murders se regie is deur David Enright en die vervaardiging deur IdeaCandy. IdeaCandy is ook die span wat die trefferreeks Devilsdorp geskep het.
Stella Murders sluit onderhoude met Ronnie en Sonja Hough, Sharnelle se ouers, in. Só ook met Stefaans, Rianet, en Riané Engelbrecht, Marna se pa, ma en suster. Kapt. Zagaries Human, die stasiebevelvoerder van die Stella-polisiekantoor, kapt. Markus Ferreira, die ondersoekbeampte, private speurder Chris Saunders en die voormalige staatsadvokaat Johan Smit vertel ook oor hul rol in die ondersoek. Die joernalis Marizka Coetzer wat ons ook in Devilsdorp gesien het, praat oor haar beriggewing oor die saak vir Huisgenoot.
Rosemary’s Hitlist is Showmax se nuwe ware misdaad-dokkiereeks met die fokus op Nomia Rosemary Ndlovu.
Dié oudpolisielid het tussen 2012 en 2018 sluipmoorde op haar kêrel en vyf van haar familielede (onder andere haar suster) laat uitvoer om die voordele van hul lewenspolisse te bekom. Rosemary is uiteindelik in 2021 skuldig bevind en lewenslange tronkstraf vir elk van die moorde opgelê.
Devilsdorp, Showmax se eerste oorspronklike ware misdaaddrama, is ’n angswekkende blik op die invloed – en gevaar – van charismatiese leiers.
Devilsdorp se lof is wyd besing. Kykers en kritici is dit eens dat die storie, met wilde kinkels en heel paar absurde draaie, ’n uitmuntende vertelling is van ’n reeks wrede moorde in Krugersdorp. Dit speel tussen 2008 en 2019 in Krugersdorp af en draai om ’n kultusleier, Cecilia Steyn, wat as ’n meester-manipuleerder haar volgelinge oortuig het om namens haar 11 mense te vermoor. Christenskap en satanisme word teen mekaar afgespeel. Ons ontmoet ook die familielede wat ná hul geliefdes se moorde deur Steyn se kultusgroep, Electus per Deus (Uitverkies deur God), sukkel om tot verhaal te kom.
Die reeks, wat vier episodes uitmaak, is volgens die regisseur, David Enright, ’n “verhaal van ’n gemeenskap wat geruk is.
“Wat begin het as ’n groep toegewyde Christene wat ’n voormalige satanis uit ’n sataniese kerk wou help ontsnap, het geëindig in ’n moordtog waarby ’n ma, haar twee kinders en ’n kultus met meer slagoffers as lede, betrokke was.”
Benewens buitengewone beeldmateriaal van sogenaamde duiweluitdrywings, kerkvergaderings en hofgetuienis en regsuitsprake, deel Devilsdorp ook die verslae van die senior ondersoekbeampte, kapt. Ben Booysen, die adjunkdirekteur van openbare vervolging, Gerrit Roberts, Shane Chatzkelowitz, ’n eis-spesialis van Discovery, asook die verslaggewing van die joernalis Marizka Coetzer. Jana Marx, ’n Netwerk24-joernalis en die skrywer van The Krugersdorp Cult Killings: Inside Cecilia Steyn’s Reign of Terror, dien as die reeks se verteller.
Die Byl S1-5
Speurder Piet van der Bijl (Waldemar Schultz) en sy span maak jag op reeksmoordenaars in die briljante senutergende misdaaddrama Die Byl.
Die reeks is geskoei op die ware loopbaan van sekerlik die bekendste speurder in Suid-Afrika, Piet Byleveld. Byleveld het glo ’n 99%-sukseskoers oor sy 38 jaar diens in die Suid-Afrikaanse polisiediens gehad. In Die Byl word die titelkarakter as ’n ewe suksesvolle, selfs briljante, speurder uitgebeeld.
In al vyf seisoene van die reeks tot dusver sien ons hoe Bijl, oftewel Die Byl, hoëprofielsake ondersoek om reeksmoordenaars te laat boet. (Kyk hier na ons lys van die boosaardigste, gruwelikste moordenaars op die reeks.)
Buiten Schultz, sluit die rolverdeling ook vir Lika Berning, Marvin-Lee Beukes, Amalia Uys, en Milan Murray in. Deon Lotz, Marius Weyers en Sean Cameron Michael is onder die akteurs wat in gasrolle verskyn.
Binge die eerste vier seisoene op Showmax. Die vyfde seisoen word tans op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai en is ook op Catch Up beskikbaar.
Pulse is ’n Showmax-gruwelreeks wat oor ses episodes strek.
In Pulse is oorlewing allesbehalwe ’n speletjie as ’n groep videospeletjieskeppers deur elektromagnetiese strale getref word en binne hul eie game in ’n stryd tussen lewe en dood vasgevang word.
Projek Dina se gedugte taakspan werp alles in die stryd om vermiste persone op te spoor. Die reeks is gegrond op ware gebeure. Skepper Roberta Durrant se dogters is jare gelede amper ontvoer. Dis ’n senutergende drama, versadig en dik van emosie en trauma.
Stroom die eerste twee seisoene op Showmax. Die derde seisoen is onlangs op DStv uitgesaai en behoort eersdaags op Showmax beskikbaar te wees.
Hoewel Donkerbos nie ’n realiteitsreeks of dokumentêre reeks is nie, beteken dit nie dat die fiktiewe aard van die storie minder realisties ten opsigte van die Suid-Afrikaanse realiteit is nie.
Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo. Erica Wessels (van Dwaalster en I Am All Girls) vertolk die hoofrol. Sy speel Fanie van Wyk, ’n speurder met ’n donker verlede wat dié saak moet ontsyfer.
Die reeks is deur die bekroonde storieverteller Nico Scheepers geskryf en geregisseer. Scheepers is ook vir sy magiese werk op Nêrens, Noord-Kaap bekend.
Dit spog ook met ’n sterbelaaide rolverdeling wat buiten Wessels ook bekroonde akteurs soos Wilhelm van der Walt, Stian Bam, Jacques Bessenger, Nicole Holm, Leandi du Randt en Nicola Hanekom insluit.
Wild Wild Country
Dié reeks met ses episodes draai om die omstrede Indiese ghoeroe Bhagwan Shree Rajneesh (Osho), sy voormalige persoonlike assistent Ma Anand Sheela, en hul volgelinge in die Rajneeshpuram-gemeenskap in Oregon, VSA, wat in die vroeë 1980’s gestig is.
Osho het Sheela later summier onder die bus gegooi vir ’n reeks ernstige misdade. Hy is gedeporteer en in 1986 het sy skuld beken op poging tot moord, asook aanranding vir haar rol in die Rajneeshee-terreuraanval in 1984.
Sheela se eie verhaal is ewe boeiend. Die dokumentêr film Searching For Sheela wat vroeër vanjaar uitgereik is, volg haar eerste reis huis toe na Indië in meer as 30 jaar.
Wild Wild Country het in 2018 ’n Emmy-toekenning vir beste dokumentêre prent of nie-fiksie reeks ingepalm. Dit het wel onder kritiek deurgeloop dat dit té saggies met van die bewerings teen die groep en sy praktyke, waaronder seksuele aanranding van vroue en kinders, omgegaan het.
Op Netflix beskikbaar.
In Strangers You Know, ’n ware misdaad-dokkiereeks deur Carte Blanche se vervaardigingspan, kom van Suid-Afrika se gruwelikste moordsake weer onder die loep.
Nie vir swak mae nie.
Beskikbaar op Showmax om te stroom.
The Vow S1-2
Baie kultusse het hul oorsprong in die een of ander godsdiens, óf godsdiens word as ’n vorm van beheer uitgebuit. Maar dit is nie altyd die geval nie. The Vow volg die storie van ’n sogenaamde selfverbeteringsgroep – NXIVM – en hoe dit in ’n kultus-nagmeerrie ontaard het. Die leier, Keith Raniere, is onlangs aan onder meer sekshandel skuldig bevind, maar dis betrokkenheid van die aktrise van die destydse tienerreeks Smallville, Allison Mack, wat veral die media se aandag (steeds) trek.
Albei seisoene is op Showmax beskikbaar om te stroom.
Dr. Death is ’n prysenswaardige blik op hoe iemand, vir hopeloos te lank, toegelaat word om met dodelike dade weg te kom.
Die reeks is, soos die gelyknamige podcast wat dit voorafgegaan het, gegrond op ware gebeure. Hier word dit binne ’n fiktiewe arena geplaas met nougesette, meevoerende vertolkings, onder andere deur Joshua Jackson as die “Dr. Death” van die titel, oftewel dr. Christopher Duntsch. Alec Baldwin en Christian Slater vertolk die dokters Robert Henderson en Randall Kirby.
Duntsch glo nie die reëls geld nie vir hom nie. Met sonderlinge arrogansie bars hy deur die lewe, dikwels vergesel met die bloedspoor van die een of ander pasiënt.
Dit was Henderson en Kirby wat eerste onraad vermoed het nadat Henderson ingeroep is ná een van Duntsch se operasies erg skeefgeloop het. Dit het gou duidelik geword dat dit beslis nie die eerste verbroude operasie was nie. Trouens, hoe meer vrae hulle gevra het, hoe nader het die hele situasie aan waansin gegrens.
Beskikbaar op Showmax om te stroom.
Pray Away
Onder die vele gruweldade wat in die naam van “God” gepleeg word, het sogenaamde “bekeringsterapie” ’n besonderse afgryslike geskiedenis. Die titel verwys na wat as “bid die gay weg”-terapie” bekend is. Dit maak deel uit van ’n klomp gevaarlike en gediskrediteerde praktyke wat valslik voorhou dat dit iemand se seksuele oriëntasie, geslagsidentiteit of -uitdrukking kan verander, aldus die Menseregtekommissie.
“Sulke praktyke word al dekades lank deur alle algemene mediese en geestesgesondheidsorganisasies verwerp, maar as gevolg van voortdurende diskriminasie en maatskaplike vooroordeel teenoor LGBTQ-mense, gaan sommige terapeute steeds voort daarmee. Minderjariges is veral kwesbaar, en dit kan lei tot depressie, angs, dwelmgebruik, haweloosheid en selfdood.”
In hierdie dokumentêre prent, met Ryan Murphy van American Horror Story-faam as uitvoerende vervaardiger, hoor ons van oorlewendes en voormalige leiers wat gebreinspoel is om hierdie barbaarse praktyk te beoefen.
“Geen geweld is sterker en makliker om teen iemand te gebruik as geloof nie. In hierdie geval fokus Pray Away op Christen-boodskappers wat voorheen predikings en idees vir gay-bekeringsterapie voorgehou het, en verskillende organisasies met hul vernietigende, heteronormatiewe idee van familie, geloof en vryheid gelei het, volgens die resensiewerf, rogerebert.com.
Beskikbaar op Netflix.
Catch Me A Killer is ’n rillende misdaadreeks op Showmax wat draai om Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profiler, Micki Pistorius. Die rol van Micki word deur Charlotte Hope, bekend vir haar rolle as Myranda in Game of Thrones en as Catherine van Aragon in The Spanish Princess, vertolk.
Die reeks is gegrond op Micki se gelyknamige memoires, en sien hoe dié forensiese sielkundige oor die loop van tien episodes op Suid-Afrika se mees gevreesde moordenaars jag maak. Elke episode fokus op een van die ondersoeke waarop sy gewerk het – insluitend die sogenaamde Cleveland Killer-saak en die bloedspoor wat Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken, agtergelaat het.
Lees ook ons onderhoud met Charlotte.
Die geheimsinnige dood van ’n skoolmeisie by ’n elite kosskool is net die begin van ’n desperate soektog na die waarheid. Dit blyk almal het iets om weg te steek in hierdie aangrypende Suid-Afrikaanse drama met Jane de Wet, Shamilla Miller en Nina Milner in die rolverdeling.
Op Showmax beskikbaar.
Lea Vivier vertolk die hoofrol in regisseur Alex Yazbek se sielkundige riller, DAM, op Showmax. In die eerste seisoen ontmoet ons Vivier as Yola Fischer. Sy is ’n jong vrou wat vanaf Chili na haar klein tuisdorp in die Oos-Kaap terugkeer om haar vervreemde pa te begrawe. Dis dan wanneer haar duistere verlede haar inhaal. Dis asof die plaashuis wat sy, tot haar suster se ontsteltenis, van haar pa erf, met haar probeer praat. Amper asof dit geheime met haar wil deel. Soos die onderskeid tussen wat werklik is en wat nie begin verdof, moet Yola haar grootwordjare opnuut in oënskou neem.
Die tweede seisoen tel die drade van die storie sowat drie maande ná die Lentefees op. Dit lyk of die kultus se rituele offer gewerk het: reën het immers geval en die land vernuwe. Maar Yola onthou niks sedert sy van haar pa se begrafnis teruggekeer het nie…
Nog gril- en ril-kykstof:
Nog lysies
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →