Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir April 2024.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Plaasjapie S2
Die reeks saai weekliks op Donderdae vanaf 18 April 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit. Dit sal ook op DStv Stream en DStv Catch Up beskikbaar wees. Hou dop vir ons weeklikse recaps wat ons omstreeks 21:00 op Donderdae publiseer.
Die tweede seisoen van Plaasjapie, waar 16 betreklike rou stadsjapies meeding om prysgeld van R1 miljoen te wen, keer terug na die kleinkassie met Ewan Strydom wat weer die aanbiederrol volstaan.
Die deelnemers, wat van so ver as Piet Retief en Windhoek kom, sal moet wys dat hulle kan boer sonder die gebruik van moderne tegnologie.
Lees meer oor al die deelnemers in dié artikel.
Scoop
Vanaf 5 April 2024 op Netflix beskikbaar.
In my oë kan Gillian Anderson nie ’n voet verkeerd sit as sy eers in ’n karakter geklim het nie. Sy was manjifiek in The Crown terwyl sy in Sex Education ewe vaardig ’n heeltemal ander kleed aangetrek het. Daar’s nog baie ander rolle wat ek kan lys (wie kan The X-Files of The Fall dan nou vergeet?), maar dis veral in haar nuutste, Scoop, wat sy aan ’n sousige stuk vleis kou.
Dié Netflix-fliek is gegrond die werklike gebeure wat aanleiding gegee het tot BBC Newsnight se berugte onderhoud met Prins Andrew oor sy hegte vriendskap met die veroordeelde Amerikaanse seksoortreder Jeffrey Epstein.
Dié vertelling sluit alles – met rolling senutergende tonele – in. Van die Newsnight-span se onderhandelinge met Buckingham-paleis tot die uiteindelike, verstommende onderhoud wat die joernalis Emily Maitlis (Anderson) met die prins gevoer het.
Rufus Sewell (The Diplomat) vertolk Prins Andrew met ook onder andere Billie Piper (Penny Dreadful) en Keeley Hawes (Line of Duty) in die rolverdeling.
True Detective: Night Country
Vanaf 22 April 2024 op Showmax beskikbaar.
Met die aanvang van die lang winternag in Ennis, Alaska, is daar goeie rede om die donker te vrees as al agt mans wat ’n navorsingseenheid daar lei, spoorloos verdwyn.
Om die saak op te los, moet speurders Liz Danvers (tweemalige Oscar-wenner Jodie Foster) en Evangeline Navarro (Kali Reis) nie net waarhede onder die ys probeer uitgrawe nie, maar ook hul eie geraamtes konfronteer.
Night Country is tot dusver die mees gekykte seisoen van True Detective, sowel as die seisoen wat die beste deur kritici ontvang is met ’n punt van 92% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes.
Die kritici se konsensus lui: “Angswekkend atmosferies en geanker deur Jodie Foster en Kali Reis se uitstekende vertolkings; Night Country is ’n vars en ysige variasie op True Detective se eksistensiële temas.”
The Guardian het dit ’n vyfster-resensie gegee en skryf dat, “ ’’n brandende Jodie Foster maak hierdie reeks beter as ooit tevore.”
Eweneens het The Ringer vir True Detective: Night Country as die “eerste moet-kyk reeks van 2024” bestempel.
Ook deel van die rolverdeling tel die Oscar-benoemde John Hawkes (Winter’s Bone), die Emmy-benoemde Fiona Shaw (Killing Eve, Andor), en die Bafta-benoemde Christopher Eccleston (The Leftovers, Doctor Who).
Colin From Accounts
Reeds beskikbaar op Showmax.
Ons het al vroeër geskryf oor dié reeks toe dit op DStv uitgesaai is, maar nou is dit uiteindelik ook op Showmax beskikbaar. Die komediereeks is geskep en geskryf deur die egpaar Patrick Brammall en Harriet Dyer, wat dan ook die hoofrolle vertolk.
Dit speel af in Sydney, Australië. Dit storie draai om twee enkellopendes, Ashley (Dyer) en Gordon (Brammall), wie se lewens deur ’n motorongeluk – en ’n beseerde hond – omgedolwe en vandaar onlosmaaklik verweef word.
Dalk is dit omdat hulle ook in die “regte lewe” getroud is, maar die chemistry tussen Dyer en Brammall is tasbaar en dra mildelik by tot die lieflikheid van dié moderne romanse. The Times (UK) se Ben Dowell beskryf dit so: “Dit sing sy eie vreemde en bekoorlike liedjie, hoofsaaklik te danke aan ons sentrale paar se fantastiese chemie.”
Curb Your Enthusiasm S12
Vanaf 19 April 2024 op Showmax beskikbaar.
Dié Emmy- en Golden Globe-bekroonde reeks is terug vir sy 12de – en laaste – seisoen en sien weer hoe Seinfeld se medeskepper Larry David ’n oordrewe (en highly inappropriate maar vrek snaakse) weergawe van homself speel. Dié tong-in-die-kies uitbeelding van Larry se fiktiewe lewe is ikonies en wys ook net weer hoe selfs die mees banale goed wat in jou alledaagse lewe gebeur, katastrofiese gevolge kan hê.
Oudergewoonte is dié seisoen, nes al die ander, met slegs toneelopsommings geskiet – dit beteken daar was geen vaste draaiboek nie en wat jy uiteindelik op jou skerm sien, is blote briljante improvisasie.
Die finale seisoen het ’n punt van 95% op Rotten Tomatoes en onder die kameerolle tel Suid-Afrika se Sharlto Copley, Jimmy Kimmel, Bruce Springsteen, Sienna Miller en Dan Levy.
Ook in die rolverdeling is Jeff Garlin (The Goldbergs), Susie Essman (Broad City), Cheryl Hines (Suburgatory), J.B. Smoove (Mapleworth Murders), Ted Danson (The Good Place) en Richard Lewis (Anything But Love) wat onlangs oorlede is.
En nog ’n paar voorstelle…
- Fallout S1, Prime Video vanaf 11 April.
- Vreemder as fiksie, kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Stream en DStv Catch Up vanaf 1 April om 20:00.
- Vrystaatbewoners, kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Catch Up en DStv Stream vanaf 4 April om 21:30.
- Stralend, kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Catch Up en DStv Stream vanaf op 1 April om 21:30.
- Fellow Travelers, Showmax, weeklikse episodes vanaf 26 April.
- Black Ops S1, Showmax, weeklikse episodes vanaf 29 April.
- Resident Alien S3, Showmax, volledige reeks beskikbaar vanaf 16 April.
- Chicago Med S8, Showmax, volledige reeks beskikbaar vanaf 1 April.
- Ten Pound Poms, Showmax, volledige reeks beskikbaar vanaf 1 April.
- Everything I Know About Love, Showmax, volledige reeks beskikbaar vanaf 22 April.
- The Lovers S1, Showmax, volledige reeks beskikbaar vanaf 1 April.