Melissa Myburgh is een van drie aktrises wat die karakter van Mart – elk op ’n ander tydstip in haar lewe – in die TV-verwerking van Marita van der Vyver se boek, Dinge van ʼn kind, vertolk. Sy vertel hoe die boek as’t ware haar “bybel” tydens verfilming geword het.
Hoe het dit gevoel om deel van Dinge van ʼn kind se televisie-verwerking te wees?
“Dit is absoluut onwerklik. Dis iets wat ek self nie lekker in woorde kan sit nie. Hierdie boek het so groot aanhang. Ek het baie hard daaraan gewerk om ware erkenning aan die boek te gee. Ek voel so geëerd om te deel in die ‘lewendig maak’ van die storie.”
Hoe het jy voorberei om Mart te speel en in watter opsig het die boek, jou vertolking beïnvloed?
“Die boek was my bybel. As ek vrae gehad het oor hoe Mart voel, dink of reageer, kon ek die antwoorde in die boek vind.
Marita (van der Vyver, die boek se skrywer) is so goed daarmee om ’n karakter lewendig te laat voel met slegs swart ink op papier. Ek het die boek meer as vier keer deur gelees ter voorbereiding. Ek het die teks ontleed en so meer uitgevind oor Mart se binneste, vreemdste emosies en gedagtes.
Hoe het jou eie hoërskoolervaring verskil (of ooreengestem) met Mart s’n, soos dit in die 70’s vir kykers (en lesers) ontvou?
“Natuurlik het my skoolervaring baie verskil van Mart sʼn, in die sin dat die politieke klimaat van ons grootwordjare soos kaas en komkommer verskil. Maar op ’n persoonlike vlak vind ek baie aanklank by hoe Mart na die lewe kyk as tiener. Sy’s baie cooler as wat ek op skool was, gee baie min om wat mense van haar dink en sê en sy’s ook baie brawer as wat ek as tiener was.
Ek dink hoe tieners in die 70’s grootgemaak is, verskil drasties van vandag, en dit het tog ’n invloed hoe ons hoërskool ervaar. Vir my was hoërskool ’n tyd vir vrae vra en ondersoek instel oor die lewe en die wêreld. Daar is baie meer vir Mart gesê ‘jy dink te veel, jy vra te veel’ en ‘kinders moenie oor sulke dinge wonder nie’.”
Jy en Mienke Ehlers (in die rol van Dalena) deel baie skermtyd – vertel van jul wisselwerking voor die kamera en hoe julle saam aan die Mart/Dalena-dinamika gebou het?
“Ek en Mienke het albei aan die begin van die proses besluit om hierdie projek met oorgawe aan te pak. Ná ons die eerste keer ons kostuums moes gaan pas, het ons ’n ‘vinnige’ koffie gaan gryp en vyf uur later eers huis toe gery. Ons het lang gesprekke gehad oor wat ons elkeen uitgevind het van ons karakters; foonoproepe gehad oor hoe ons voel en waar ons in die proses is.
Ons kom baie goed oor die weg, selfs van die skerm af. Ons woon nou saam in ’n woonstel, so ons natuurlike chemistry het definitief bygedra tot die sukses van die Mart- en Dalena-dinamika.
Maar ja, ons het saam aan hierdie dinamika, stukkie vir stukkie, gebou. Ons was vir die tydperk van die verfilming so na aan mekaar soos Mart en Dalena was. Ons het alles met mekaar gedeel om daardie nabye verhouding te vestig.”
Waarom dink jy is Dinge van ʼn kind vandag steeds relevant vir jonger kykers – tieners en mense in hul twintigs? Hoekom moet mense van jou generasie die reeks kyk?
“Die storie is belangrik op so baie vlakke. Ons almal gaan deur die ontnugtering van grootword. Amper ’n kastrering, waar jy jou onskuld verloor en die wêreld begin sien vir wat dit is. Dis ’n universele ervaring, en ek dink die reeks bied ’n omhelsing vir elke kyker se innerlike kind.
Dis ook ’n fantastiese metafoor vir die politieke toestand van Suid-Afrika in die 70’s. Die wêreld het ook deur die ontnugtering van die verlies van onskuld gegaan. Mense het begin sien wat besig was om te gebeur in die land, die toestand waarin ons mense moes leef as gevolg van die Apartheidswette. So ek dink die storie herinner mense aan waar ons vandaan kom en waarnatoe ons nog werk.”
Het jy dalk ʼn lewensles of twee wat jy wens jy vandag met jou tienerself kon deel?
“Ek sou vir my tienerself sê om nie so hard te werk om te probeer in pas nie. Jy sal jou stem vind, jy sal mense vind wat glo jy’s goed genoeg. Ek sou haar ’n druk gee en sê, moenie te angstig wees oor of jy ’n suksesvolle bydrae tot die samelewing gaan maak nie, geniet net bietjie om jonk te wees.
Soms gaan mense jou probeer afkraak, jou sukses ondermyn, maar moet nooit dat dit jou stop van harder werk nie. Jy is slim genoeg, sterk genoeg, snaaks genoeg, talentvol genoeg.
As jy dit kan droom kan jy dit doen.”
Met watter ander projekte is jy op die oomblik besig?
“Ek het pas ’n produksie by Suidoosterfees gedoen wat ek geskryf en waarvoor ek die regie gedoen het [Melissa is nogal beskeie, want die bekroonde Tinarie van Wyk-Loots het saam met Ben Albertyn die rolle vertolk in haar toneelstuk, Met Liefde, Vincent. Dit was deel van die Nati Rising Stars-program by die Suidoosterfees.]
Ek is tans tussen projekte maar daar is ’n paar moontlike projekte wat voorlê waaroor ek nog nie te veel oor kan sê nie.”
Lees ook ons resensie hier.