In die vorige week se episode van kykNET se Lottoland help ’n dorp het kykers die gasvrye mense van ’n pragtige Vrystaatse dorpie genaamd Smithfield van naderby leer ken.
Klein, ja. Maar Smithfield is tot boordens toe vol met mense wat omgee vir hul dorp en mekaar. En dan is dit ook boonop skatryk aan geskiedenis en fassinerende feite. En moenie vergeet van die inwoners se dryfkrag om die grootste deel van hulle Lottoland help ’n dorp-projek voor die agt weke verby is, af te handel nie.
Dit wil nogal gedoen word, want Marlize Gericke, projekspanlid, het vertel dat min mense bewus was daarvan dat hulle Smithfield ingeskryf het vir Lottoland help ’n dorp. En van diegene wat wel daarvan bewus was, was onseker of hul projek wel die paal gaan haal.
Vir haar was die datum waarop die groen koevertjie oorhandig is, ook baie simbolies. Dit was die einste datum waarop haar pa ’n paar jaar gelede sy 93ste verjaardag gevier het, en dis ook die datum waarop haar ma vermoor is. Beide ouers se as is op die berg agter haar en Koos, projekspanleier, se huis gestrooi. “Dit was of hulle approval gegee het van dit wat ons op hierdie dorp wil doen,” het sy gesê want hulle was ook gemeenskapsmense.

Helpende hande én harte
Lizette Prinsloo van die Tuinbouklub het vertel sy het waargeneem dat al die motors by die kruising in die dorp stop en dat dit juis daarom ’n fokuspunt moes word. Gelukkig is Smithfield oor ryk aan klippe en stompe, en vetplante is net so tuis hier, tot groot vreugde van Lizette Scholtz, ook ’n lid van die Tuinbouklub.
“Sonder hierdie werk kan ons niks maak met die land nie, want sy gaan tot niet nou. Rêrig,” was Charlie Mdliki, kontrakteur, se gevoel. Hy was dankbaar vir die geleenthede wat geskep is om dinge beter te maak. Hy wil net hê as mense nou deur die dorpie ry, moet hulle wéét hulle het deur die pragtige Smithfield gery.
Met die verfwerk wat voorgelê het, was beide Marlize en Koos verstom oor die reaksie. Mense het net opgedaag, en Koos het vertel van ’n oud-Smithfielder wat nou in die Kaap bly – wat Bloemfontein toe gevlieg het om hier handjie te kom bysit.
Dan was daar skenkings, selfs waar mense volgens hom bo hul vermoëns geskenk het.
Reën, stakings – maar niks kan hulle keer!
Daar was baie duwweltjies op die span se pad. Reën vir twee weke aaneen, beskikbaarheid van noodsaaklike voorrade wat lank vat om op die dorp afgelaai te word en dan die kleure op die mure van die geboue in die hoofstraat . . .
Om dit nog verder te kompliseer, was die munisipale werkers toe reeds nege weke lank op ’n staking – en dit was bitter moeilik om toestemmingsbriewe te bekom vir die verwery. Toe kry hulle vir Retshedisitswe Johannes Thulo, die munisipaliteit se speaker, aan hul kant en hy het sake geroer.
Vir Johannes was dit die regte ding om te doen, want volgens hom was een van die belangrikste oogmerke van die munisipaliteit om mense sover te kry om hande te vat. “Alleen kan ons dit nie doen nie.”
En hoe het Deon Pietersen, kontrakteur en gemeenskapslid, oor die projek gevoel? “Elke keer as ek in die huis inkom, dan voel ek tevrede dat ek’n groot verskil vir die dag gemaak het. Dit maak dat ’n man lekker kan slaap en lekker drome kan kry in die aand,” het hy sy bydrae tot Smithfield se transformasie beskryf.
Agt weke later

Die tyd het aangebreek vir Lea en haar Lottoland help ’n dorp-span om weer Smithfield binne te ry. En te stop. En te kyk.
“Ons is pap-tyres, ons is moeg!” het André en Velda Share, projekspanlede, aan Leah erken. Dit was ’n taai agt weke waar daar daagliks gereeld 12 ure aaneen gewerk was. Dan nog die ritte na Aliwal-Noord en Bloemfontein waar nodig om voorraad te bekom.
Deon se glimlag het egter nie vir ’n oomblik verdwyn nie. Vir hom was hierdie projek die beste ervaring ooit en hy het van die uitdagings gehou asook die nuwe vaardighede wat hy bygeleer het.

Koos, met sy Blou Gevaar (soos sy toek-toek nou bekend staan), het vir Leah vertel dat hy steeds deur mense in die straat gestop word. Soms is dit om dankie te sê vir die dorp se mooi-maak, ander kere vir die hoop wat hulle nou het . . .
‘Kyk hoe mooi lyk ons dorp’
Wat vir Leah opgeval het is dat die mense nog steeds vrolik groet soos sy dit met haar eerste besoek ervaar het, maar hierdie keer kry die groet ’n stertjie by: “Kyk hoe mooi lyk ons dorp”.
Koos het haar met die Blou Gevaar na die “nuwe” geskiedkundige begraafplaas geneem. Daar moes hulle nuwe mure bou want die oues het bloot net omgeval. Die bruggie het ingesink en ’n nuwe een moes gebou word. Nou kan mense of families wat bande met Smithfield het, selfs ’n bordjie met ’n QR-kode met hulle van daarop koop wat dan op die herinneringsmuur bygevoeg sal word. Met Leah se besoek was daar reeds 28 QR-kodes geaktiveer en elke graf is met ’n QR-kode toegerus.

Juana-plein is beslis nie meer die plek waar vragmotorbestuurders hul rommel strooi nie. Dis nou omhein en in ’n pragtige tuin omskep. Oral is daar inligtingstukke, hetsy op borde of QR-kodes wat hierdie spesiale plein en dorpie se geskiedenis vertel.
Smithfield het selfs ’n verkeersirkel bygekry en vragmotors mag nie meer in die hoofstraat oornag of parkeer nie. Besighede en winkels langs die hoofstraat het ’n nuwe verfbaadjie aangetrek en dit is met netjiese naamborde afgerond. Té spoggerig. En Koos het vir Leah vertel dat die winkeliers van hierdie nuutgeverfde plekke nou ook sélf voor hul deure skoonvee.
Boonop sorg Japie van der Merwe se muurskilderye ook dat mense stadiger deur die dorp ry om hierdie besondere werke te aanskou en foto’s te neem. “Die weer is dalk asvaal, maar die dorp is kleurvol,” het Koos gesê.
Kettingreaksie
En saam met daardie kleurvol het daar soveel ander lieflike goed na vore gekom want, soos Velda vertel, het mense die projek begin raaksien en ook op eie inisiatief ander projekte van stapel gestuur.
Dat hierdie projek ’n positiewe omwenteling in die pragtige dorpie tot gevolg gehad het, is ongetwyfeld. En in lyn met Koos wat Smithfield as ’n “drukkie-dorpie” beskryf het, was daar ’n bejaarde man wat Marlize genader het terwyl sy besig was om randstene te verf. Dit was die einde van die maand, en daardie man het sowaar sy laaste R100 aan Marlize gegee en haar bedank vir wat hulle doen. Wat ’n roerende gebaar!
Daar is intussen ook ’n gemeenskapswinkel tot stand gebring waar ’n gebou van die munisipaliteit bekom en gerestoureer is. Dit gaan die bestemming word vir inwoners van die dorp waar hulle van hul kunswerke tot gebak kan verkoop. Met Leah se besoek was daar reeds 30 inwoners wat van hulle produkte by die winkel kom neersit het.
Die gemeenskapswinkel dien wel ook ’n ander doel. Dit is nou Smithfield se toeriste-inligtingskantoor.
Net die begin…
Nog is dit het einde niet. Koos het hierdie projek as die begin van nog baie dinge beskryf. “Dis ’n veldslag in ’n baie lang oorlog,” het hy dit genoem.
André het met Koos saamgestem. Hy het genoem dat hulle nie nou kan terugsit ná alles wat hulle bereik het nie. Daar moet instandhouding wees en vorentoe moet daar nog bykomende projekte geaktiveer word.
“As jy nou jou volgende reis beplan, sit ’n ekstra dag by want jy gaan nou stop op Smithfield en vir jou ’n lekker vars pastei kry. Jy gaan jou koffietjie drink by Juana-plein en ’n bietjie leeswerk doen.
“Jy gaan by een van die groen-en-wit geboukies stop en jy gaan bietjie kom koop hiersô. En dan gaan jy ook oorslaap in een van die vele gastehuise wat Smithfield het. Jy gaan ’n fantastiese tyd hê . . . en dan kan jy verder ry,” was Leah se raad aan die kykers.
Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.