Menu terloops
In Wat om te kyk [2 Sep 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: Smithfield – die dorpie waar byna almal ’n hoender of ’n skaap in die agterplaas het 


Die vyfde dorpie wat in hierdie seisoen by Lottoland help ’n dorp baat vind, is Smithfield – óftewel die “drukkie-dorp” – aan die suidekant van die Vrystaat. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Lottoland help ’n dorp’: Smithfield – die dorpie waar byna almal ’n hoender of ’n skaap in die agterplaas het 

Smithfield is ’n dorpie waardeur Lottoland help ’n dorp-aanbieder Leah van Niekerk al verskeie kere gery het. Maar, het Leah bygevoeg, “Dis so klein, want as jy jou oë gaan knip, dan gaan jy hom mis.”

Koos Gericke, projekspanleier, het genoem dat hierdie baie geskiedkundige dorp sowat 130 km suid van Bloemfontein geleë is. Smithfield wat in 1848 gestig is, is een van die eerste, dus ook een van die oudste, dorpe van die Vrystaat. Hy kon ook nie uitgepraat raak oor hoe ondersteunend die gemeenskap is nie en het dit sommer tot die “drukkie-dorp” herdoop.

Lottoland help n dorp, Leah, kykNET, Smithfield
Koos Gericke, projekspanleier, kon nie uitgepraat raak oor hoe ondersteunend die Smithfield-gemeenskap is nie en het dit sommer tot die “drukkie-dorp” herdoop. Foto’s: Skermgrepe

En vir Flip Fourie, projekspanlid, is hierdie ’n lieflike plekkie wat baie bied om te sien en te ervaar. 

“Dis ’n klein dorpie waar almal mekaar ken. So, dis ’n vriendelike dorpie waar enigiemand net kan inkom in Smithfield,” het Deon Pietersen, gemeenskapslid en kontrakteur, uitgebrei oor hoe maklik dit is vir besoekers om hier welkom te voel.

André en Velda Share, projekspanlede, het ook vertel van die vriendelike aard van Smithfield. En as daar nou ’n krummelrige Gautenger of twee opduik, is dit juis die mense van die dorp self wat hulle sommer gou opbeur en vroliker laat voel.

Vergeet van Vrystaatse vlaktes. Smithfield is allesbehalwe so plat dat jy jou toekoms weke voor die tyd kan sien aankom. “Dit wat ons harte gewen het, is die koppie – wat ons ’n berg noem, maar die wêreld sê dis nie ’n berg nie, dis ’n koppie,” het Ryno en Jacqueline Hoffmann, projekspanlede, laggend vertel oor hulle liefde vir dié dorpie. Dan is daar die bome wat ideaal is vir boomhuise, boomklim en skuiling vir die diere.

“Want almal omtrent in hierdie dorp het ’n hoender of ’n skaap of ’n bees in die agteryard,” het Ryno bygevoeg.

‘Één familie’

Selina Lebenya, gemeenskapslid, het dit duidelik gemaak: “Ons is één familie. Wit . . . swart . . . ons bly soos een mens. Everything we do, we do it together.”

Marlize Gericke, projekspanlid, het ook vir Leah vertel dat daar ver gesoek gaan word na sulke gasvrye en wonderlike mense soos dié wat sy op Smithfield leer ken het. En al is daar nie groot industrieë nie, bied die dorpie alles wat nodig is vir die inwoners, het Lizette Prinsloo, gemeenskapslid, opgemerk.

Smithfield het ’n groot rol gespeel tydens die Anglo-Boereoorlog en vandag nog is daar die pragtige geskiedkundige begraafplaas en museum. Boonop is Smithfield ook ’n ideale bestemming vir voëlkykers. 

Daar is nog aansienlik meer om te doen vir besoekers, maar Marlize het gesê die dorp moet eers skoon en netjies gemaak word. Sy en Koos het hier kom aftree. Maar toe kry die rommel oorkant hul huis die oorhand en in plaas daarvan dat hulle rustig op die stoep kon sit en koffie drink, het hulle weggespring en begin skoonmaak. En dit het ander inwoners van die dorpie aangepor om dieselfde te doen.

Aanhouer wen

“Hulle sê ’n rivier sny nie deur ’n berg omdat water sterk is nie. Hy sny deur ’n berg omdat hy aanhou,” het Koos aan Leah verduidelik en gesê dat dit die vertrekpunt is vir verandering. As daar eers begin word, moet daarmee aangehou word.

En die resultaat van daardie “aanhou” is die nie-winsgewende Vriende van Smithfield-organisasie wat deur Koos en Marlize tot stand gebring is. Maar hulle staan nie alleen nie. Die gemeenskap is deel van al die projekte.

Ryno het op sy beurt vertel hy ervaar iets soortgelyk aan ’n “help high” want dis vir hom so lekker om mense te help. Jacqueline weer genoem dat dit juis die “tannies” van so 60-70 is wat ook inspring en rommel optel. “If they can do it, we can do it. If they’ve got the strength, we’ve got the strength!”

Help, Lottoland!

Koos-hulle het behoorlik hul huiswerk gedoen voordat hulle Lottoland help ’n dorp genader het. Nie net het hulle die reekse op kykNET gekyk nie, maar ook by van die projek-dorpe besoek gaan aflê. Dit was duidelik dat Smithfield se mense érnstig gevoel het oor die opgradering van hul “drukkie-dorpie”.

Die geskiedkundige begraafplaas, Juana-plein, geboue verf kort, aanwysingsborde en nog meer was op hul wenslysie. Dan ook toerusting, slaggate opvul en om volhoubaarheid by die projekte in te bou.

Juana-plein het veral na aan Slafie Coetzee se hart gelê. Haar groot versugting was vir ’n paar bankies waar mense kan gaan sit en rus as hulle moeg is, of selfs ietsie daar sit en eet – verkieslik iets wat hulle op die dorp gekoop het. En, het sy gesê, as hulle daar sit sal hulle kan sien hoe mooi die dorp werklik is, ook die pragtige kerk.

Daai groen koevertjie

Koos was oorstelpt toe Leah die groen koevertjie na vore gebring het en hy het haar woordeloos omhels. 

“My vrou het vir my gesê, ‘Wys emosie. Ás so-iets gebeur, wys emosie want jy’s gewoonlik net aan die praat’,” het hy kwytgeraak terwyl hy die groen koevert oopgeworstel het. 

Lottoland help n dorp, Leah, kykNET, Smithfield
Lottoland SA het R800 000 beskikbaar gestel vir Smithfield se projekte.

Toe hy sien dat Lottoland SA R800 000 beskikbaar gestel het, was “ongelooflik” die woord wat hy bly herhaal het. En daar was meer as genoeg emosie in sy stem en oë toe die besef van wat gebeur het, by hom begin insink het. Ja, Marlize sou ook tevrede gewees het . . . 

“My blikemmer, my hel,” was haar reaksie toe sy die brief onder oë gekry het. En ook daar het emosies hoogty gevier.

Lottoland help n dorp, kykNET, Smithfield
Koos was oorstelpt toe Leah die groen koevertjie na vore gebring het .

Vier weke later

Besiger as besig. Dís hoe dinge in Smithfield gewoel het met Koos straat-op en straat-af agter die stuur van sy driewiel-toek-toek. Dít terwyl André gewoeker het met 11 kennisgewingsborde waarvan die drie grootstes op die dag geplant is toe die Lottoland help ’n dorp-span kom inloer het. En Velda het erken dat die senuwees baie gelol het. Hierdie was nie ’n mak perd om op te saal nie.

Japie van der Merwe is die kunstenaar wie se muurskilderye in hierdie stadium reeds ’n vrolike atmosfeer help skep het. ’n Hoender, ’n koei, skape en natuurlik meerkatte het onder sy vaardige kwaswerk nuwe lewe op ou mure ingeblaas.

Maar hoe het Koos die kritiek hanteer wat soms so onverwags uitgedeel is?

“Wel, as jy niks doen nie, kry jy nie kritiek nie,” was sy antwoord. Stop dít in jou pyp en rook dit, klakouse . . .

Ná vier weke se werk was die klipmuur van herinnering reeds by die geskiedkundige begraafplaas gebou. Daarop is QR-kodes aangebring wat besoekers herlei na ’n webtuiste wat geskep is met al die inligting en interessante feite. 

Juana-plein se palissade het ook al vorm begin aanneem terwyl Armand byna 80% van die slaggate met teer en beton opgevul het.

Volgende week

Hierdie projekspan was vasberade om minstens al die groot projekte ’n week voor die sperdatum af te handel. Gaan hulle dit regkry? Tyd sal leer.


Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies