“Tussen twee treinspore, aan die voet van een van die oudste berge in die wêreld… Welkom in Magaliesburg,” kom dit van Hannelie Hartman Sander, projekleier met die aanvang van die nuutste episode van Lottoland help ’n dorp.
“Dis vir my verskriklik mooi, dit is soos ’n oerwoud, en dan ry jy deur ’n dorpie en dan’s dit weer oerwoud en dan’s dit ’n pas wat jy ry, en daar’s ’n berg. Dis regtig ’n baie, baie mooi plek,” beskryf sangeres en aanbieder Leah haar ontmoeting met Magaliesburg.
‘Ietsie vir almal’
Magaliesburg is deesdae waarskynlik meer bekend onder toeriste as die boerderybedryf wat voorheen bo-toon gevier het. Hannelie vertel dat daar gastehuise is, vyfster-hotelle en natuurlik die Groot 5-lodges.
“Hier is ietsie vir almal op hierdie dorp,” sê sy.
“Ek sou sê Magalies is amper soos ’n stille geheim wat gehou is, jy weet. En die hele situasie met ons is dat ons so sentraal geleë is,” vertel Charles Gotthard, beeldhoukunstenaar en eienaar van La Provence D’Afrique.
Louis Mienie, eienaar: Steenkoppies Landgoed, vertel Magaliesburg is baie bekend vir sy staproetes en ook klein gastehuise. Hy skat daar is kort duskant 6 000 beddens in die omgewing wat akkommodasie bied aan toeriste. Boonop is Magaliesburg ook ’n gewilde bestemming vir troues.
Angela Da Cunha, eienaar van Magalies Liquor Wholesaler, beskryf die dorp as ’n familie-gebaseerde gemeenskap waar almal se belange op die hart gedra word.
Hannelie vertel vir Leah dat Magaliesburg ’n ou dorpie is waar een van die eerste goudmyne in Suid-Afrika ontstaan het. Die dorp self het eers jare later tot stand gekom.
“Ons is tradisioneel meer ’n boerdery-omgewing, maar deur die jare het dinge ook verander. Ons het nogals iets om aan te bied vir almal,” vertel sy.
Toe nie so klein nie…
Leah wil weet of die dorpie regtig net 500 m lank is, tot groot vermaak van Hannelie. Sy sê dis juis hoekom sy so bly is Lottoland help ’n dorp is hier om daardie persepsie te verander.
“As jy net ’n bietjie van die hoofpad af gaan, dan is jy eintlik aangenaam verras oor wat ons hier aan te bied het,” verseker Hannelie vir Leah.
Charles sê hy self maak gereeld ’n grappie deur te beweer Magaliesburg is so klein, dat die ingangs- en uitgangsbordjie aan dieselfde paal gespyker is.
Hannelie, ook die plaaslike apteker, is deel van die besigheids- en toerismeforum. Sy verduidelik dat die uitvoerende komitee bestaan uit mense van die dorp, hetsy as eienaars van besighede of inwoners.
“Dis gewone mense, dis mense wat hul eie tyd vat om ’n beter plek vir ons almal hier te stel,” vertel sy.
“Ons hou daarvan om te praat van ‘Magalies’ en ons het ook ’n hele dryf ‘We love Magalies’ wat die besigheidsforum dryf. Want Magalies is baie meer as daai 500 m wat jy sien.”
Sy vertel ook dat al die inkomste wat hulle tot hulle beskikking het, afkomstig is van ledegeld. Dit sukkel maar omdat dit so ’n klein dorp is met min besighede wat kan bydra. Gelukkig ondersteun die mense hulle goed, en die plaaslike munisipaliteit, Mogale City, is ook daar vir hulle.
Leah kon nie haar oë glo nie want om elke hoek en draai is daar ’n verbetering en verandering aangebring. Sy erken sy het tred verloor met wat sy alles gesien het omdat daar net soveel goed gedoen is.
“Ek weet ons spot verskriklik oor die 500 m-lange dorp, maar dit is regtig so. Jy ry in en as jy klaar uit is, besef jy ‘Oh, wow, ek het nou-net deur ’n dorp gery’. Jy moet amper weer reverse en weer gaan kyk.
“Die dorpie is baie oulik en ek dink dis een van daai dorpies wat verskriklik baie potensiaal het. Dit is verf wat afdop, dit is goed wat mooi en skoon gemaak kan word. Daar is ’n bietjie instandhouding wat nodig is, maar jy kan sien hierdie dorpie het lanklaas rêrig ’n bietjie ordentlike TLC gehad,” sê Leah.
“Klein dorpies in Suid-Afrika kry baie swaar. Ons moet ons moue oprol en inspring en help,” kom dit van Hannelie.
Help, Lottoland!
“Ons wil Magaliesburg meer toeriste-vriendelik maak, aantreklik maak en ons het besluit om in te skryf – die besigheidsforum – en te fokus op drie hoofpunte.
“Ons wil graag die dorp vriendelik maak vir toerisme én vir ons inwoners, aantreklik maak vir mense wat verby ry, met ander woorde visueel, en natuurlik veilig. Want veiligheid is vir ons baie belangrik,” verduidelik Hannelie.
Sy noem dat verf altyd ’n eerste opsie is. Die gemeenskapsaal is jare gelede laas geverf. Daar moet ook asblikke beskikbaar gestel word om die dorp skoner te help hou. Ook die hoofstraat het baie aandag nodig.
“Magalies was ’n mooi dorp toe ek grootword, né. As jy nou soontoe gaan… Dit lyk slordig. Papiere, bottels, blikke orals. Magaliesburg is ’n toeriste-plek, dis wat dit lekker maak. So, as ons dit nie oppas nie, gaan ons probleme hê, want hulle gaan nie meer kom nie,” vertel Minke Mora, bestuurder van MelonRouge.
Hannelie sê hulle kyk na sonkrag vir ligte tydens beurtkrag om veiligheid in die dorp te verhoog. Dalk ook ’n sekuriteitskamera.
“Ons wil graag vir ons informele vendors wat op die straat sit, ’n meer formele plek gee waar hulle kan handeldryf, waar hulle beter kan besigheid doen en waar toeriste miskien ook gaan voel hulle kan dit besoek,” sê sy. En dit sal onder die Vriendelike Projek-vaandel plaasvind.
“Weet jy, op die oomblik is dit nie veilig vir enigeen in die pad. Ons het nie sypaadjies nie. En die ligte. Van die ligte werk en van die ligte werk nie. En die enigste probleem is ook die street vendors.
“Dis baie mense wat lewe maak om te verkoop. Nou, waar hulle verkoop, dis nie mooi nie. Hulle gooi hulle goed net op die gras en dis ook nie veilig vir hulle om daar te wees nie,” vertel Minke.
Leah sê dis belangrik om in ag te neem dat daar baie besighede langs die hoofstraat is.
“So, almal van daai besighede gaan moet bereidwillig wees om ’n bietjie ook handjie by te sit.”
Die groen koevertjie
Leah vertel vir Hannelie Lottoland SA het ook die passie en potensiaal rondom Magalies raakgesien. Met daardie boodskap is dit tyd om die groen koevert te oorhandig. ’n Volle R400 000 word bewillig om die dorp op te knap!
“Ek het dit glad nie verwag nie. My persepsie was dat dit eers deur ’n evalueringsproses moet gaan en ons dalk ’n kans staan om deel te neem aan hierdie projek. Dit was vir my ’n groot verrassing dat ons wel gekeur is en dat ons kan voortgaan met hierdie projek,” kom dit van ’n dankbare en opgewonde Hannelie.
“Ek dink dis nou tyd vir Magalies om ook die kroon te dra.”
Ses weke later
“Ons ry nog nie eers ín in Magaliesburg nie, en daar is die nuwe welkombordjie op!” en Leah besef dat daar dalk baie goed oor die afgelope ses weke hier verander het.
“Die 500 m wat ek gedink het gaan so chop-chop wees, het toe uitgedraai as ’n groot, groot projek,” erken Hannelie.
Leah kon nie haar oë glo nie want om elke hoek en draai is daar ’n verbetering en verandering aangebring. Sy erken sy het tred verloor met wat sy alles gesien het omdat daar net soveel goed gedoen is.
Wat sy wel opmerk, behalwe die ‘We love Magalies’-plakkate teen die lamppale, is dat die einste lamppale nou met sonkrag toegerus is.
“Ons het die dorp groen geverf,” vertel Hannelie vir haar. “Die gemeenskap het ongelooflik bymekaar gekom. Ek kan dit nie vir jou beskryf nie. Dit het my rêrig omtrent in trane gehad. Almal het soos een man opgedaag, gewerk.”
Sy vertel ook vir Leah dat hulle die aanvanklike begroting kon verdubbel met insette en donasies en besighede het betrokke geraak.
Die visie
Hannelie sê hul eerste visie was om Magaliesburg aantreklik te maak en hulle het die meeste tyd daaraan spandeer.
“Ons het daai 500 m gevat van die burgersentrum tot by die taxi rank. Ons het tuine gemaak, ons het paadjies gemaak vir voetgangers. Ons het verwelkomingstekens aan beide kante van die dorp aangebring.
“Die plant-muur wat ek beplan het, het ons bietjie aangepas om te pas by die begroting en die volhoubaarheid. Ons het kunsmatige gras daar gesit met ’n selfie-geleentheid.
“Ons het kunstenaars betrokke gekry en ons het geeïndig met ’n tema: Hou Magalies Groen.”
“Alles het groen gegaan, en dit is so awesome, want dit gee vir ons net soveel helder kleure en hef ons dorp op. Die manier waarop die park skoongemaak is, die voetpaaie . . .” kom dit van Angela. Sy sê elke dag was daar verbetering, iemand het iets geverf en dit was so lekker om na Magaliesburg terug te keer.
Die sypaadjies is weer swart-en-wit geverf, die padteken-pale is geverf en die Paaie-departement het nuwe verkeerslyne op die strate kom verf.
Almal kom help
Benewens die gemeenskapsentrum wat met ’n pragtige nuwe baadjie spog, is die oogseer oorkant die pad ook getakel. Die muurtjie is opgradeer en dit lyk baie netjies. Stukke beter.
Vir Louis was dit lekker om ’n begroting beskikbaar te hê, maar daar was iets wat hierdie lekkerte getroef het.
“Die lekkerste van die hele proses was om te sien hoeveel mense uit hul eie gekom het vir ’n dag en goed gehelp doen het uit hul eie uit,” vertel hy.
“Ons het byvoorbeeld ’n 80-jarige dame van die aftree-oord gehad wat met haar dogter kom papiere optel het die oggend voor julle sou kom,” sê Hannelie vir Leah.
“Wat fantasties was, was die veilige deel. Ons het baie goeie bande met die polisie gebou in hierdie tyd. Ons het ’n kamera-sisteem ingesit en ons het ook beligting aangebring.
“Hierdie het eintlik teweeg gebring dat besigheidseienaars self ook begin ligte aanbring het by hulle besighede,” vertel Hannelie.
Danny Molefi Thupani, burgemeester van Mogale City, sien hierdie ook as ’n rede om mense te motiveer om te kom kuier en te belê.
Daar is ook 14 eenhede vir klein besighede gebou as deel van hul Vriendelike Projek, en gepaardgaande daarmee ’n mentorskap-projek rondom verantwoordelikhede en hoe dinge vorentoe gaan werk.
“Oos, wes, tuis bes,” is waaraan Victor Molefe, ’n raadslid, glo. Hy sê as jy daardie tuiste beter maak, moet jy seker maak dat watter veranderinge jy daar wil maak, by jou moet begin.
“Dit is hoe ons dit in Magaliesburg gedoen het en dit was haalbaar. Dit was nie asof dit deur iemand uit die buiteland gedoen is nie. Nee, dit is gedoen deur die gemeenskap van Magaliesburg en voila! – aan die einde van die dag sien ons goeie resultate.”
Hannelie se strategie was om die dorp in klein brokkies op te deel en in elkeen van daardie brokkies gevra wie ’n stukkie van die dorp wil aanneem. Sy dink dit is wat hierdie projek haalbaar en moontlik gemaak het.
“Jy moet ’n verskil maak, waar jy ookal bly. Ek sê vir Suid-Afrika hulle kan dit doen. Dit is regtig makliker as wat jy dink,” kom dit van Hannelie.
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 22:00 gepubliseer.