Vir Leah voel dit of Fouriesburg so ’n klein weggesteekte dorpie op sy eie eilandjie is, vertel sy aan die begin van vandeesweek se episode van Lottoland help ’n dorp.
“Die dorp is gestig in 1894. Om kerk toe te gaan moes jy óf Ficksburg toe gaan óf Bethlehem toe. So die mense hier het gevoel hulle wil hul eie kerk hê,” vertel Erika van Heerden, gemeenskapslid.
“Almal praat altyd van die Vrystaat as die ‘plat’ Vrystaat. Nou, Fouriesburg is alles behalwe plat. Kyk net die berge hier om ons, dis ongelooflik,” verduidelik David Exley, gemeenskapslid.
‘Hart van die Vrystaat’
Vir projekspanlid Stephan Naudé is Fouriesburg in baie opsigte die hart van die Vrystaat met ’n baie sterk boerderygemeenskap en geesdriftige inwoners.
“Wat dit vir ons spesiaal maak, is die grondpaaie. Hier’s graspaaie, jou berge, jou sneeu wat jy sien op die berge in die winter, jou sandsteengeboue en natuurlik, laastens, die mense,” kom dit van projekspanlik Braam le Roux, mede-eienaar: Di Plaasstoep Restaurant en Di Plaasopstal.
“In Fouriesburg kan jy nog verdwyn. Dis nie so ’n kommersiële dorp nie. As jy werklik ’n stil plekkie wil hê om af te tree, te gaan woon – hier’s die plek,” sê Erika.
“Fouriesburg is ’n pragtige area alhoewel dit ’n klein area is. Dis ’n bergagtige area wat byna in die middel van die Vrystaat is. As jy Lesotho toe gaan, ry jy deur Fouriesburg,” sê Paulus Ncala, eenheidsbestuurder: Fouriesburg-munisipaliteit.
Vir Alice Makgwa, kelner: Di Plaasstoep Restaurant, is die dorp ook ’n baie lekker plek. Sy is afkomstig van QwaQwa en dis ’n baie groot plek.
“So, die eerste keer toe ek hiesô gekom het, het ek baie geskrik. Daar was nie winkels nie en dit was klein, baie klein.”
“Elke kraai dink mos sy eier is mos die witste. Nou, ek het maar hier groot geword en ek is maar lief vir die plek, baie ontuis in ’n ander dorp,” vertel Jors Roos, ’n gemeenskapslid wat al byna 81 jaar lank ’n Fouriesburger is.
Ryk geskiedenis
Leah kan nie uitgepraat raak oor die ryk geskiedenis van die dorp nie. Selfs die gastehuis waarin die Lottoland help ’n dorp-span tuisgaan, is deur die Britse kommando’s gebruik tydens die oorlogsjare.
“As Fouriesburg eers in jou bloed vloei, sal jy altyd terugverlang Fouriesburg toe. Jy kan maar met baie mense praat wat dalk nie meer in Fouriesburg bly nie.
“Hier kom mense hier aan wat lang trane huil en sê ‘oe, wat gaan ek in dié plek doen?’ Die dag as hulle trek, huil hulle langer trane omdat hulle moet weggaan as die dag wat hulle gekom het,” sê David.
Vir Stephan lê Fouriesburg se aantrekkingskrag in sy gemeenskap, een wat hy as ’n baie liefdevolle omgee-gemeenskap beskryf. Dan is daar natuurlik die rustigheid wat hier heers. Selfs die skape, beeste en perde wat lui-weg in die dorp ronddrentel stem daarmee saam.
Help, Lottoland!
“Wel, ek dink nie ’n mens kan die waarde van ’n skoon en netjiese dorp oorskat nie. Die teenoorgestelde is ook waar. As ’n dorp vuil en slordig is, dan is die mense se gemoed nie lekker nie. Mense wil nie kom kuier nie, ons trek nie toeriste of investering nie,” verduidelik Stephan hoekom daar ingeskryf is vir Lottoland help ’n dorp.
Die begraafplaas, wat hy as ’n storieboek van Fouriesburg se geskiedenis beskryf, is deel van hul inskrywing. Hulle wil die begraafplaas meer volhoubaar maak en dit beteken gruisbedekking wat die makliker maak om in stand te hou op die lange duur. Hy wil hê daar moet ook bordjies wees wat besoekers in staat sal stel om die geskiedenis makliker te kan volg.
Ook op hul wenslysie is skoonmaak-aksies, die verf van geboue, asblikke en ’n veldtog om die dorp skoon te maak en skoon te hou. O ja, en daar’s nie juis straatname nie, en waar daar wel ’n naam of so sigbaar is, hang dit maar halfmas. Dis nie net toeriste wat hier verdwaal nie, selfs die Lottoland help ’n dorp-span het meer as een keer verdwaal.
“Ons het nie ’n adres nie. Piet bly oorkant die windmeul of Koos bly langs Jannie en daai klas van ding. Dis hoe ons dit ken,” vertel Braam.
Die groen koevertjie
Stephan slaan skoon hoendervleis uit toe Leah die groen koevertjie aan hom oorhandig. Die inhoud verstom hom: R308 000 vir die gemeenskapsforum om Fouriesburg te help regruk.
“Genade! Jis! Sjôh!” is al wat hy kan uitkry. Toe hy wel sy woorde vind, is dit om te sê hoeveel hierdie vir Fouriesburg gaan beteken.
“Ons het nou daai oemf nodig om Fouriesburg vorentoe te vat. En hierdie is half die kroon op al daai harde werk wat ons ingesit het,” sê hy.
“Julle gaan ’n ander dorp sien. Ons is oorgehaal, ons is gereed,” kom dit van ’n vasberade Stephan.
Ses weke later
Reeds met die intrapslag wag daar ’n verrassing op die Lottoland help ’n dorp-span in die vorm van ’n ou Volkswagen Kewer by die ingang, omring deur pragtige plante en vrolike paadjies oraloor.
“Die dorp is baie, baie mooi. Ons dorp het nog nooit nie so gelyk nie. Ons is almal opgewonde, dis baie mooi!” kom dit van ’n stralende Alice.
Stephan erken dit was harde werk die afgelope ses weke en dat alles nog nie klaar is nie. Daar word nog rondgejaag om bordjies op te sit.
“Daar’s nog heelwat stres in die sisteem, maar ek dink ons het ’n ongelooflike ding reggekry,” sê hy.
Wat die ingang-verrassing betref, vertel Stephan dat hulle iemand gevra het om ’n muurtjie te bou waarin hulle plante kon plant. Uit die bloute het mense, sommige onbekend aan Stephan, potte begin skenk. Ook die Volla. Mense het ook net begin plant, iets wat vir hom ’n wonderlike ervaring was.
Die begraafplaas het natuurlik ’n kwota probleme opgelewer. Hulle het verwag dat een vrag gruis voldoende sal wees. Op die ou einde het hulle vyf vragte nodig gehad. Bloukruin Boerdery en die Fouriesburg-gemeenskapsforum (FGF) het toe saam twee vragte se koste gedra.
“Die werk was astronomies baie,” erken hy.
“Jinne, ons het nie gedink die begraafplaas is so groot nie. So ja, hy’t baie tyd gesteel, maar hy is beautiful,” sê Braam.
Nie almal kon verstaan hoekom die begraafplaas soveel aandag gekry het nie, maar André Fick, gemeenskapslid, verduidelik: “Hierdie begraafplaas práát geskiedenis. Hierdie gedeelte hier is baie Engelse soldate wat in die Boere-Engelse oorlog dood is. As jy hier deurloop en jy kyk die vanne wat hier is . . . hier’s baie van hierdie mense [familie] wat nog hier is.”
“Die families wat die kiekies sien, is vreeslik bly daaroor . . . wat ver bly, wat oorsee ook bly . . . ‘sê net dankie vir dit wat julle gedoen het’,” vertel Jors.
Daar is ook tussen 60 en 80 ton rommel opgetel, by die 200 straatnaambordjies is opgesit en Leah kan nie uitgepraat raak oor dit alles nie.
Vrolikheid in Fouriesburg
“Ek wat in Fouriesburg grootgeword het, ken nie die straatname nie. So, nou leer ek die straatname ken. Ons het altyd gepraat van die straat wat voor Hoender se huis verbygaan,” kom dit van ’n baie gelukkige David.
“Daar’s bietjie meer ’n vrolikheid op Fouriesburg,” sê Leah, baie ingenome met wat sy hier ervaar.
“Die naaste dorp van ons is 50 km en dis die Vrystaat . . . so, dit alles gebeur baie s-t-a-d-i-g,” vertel Braam oor die gesukkel met voorraad.
“Ja, en dan het Fouriesburg baie meer ouer garde mense. So, almal wil help, maar nie almal het die krag om te kom help nie, maar daai mense wat nie kan help nie, het ons gehelp – ons het ’n WhatsApp-groep – so, hulle het ons opgebou en gesê ‘go, go, go!’
Stephan sê daar was mense wat elke dag kom help het sonder om enige vergoeding te vra. Dit was vir hom ’n wonderlike ervaring.
“Dit steek vuurtjies aan orals. Mense maak hul eie tuine en hul eie sypaadjies nou baie skoner. Ons is baie positief dat hierdie die begin is van ’n baie mooi pad vorentoe vir Fouriesburg,” kom dit hoopvol van hom.
Fouriesburg mag ’n klein dorpie wees, maar as hulle dankie sê, doen hulle dit op groot skaal met ’n optog!
Daar’s perderuiters, die grootste trekker wat Leah nóg gesien het, ’n trekker met ’n wa wat omskep is in ’n braai-area, kompleet met nog ’n wa aangehaak met stoele en selfs ’n bank vir die ouer garde.
Daar’s musiek, dansers in die mooiste blou uitrustings en mense wat langs die straat staan en trane wegvee.
“Die dankbaarheid wat ons sien en hoor van mense in die dorp wat al dekades lank hier bly, is regtig bemoedigend. Die mense is regtig dankbaar en opgewonde om hier te wees en dit te beleef wat nou gebeur het,” is Stephan se reaksie.
“Dit gee my hoendervleis net om daaraan te dink hoe mense bymekaar gekom het ten spyte van al die wanhoop in die land, die loadshedding, die waterprobleme waarvan ons ook maar hier het, en swak munisipale dienste, het die mense bymekaar gekom en gesê, ‘ons kan dit beter maak. En ons gáán dit beter maak en ons gaan aanhou om dit beter te maak’.”
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 22:00 gepubliseer.