Vir 32 jaar was Carmen Huisgenoot se kosredakteur, en deesdae het sy ’n nuwe rigting ingeslaan – nie meer net lekker kos nie, maar ook gesonde kos! “Kos is samesyn van waar jy brood saam breek en waar jy liefde gee,” sê sy.
Nou het Carmen haar kombuisdeur wyd oopgegooi en sy nooi geliefdes en bekendes om saam met haar om ’n weergalose kostafel te kuier in kykNET se nuwe kosprogram, Lekker & goed.
Carmen noem dat mense baie maal die kos probeer kompliseer deur baie verskillende bykomstighede, maar vir haar lê die mooi en die goed van kos in die eenvoud daarvan.
‘Heilige rooibos’
“Die heilige rooibos, soos wat ons nou vandag hier het, het soveel smaak en soveel geur en jy kan dit op soveel maniere gebruik dat ek nou rooibos in omtrent alles gebruik,” sê sy en voeg by dat daar altyd spasie vir ’n sakkie rooibos is, waar sy ook al gaan.
En haar nuwe koers? Sy verkneukel haarself daarin toe sy sê: “Life doesn’t end at 60”.
Wie is die gas?
Haar gas vir dié episode is Arina du Plessis, ’n oud-kollega. Hulle het sowat 20 jaar laas saam aan dieselfde tafel gesit en na die grendeltyd een keer mekaar raakgeloop vir ’n fotosessie.
Arina het by haar beland as ’n intern by Huisgenoot se toetskombuis. Kort voor lank het Arina vir haarself ’n assistent-pos by Carmen losgekook. Deesdae is sy Landbouweekblad se kosredakteur en sy het ook twee resepteboeke die lig laat sien.
Op die spyskaart
In hierdie episode trakteer Carmen vir Arina op Midde-Oosterse lamsboud met kruiesous met ’n lekker Marokkaanse geurtjie soos net Carmen kan. Aartappels word opsy geskuif en met eiervrug vervang. Dit word afgerond met beetslaai met boegoe en okkerneut. Omdat Carmen weet Arina het ’n soettand, is daar heerlike-brownies vir nagereg.
Sy hou boonop van geselskap in die kombuis terwyl sy kook en het nou verskeie resepte vir heerlike drankies. Arina kan uitsien na lieflike sangria, natuurlik met hope vrugte, ’n rosé uit Piekenierskloof se kelder en Carmién Tea se bosbessie-en-hibiskus-rooibostee!
Onthou jy?
So kuier-kuier in die kombuis onthou die twee van oomblikke wat hulle saam ervaar het en nooit sal vergeet nie. En ook nooit sal ophou lag voor nie. Soos toe die stapel borde gekraak het toe die fotograaf se lens daarop beland het. Vandag erken Carmen dit was haar fout want die fotograaf het geweier dat iemand deur sy lens kyk. Maar kyk wou sy kyk . . . Die fotograaf was buite homself van woede gewees. Vir lank, onthou Carmen.
Arina is verbaas oor Carmen se nuutgevonde liefde vir tee omdat sy destyds ’n ware koffiepot was. Carmen onthou hoe Arina hope koffiebekers met die rooi lipstiffiemerke uit die kantoor moes verwyder soos wat hulle koffie ingeryg het wanneer hulle in die toetskombuis besig was.
So tussen die gesels deur, noem Arina dat sy baie bly is om te sien Carmen kook voort en terg haar dat sy nie so ver gery het net om oor ’n skemerkelkie te gesels nie.
Carmen gaan ’n skaapboud voorberei. Sy sê deesdae kyk sy nie meer na die boud wat meer vet aan het soos wat sy in die verlede sou doen nie.
Terwyl sy lustig met die speserye te werk gaan om die boud te marineer, vertel sy vir Arina hoe haar lewe verloop het nadat sy by Huisgenoot weggegaan het. Sy het eerste ding haar eie e-posadres gekry “want dan voel jy nog half in charge”, haar blog begin en haar Facebook- en Instagram-profiele gevestig.
Het jy geweet?
Carmen verduidelik watter speserye sy gebruik vir die lamsboud en Arina is gek oor die geure wat die lug vul. Sy’t een wens: aartappels daarmee saam. Maar nie vandag nie, al besef Carmen aartappels is Arina se doodsteek. Jammer, Arina, dis eiervrug vandag!
En tussendeur deel Carmen nog wysheid. Sy gaan die lamsboud in rooibostee gaarmaak want dit is ’n natuurlike versagmiddel.
Die storie van die strooitjie
Terwyl die lamsboud in die oond is, is daar nog tyd vir meer sangria – en meer stories. Soos die fotosessie wat hulle in Kampsbaai gehad het vir skemerkelkies. “Dit was ’n snaakse dag, maar dit was ook ’n heerlike dag,” vertel Carmen.
Die fotograaf het ’n bedlampie gebruik om die glase van onder te belig, maar dit neem hom toe so lank om die beligting en die hoek reg te kry dat die hele skemerkelkie nie meer kon borrel en beïndruk nie. Uitgooi en weer begin was nie ’n opsie nie, want Carmen het ’n mooi suikerrandjie op die glase geskep. Arina onthou hoe Carmen ’n strooitjie in die hande gekry het en vir haar gegee het om van die skemerkelkie te drink sodat dit weer opgevul kan word sodat daar weer borrels in die drankie kon wees. Die twee van hulle het wel later beurte gemaak.
“Later sê ek vir jou ‘Carmen, ek voel nie meer so lekker nie’,” vertel Arina tot groot vermaak van Carmen. Sy dink ook nie een van hulle twee sou ’n reguit lyn kon stap na daardie fotosessie nie. Toe het hulle maar op die deftige bed gaan lê om ’n bietjie te herstel . . .
Super-slaai
Selfs hier span Carmen rooibostee in, die keer vir die boegoe-aspek. Alles is vars – van die uie en beet tot die pietersielie en bloubessies. Daarmee saam sit sy kaas by en ’n heerlike romerige slaaisous. Selfs diegene wat graag slaai laat verbygaan, se mond gaan vir hierdie weergawe water.
Maar eers, nog ’n glasie sangria!
’n Soetigheid vir ’n soettand
Carmen erken sy self het nie veel van ’n soettand nie, maar sy het ’n paar guilty pleasures wat so nou en dan op die tafel beland.
Met haar patat-brownies deel Carmen nog waardevolle inligting. Patat is anders as ander groente, dit bak weg. En wees maar versigtig wanneer jy klappermeel inspan om mee te bak.
Te veel daarvan in jou gebak maak alles kurkdroog. Dit neem tyd om die regte balans te kry. Wees dus voorbereid dat jy gaan eksperimenteer tot waar jy jou meesterstuk kan voorsit.
Aan tafel
Carmen en Arina kies koers na die pragtig-gedekte tafel in die buitelug. Skitterwit tafelbedekkings, kerse en die ligte windjie wat die Weskus-blomme roer maak van hierdie saamkuier om die tafel ’n prentjiemooi oomblik.
Arina is gek oor die komyn-geure wat sy in die lamsboud proe. Maar die aanloklikheid van die patat-brownies verlei Arina tot ’n vinnige happie so tussen die lamsboud deur.
Arina onthou van hoe hulle destyds saam gekook het en honderde der honderde kilometers afgelê het, en ook dat hulle 20 jaar gelede laas saam aan dieselfde tafel gesit het. En ná hierdie ervaring aan die mooie Weskus, is sy beslis slaggereed om meer gereeld die langpad aan te durf om by Carmen te kom inloer.
Gesondheid! Tot volgende week.
Hierdie episode se resepte word môre op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.