Hy is alombekend in Suid-Afrika – of dit nou in flieks, televisiereekse of kort films is. Die lenige Jacques Bessenger is ’n akteur van formaat en kom kook saam in die agtste episode van Lekker en goed met Carmen Niehaus.
Vandag se kykers sal vir Jacques ken van sy rol in die kykNET-reeks Een keer om die son, maar die ouer garde sal hom onthou as die snipperige Mossie in die heel eerste dramareeks wat kykNET gemaak het, Song vir Katryn, met Therese Bam.

’n Coco Pine-drankie met whiskey
Carmen begin die drankie met haar geliefde rooibostee, dié keer Carmién Tea se Coco Pine-weergawe. Sy het intussen ook baie spesiale ysblokkies gereed gekry om in hierdie lieflike drankie te sit. Effe sterk, maar lékker.
Nog voordat daar veel vordering met die drankie gemaak is, is Jacques reg langs Carmen in die kombuis en sy voel lus om hom in die werk te steek. Maar kan die man kook en is hy goed in die kombuis? “Ek wens ek was, maar ek is nie . . .” antwoord hy. “Kos is vir my baie funksioneel. Ek hou baie van kos en ek is lief vir mense wat kos maak. Maar dit [kosmaak] interesseer my ongelukkig glad nie.”
Dit tel natuurlik in sy guns dat hy baie lief is vir tee! “Ek gaan vir jou vandag góói met tee,” belowe Carmen hom en Jacques is slaggereed daarvoor.
Alhoewel hy swart tee verkies, is hy heeltemal gemaklik daarmee om rooibos op die proef te stel. Carmen vertel dat die groen rooibostee die beste manier is om die smaak tussen die twee tee-soorte te oorbrug.
Op die spyskaart

Vandag gaan Carmen vir Jacques steak maak, maar een met ’n lekker kinkel: Marmite T-been steak met ’n goeie skeutjie rooiwyn bygevoeg. Fyngedrukte gebakte baba-aartappeltjies met knoffel, tamatie en fetakaas gaan saam met die steak voorgesit word. En Carmen se kersie op die koek is die outydse koperpennie-wortelslaai, maar natuurlik met ’n nuwe inslag.
Carmen is nie seker hoe Jacques van sy steak hou nie, iets waarop hy ewe sjarmant laat hoor: “Ek hou van my steak soos jy hom maak.”
’n Liefde vir Afrika
Jacques en Carmen gesels al te lekker oor hul liefde vir Afrika. Vir Carmen was die suidekant van Botswana iets besonders. Op sy beurt vertel Jacques, wat reeds deur groot dele van Afrika getoer het, van hoe hulle in Gonarezhou Nasionale Park (Zimbabwe) sonder enige omheining tussen die wilde diere kampeer het. Hy vertel ook van die keer toe die leeumannetjies behoorlik naby hulle kom brul het.
“Ek voel as mens in Afrika ingaan . . . jy wil so half ’n rustic regte egte ervaring hê,” vertel hy. Jaques se tentslapery op die grond laat Carmen egter na haar asem snak. Aikôna, sy verkies maar die daktent bo-op die voertuig!
Die pennie ‘drop’

Alhoewel Jacques sommer dadelik aan die steak wil weglê, keer Carmen hom omdat hulle nog eers die koperpennie-wortelslaai moet maak. “Die pennie het so pas ge-drop,” kom dit van Jacques. “Jy is die skepper van Wenresepte!”
Sy help hom gou reg en noem dat Annette Human eintlik die skepper van Huisgenoot Wenresepte was en dat sy by haar oorgeneem het. Daar het natuurlik ’n hele paar van dié gewilde resepteboeke onder Carmen se naam verskyn.
Sy het reeds altesaam sowat 25 kookboeke gepubliseer.
Die tafel
Hul bestemming? Die oudste kerk in Langebaan en daar reg voor die preekstoel het Carmen die allermooiste tafel met kerse en ’n pragtige tafeldoek gedek.

“Jacques het ’n waardering vir geskiedenis, hy het ’n waardering vir goeie kos en hy het ’n waardering vir Afrika – en hier kombineer ek nou alles in een,” vertel Carmen.
Sy het ook ’n baie spesiale wyn saamgebring – ’n Piekenierskloof Heidedal Cinsaut wat meer as 50 jaar oud is en van bos-stokke gemaak is!
Wat nog?
Vind ook uit hoe Carmen seker gemaak het dat hulle kos in die kol was vir hulle Botswana-avontuur. En Jacques vertel meer oor sy twee gunsteling-bestemmings in Afrika, blikkieskos en kamp-avonture. En ook hoekom hy vandag ’n snor onder die neus het . . .
Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.