Lekker en goed se Carmen Niehause en Herman Lensing ken mekaar van die Media24-gebou in Kaapstad se dae af waar jy volgens Carmen mense óf in die voorportaal óf in die hysbakke raakloop.
“Ek en Herman het gereeld saam in die hysers gery. So ’n jong man wat met soveel entoesiasme die koswêreld betree het. En ek meen, hy maak net magic waar hy gaan,” onthou Carmen hoe sy vir Herman leer ken het.

Klink ’n glasie
Carmen en Herman stem saam – die dag moet rég afgeskop word. Natuurlik met een van Carmen se weergalose drankies, net vir hul “sanity”, erken sy.
Vandag begin hul kook-en-kuier – of is dit kuier-en-kook? – met ’n koue glühwein met jenewer. En rooiwyn . . . Dan kom daar naeltjies, kaneel, lemoen en nog ’n paar ander dingetjies by voordat dit op die stoof beland.
Voeg daarby die gemoedelikheid van oud-kollegas (Herman is SARIE se kosredakteur en Carmen is steeds betrokke by Huisgenoot) wat jare lank nie net in die gebou gesels nie, maar ook talle funksies saam bygewoon het – en jy weet byvoorbaat hier gaan vandag ’n hond uit ’n bos gekuier word.
Glühwein-herinneringe
Glühwein hou vir Herman ’n baie spesiale herinnering in. Hy vertel van die keer toe hy sy ouers na Parys in Frankryk geneem het. Dit was hul eerste en enigste oorsese ervaring. Hulle het by ’n Kersmark opgeëindig en natuurlik was daar glühwein beskikbaar.
“En my ma het hierdie glasie warm wyn so gesit en drink en my ma het eintlik glad nie baie wyn gedrink nie. ‘Nee, my kind, hmm-hmm, wyn op ’n goeie dag is nie vir my lekker nie, maar wárm? Nog minder lekker’. Dit het glad nie vir haar gewerk nie,” onthou hy haar reaksie.
Hy het ’n ongelooflike sterk band met sy ma, Susan, gehad. Sy is in 2019 oorlede. En hy sê Carmen herinner hom ook aan sy ma omdat sy ook daarvan hou om tyd met ander mense te spandeer. Herman beskryf haar as “daai tipiese eerlike mens” en hy dink dis waar sy eie liefde vir mense vandaan kom.
Dankie vir die kos
Terwyl die twee nog stories uitruil, wil Herman by Carmen uitvis hoe lank sy by Huisgenoot was. Toe sy erken sy was ’n volle 32 jaar by dié gesinstydskrif, terg Herman haar deur te sê dis basies so oud soos wat hy is. (Hy word vanjaar 38 jaar oud.)

Herman erken hy spot Carmen baie graag, maar hy is seker sy weet hoeveel hy vir haar omgee. “Maar hierdie kan ek namens die hele Suid-Afrika sê – ek dink nie mense kan ooit genoeg dankie sê vir dit wat jy vir Suid-Afrikaanse kos gedoen het nie,” kom dit in alle erns van die jong kos-baanbreker.
Carmen vertel sy het haar pad met kos met ’n baie spesifieke visie aangepak en as mense daarby aanklank vind, is dit vir haar werklik wonderlik. Haar missie was om net weer terug te keer na eerlike kos toe.
Op die spyskaart
Herman gaan vandag Carmen se jogurtskons met wortel-grenadellakonfyt proe. Dit word afgerond met Carmen se ouma Carmen se veerkoek met melktertvulsel. Dit klink onweerstaanbaar! Die skonsresep is juis die eerste resep wat Carmen en tweelingsus Mientjie se ma hulle leer bak het. En beter kon sy nie kies nie. Herman erken hy is soos klei in iemand se hande wanneer daar skons voorgesit word.
“Ek en my ma het dit skinderbroodjies genoem,” vertel hy. Hy vertel sy ma sou skons, of ’n Cremora- of yskastert gemaak het. Dan sou hulle twee om die tafel sit “en dan die hele familie deur skinder”, bieg hy en erken dit was baie lekker “want ons het geglo ons is die “ghrêndste”.
Op haar beurt het Carmen se ma, oud-onderwyseres, vir hulle touwys gemaak oor verhoudings – vir resepte, natuurlik.
Skon of scone?
Terwyl die twee hope pret in die kombuis het, duik die vraag op: Is dit ’n skon of ’n scone? Carmen vertel dat Afrikaners met die woord “botterbroodjies” vir skons uitgedink het. Maar vir haar het dit net nie dieselfde betekenis nie. “ ’n Skon is ’n skon en dis nou maar klaar,” verklaar sy. En dis beslis nie ’n scone nie, dis ’n skon! Ja-nee, moenie aan ’n skon begin torring nie.
Carmen maak ook haar eie konfyt – aansienlik gesonder, natuurlik – met Carmién Tea se Calm, grenadella en so ’n lekker paar kinkels by.
Daai veerkoek en ’n koek uit ’n miljoen
Dis inderdaad ’n resep wat oor generasies terug strek. “Daar’s rondom daai koek gelag, daar’s rondom daai koek gehuil, daar’s rondom daai koek mooi herinneringe gemaak. Dis hoekom ek dit vandag spesifiek uitgekies het om vir Herman te bak. Omdat ek weet hy het net soveel goeie herinneringe van sy ma,” sê Carmen.
Herman vertel sy ma was ’n planmaker wat op ’n tyd ’n tuisbedryf gehad het. En hy vermoed een van die koeke wat sy gebak het, het heel moontlik uit een van Carmen se Huisgenoot Wenresepte-boeke gekom. ’n Miljoenêrskoek.
Maar, vertel hy, daar was nie ringkoekpanne in die Kalahari waar hy grootgeword het nie. Sy ma het dan ’n gewone ronde koekpan gevat en die regop pilchards-blikkie in die middel gesit. Tot waar haar “ghrênd” suster uit die Kaap uit vir haar ’n ringkoekpan gestuur het.
“Alles wat ek vandag is, is as gevolg van daai miljoenêrskoek. My ma het hulle gebak om vir ons op vakansies te vat, te help om vir my studies te betaal, skool, matriekafskeid, alles . . .” vertel Herman.
Dis nou rêrigwaar ’n koek uit ’n miljoen, is Carmen se reaksie. En dis vir haar belangrik dat Herman vandag hierdie koek versier – sodat dit as ’n ode aan haar ouma, en ook aan Herman se ma, kan dien. “Kom ons gaan skinder,” laat Herman hoor toe hy die klaar-versierde veerkoek na buite dra.
Die tafel

Die lieflike tafel is met Herman se hulp gedek. En daar is so baie rose wat lieflik met die groen landskap kontrasteer. Rose is Herman se ma se gunsteling-blom. Carmen vertel haar pa het ook vir haar ma altyd met verjaardae die grootste bos rooi rose gebring wat hy in die hande kon kry.
Wat nog?
Vind uit hoe Herman se pa sy ma op hul 25ste huweliksherdenking verras het met ’n projek wat jare geneem het. En wat sien Carmen as noodsaaklik om juweliersware besonders te maak?
Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.