Menu terloops
In Wat om te kyk [14 Mar 2025]

‘Lekker en goed’: Episode 10 se resepte


Hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die tiende episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker en Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker en goed’: Episode 10 se resepte

Kopiereg op Lekker en goed-resepte: Carmen Niehaus

Groentesap met rooibos en jenewer 

Lekker en goed

Die heerlike soet groente van Wildeklawer is ideaal om te gebruik wanneer jy groentesap wil pers. Soos wat Andriette opmerk, hoe nader aan die aarde en hoe verder van ’n fabriek jy eet, hoe beter. Carmien se Gut-rooibostee bevat, buiten ’n hittebestande probiotika, ook sigoreiwortel-vesel wat ’n prebiotika is. Albei help met beter ingewande gesondheid. 

250 ml (1 k) varsgepersde wortelsap
125 ml (½ k) varsgepersde beetsap
125 ml (½ k) vars uitgedrukte lemoensap
125 ml (½ k) Carmien Gut-rooibostee (met probiotika), gemaak met 2 sakkies en afgekoel
Sowat 30 ml (2 e) varsgepersde gemmerwortelsap
Paar skyfies vars komkommer
Sowat 2 sopies (50 ml elk) Carmien Floral jenewer
Skyfies vars suurlemoensap
ys

  1. Meng al die sappe saam in ’n beker en voeg die afgekoelde rooibostee by.
  2. Plaas ’n paar skyfies komkommer in 2 glase en giet die sopies jenewer by.
  3. Skink die sap in die glas en voeg ’n paar skyfies suurlemoen by. Rond af met lekker baie ys.

Dhal met geposjeerde eier

Hierdie geurige dhal is heerlik vir ontbyt saam met ’n geposjeerde eier. Piekenierskloof se vlagskipwyn, granache noir, bevat minder tanniene, en is dus nie so swaar nie en daarom ’n goeie kosvriend en die ideale rooi wyn om by ’n laatontbyt te geniet.  

Lekker en goed

Genoeg vir sowat 3 mense (afhangend van hoe honger jy is)
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30-40 min

2 uie, gekap
3-4 knoffelhuisies, fyngekap
15 ml (1 e) vars gemmer, fyngerasper
1 brandrissie, ontpit en gekap (opsioneel)
olie
15 ml (1 e) brejani-masala of geroosterde masala of medium kerriepoeier
2,5ml (½t) borrie
2,5 ml (½ t) paprika
10 ml (2 t) fyn komyn
1 blik (400 g) tamaties in sap ingemaak
500 ml (2 k) rooi lensies, vir ’n halfuur geweek in 1 liter (4 k) water
500-750 ml (2-3 k) roibosteeaftreksel, gemaak met 6 sakkies Carmien Focus (met geurige speserye en borrie)
Sout en peper na smaak
Strooisel suiker
Lemmetjiesap
Groot handvol gekapte koljanderblare

Vir voorsit:
Skeppie natuurlike jogurt 
Geposjeerde eier
Hawermoutsaadbrood of geroosterde suurdeegbrood 

  1. Braai die ui en knoffel saam met die gemmer en brandrissie in bietjie olie tot sag. Roer die speserye by en roerbraai tot geurig, so 5 minute, pas op vir brand.
  2. Voeg die tamaties by en bring tot kookpunt.
  3. Dreineer die lensies en voeg saam met die aftreksel by. Bring weer tot kookpunt en laat prut tot die lensies sag en eintlik tot ’n moes gekook is. 
  4. Geur na smaak met sout en peper asook bietjie suiker en lemmetjiesap en ’n goeie handvol koljander. Laat prut tot geurig, weer so 5 minute.
  5. Skep in borde op en sit voor met ’n geposjeerde eier indien verkies en ’n sny suurdeegbrood of poppadum.

Hoe om die eier te posjeer: Giet 2-3 cm water in ’n pot en bring tot ’n stadige prut. Voeg 45 ml (3 e) witasyn by. Breek die eiers een vir een in die water en posjeer 2-3 minute vir sagte eiers. Skep die eiers uit die water met ’n gaatjieslepel en dompel in yswater. Sit voor saam met die dahl en brood. 

Hawermout-saadbrood 

Hierdie lieflike hawermoutbrood bevat heelwat sade wat buiten vesel ook goeie vette bevat en help om die koolhidraatlading te verminder. Die eiers sorg vir proteïen en die Carmien Gut-rooibostee verskaf pre- en probiotika wat ingewande gesondheid ondersteun.  

Maak 1 medium brood
Bereiding: 15 min
Baktyd: 40-50 minute

625 ml (21/2 k) hawermout, verkieslik glutenvry
250 ml (1 k) gemengde sade, insluitend sonneblom-, pampoen-, sesam- en lynsaad
60 ml (1/4 k) psylliumvesels
12,5 ml (2½ t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
4 eiers
45 ml (3 e) klapperolie, gesmelt
250 ml (1 k) Carmien Gut rooibos (gemaak met 2 sakkies)
15 ml ( 1 e) appelasyn
gemengde sade of sesamesade vir bo-op sprinkel

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ’n klein broodpannetjie en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.
  2. Meng die droë bestanddele goed saam.
  3. Klits eiers, voeg klapperolie, water en appelasyn by en klits goed.
  4. Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Laat staan 10 min tot stewig.
  5. Skep in pannetjie, druk effe plat en sprinkel nog bietjie sade bo-oor.
  6. Bak sowat 40-50 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Sit voor met die dhal. 

In lugbraaier: Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C. Bak 30 minute lank, bedek die brood na 15 minute met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak bo-op.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies