Menu terloops
In Gons [15 Mei 2025]

‘Koortjies’ op kykNET&kie slaan hoë noot  


KykNET&kie se gewilde gospelprogram ‘Koortjies’ vier dié Sondag (18 Mei 2025) sy 200ste episode.

‘Koortjies’ op kykNET&kie slaan hoë noot  

Vir die 200ste episode, verwelkom Koortjies se aanbieder, die Pinkstersanger Elwira Standili, haar voorganger Jonathan Rubain terug in die ateljee om dié program se mylpaal-episode te vier. 

Jonathan was die aanbieder vir vier seisoene sedert die eerste episode in April 2020 uitgesaai is. Elwira het in Julie 2024 Koortjies se leisels by hom oorgeneem. 

Elwira het aan Terloops meer oor haar Koortjies-reis en wat die program so gewild maak vertel. 

Oor die rol wat Koortjies in mense se lewens vervul:

“My suster het dit so mooi gesê: ‘Die fondasie van Koortjies is gelê in ’n tyd toe die kerk dit die nodigste gehad het.’ 

“In daai stadium, met Covid, het ons nie die geleentheid gehad om op ’n Sondag te kon kerk toe gaan nie. Maar jy sal voor die TV sit, sewe-uur die aand op ’n Sondag en jy sou ’n akkurate beskrywing kry van wat kerk is . . . Kerk waaraan ons gewoond was. 

“Jy word ingespuit met wat jy ook al nodig het om jou volgende week die moeite werd te maak. Jy kry Woord, jy kry inspirasie, jy kry motivering, jy kry lofsange, jy kry die worship. Dís alles dinge wat ons in die kerk doen. Daar’s nog ander sulke programme, maar ek dink dit was vir ons mense verfrissend want dis hoe ons kerk kén.

Koortjies was besig met ’n oorgang, en ons gooi nou die net wyer vir verskillende kunstenaars. Dis nie meer net die bruin kunstenaar wie se musiek jy gewoond is om na te luister op YouTube wat jy nou op Koortjies sien nie. Ons bied nou geleentheid vir opkomende kunstenaars vanuit ander agtergronde ook. Want dis hoe ons kerk dit doen. Ons sing letterlik alles in die kerk en dit is wat ons op ’n Sondagaand op Koortjies sien.

Oor Koortjies se gewildheid:

“Iemand het vir my die mooi woorde eendag gesê, ’n ou vrou wat ’n afgetrede onderwyseres is, en sy sê vir my: ‘Koortjies vul my lewe, Elwira, jy vul my lewe’. Daar’s mense wat niks anders het om na uit te sien nie, maar wanneer hulle op ’n Sondag voor die TV sit, dan vul ons soveel gapings in mense se lewens. Ek dink dis hoekom Koortjies so gewild is”

Oor die impak wat haar rol as aanbieder van Koortjies op haar gehad het:

Koortjies, Elwira Standili, Jonathan Rubain
Elwira het in Julie 2024 Koortjies se leisels by Jonathan Rubain oorgeneem. 

“Dit laat my so ná aan mense voel en ek dink dit laat mense so na aan my ook voel, want ek sit letterlik in mense se sitkamers, elke week. Daar is ook die gemaklikheid wat mense het om vir jou te sê: ‘Elwira’, of dit nou iemand is wat uit ’n kar uit waai en net sê dankie vir Koortjies, of iemand wat ek in die winkelsentrum kry wat sê, ‘Meisie, ek het daai outfit gelaaik’. Dit word werklik ’n gemeenskap van mense wat so lief is vir mekaar en net vreugde en vrede vir mekaar gee.

“Ek geniet dit ook om na mense se stories te luister. Ek praat nou van die dag wanneer ons skiet. Die ontmoetings wat ek met mense het – ek koester dit absoluut. Ook die feit dat mense oopmaak en hul stories op so ’n kwesbare manier vertel. As ek my gaste gemaklik laat voel, dan gee hulle absoluut 100% hul stories. So raak dit iemand by die huis en so verander ons mekaar se lewens deur net ons getuienis te deel.

“Dan is daar ook die gewigtigheid en verantwoordelikheid wat ek as aanbieder ervaar, om seker te maak wat ek in die openbaar sê, om te kyk hoe ek met mense omgaan. Ek was in die openbare oog voordat ek Koortjies aangevat het, maar ek voel ek moet nou ekstra waaksaam wees. Want aan die einde van die dag verteenwoordig ek die ultimate brand – ek verteenwoordig Christus. 

“Ek wil baie graag hê mense moet daardie vlak van gemak met my ervaar om na my toe te kom en selfs ’n drukkie te gee.”

Oor die boodskap wat sy vir Koortjies se kykers wil gee:

“My boodskap aan my Koortjies-familie – ek gaan nie sê Koortjies-kykers nie – is dat ek graag vir hulle dankie wil sê, vir hoe gracious hulle met my was met die oorgang van Jonathan (Rubain) na my toe.

“Baie dankie vir die liefde wat ek ervaar. Baie dankie vir die positiewe terugvoer wanneer ek my Facebook oopmaak. Dit laat my so goed voel. Dit laat my voel asof ek aanvaar word net soos wat ek is, met al my nicks en tricks. Ek is baie dankbaar daarvoor. 

“Hou aan kyk, hou aan om ons te ondersteun want daar sal nie ’n Koortjies wees sonder kykers nie. Ons gaan aanhou om elke Sondagaand vir julle pragtige kykstof te bied. Laat die musiek aanhou kom, laat weet vir ons wie en wat julle graag wil sien. Ons luister vir julle en ons gaan saam met julle Koortjies verder bou tot waar dit wêreldwyd ’n verandering maak. Ek sien uit daarna om die volgende seisoene saam met julle deur te bring.”


Koortjies saai Sondae om 19:00 op kykNET&kie en DStv Stream (DStv-kanaal 145) uit. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies