Industry volg die bankiers Harper (Myha’la Herrold), Yasmin (Marisa Abela) en Robert (Harry Lawtey) soos hulle hul identiteite binne die seks- en dwelm-aangedrewe drukkoker-omgewing van Pierpoint & Co se kantoor in Londen bou.
In die tweede seisoen van die reeks is daar veel meer op die spel vir dié trio. Die mark is besig om te skeur, en met Pierpoint se nuwe post-Covid-mandaat dat werknemers moet terugkeer werk toe of tjaila, is die handelsvloer meer gespanne as ooit. Boonop is daar nuwe Amerikaanse bestuur wat petrol op die vlamme gooi.
Die eerste seisoen het verskeie toekennings gewen en vyfster-resensies gekry. Soos Collider dit gestel het, Industry is asof “Euphoria en Billions ’n baba op HBO gehad het.”
Die reeks is geskep deur twee voormalige bankiers wat presies weet hoe dié wêreld werk: Mickey Down en Konrad Kay.