In die 12de episode van kykNET se werklikheidsreeks In die Sop: Restaurant Evolusie bevind sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf hulself in die kroondorpie van die Karoo, Prince Albert. Meer spesifiek: die alombekende Swartberg Hotel se Victoria Room.
Bertus kan nie wag om sy hande op dié ou eetkamer te lê nie. Om van blink planne nie te praat nie.
Die belangrikste vertrek
Ronél Pieterse, mede-eienaar van die hotel, sê sy het eintlik die In die sop-span vir twee weke later “bestel” want sy het onlangs ’n heupvervanging gehad en kan nog nie regtig sonder krukke oor die weg kom nie.
“Die Swartberg Hotel, behalwe laat hy natuurlik in die middel van die dorp sit en dat alles so maklik bereikbaar is van hier af, bied dié hotel vir jou rêrig alles,” sê Ronel.
Daar is ’n spa, ’n dameskroeg, ’n gin-kroeg en vir haar die “verskriklike belangrike a la carte-restaurant, die Victoria Room”. Sy vertel ook baie van die gaste bly meestal net in en rondom die hotel want alles wat gebeur, gebeur daar.
“Daai vrieskas is net ’n probleem, nog altyd. Maar onthou, Daan, daai ding is baie oud,” vertel sy die mede-eienaar van die hotel. Sy reaksie? “Ek is ook oud, maar ek werk nog . . .”
“Ons was baie jare in die boerdery, ons het vier kinders. Al vier het professionele grade en het glad nie belang gestel om te boer nie.
“En ek en my man het besluit om uit te klim uit die boerdery en is ons genader deur die Mont d’Or-groep. ‘Wil ons dalk inkoop? Sou ons belang stel?’
“Ons het onmiddellik verlief geraak op die dorp, dié Prince Albert,” sê Ronél en vertel dat Daan op die daad seker was dat dit wel vir hulle ’n opsie is.
Daan (Danie) Pieterse is die mede-eienaar van die hotel en hy beskryf Ronél as ’n baie dinamiese mens.
“Sy vat vas en die groot sukses van hierdie hotel is eintlik aan haar te danke,” kom dit van Daan.
Ronél is duidelik gaande oor die Victoria Room, wat sy as die belangrikste vertrek van die hotel beskou.
“Die ambience hiervan, die meubels . . . Dit bly élke dag wat ek by die hotel aankom en ek doen my ronde deur hierdie pragtige a la carte-restaurant, dan kry ek so ’n spesiale gevoel.”
Ian en Michelle Rout is gek oor die geskiedenis wat in die Victoria Room vasgevat word. En Michelle beskryf dit as ’n ware Karoo-hotel.
Gallery-eienaars Erika en Dewald van Zyl dink ook dis ’n ongelooflike mooi plek.
“Wat ek baie hou van [die] Victoria Room is dat daar soveel van die ou goed is. Jy weet, daar’s rêrig ’n antieke, ’n mooi kaggel en daar’s rêrig mooi, mooi goed. Die skilderye daar is lieflik,” kom dit van Erika.
Ronél vertel dat die hotel met hul aankoms daar baie verwaarloos was en dat hulle die afgelope ses-sewe jaar lank nog daagliks besig is om te bou en te breek. En hulle is nog nie klaar nie!
“Die dekor, dink ek, probeer ’n goeie beeld gee van ’n outydse wêreld, maar dit is vir my donker, die atmosfeer is vir my half swaar,” sê ds. Phillip Scholtz.
“Die wallpaper, dis baie oud en ek dink dit kan ’n bietjie ligter wees,” kom dit van Ian.
Bertus onthou
“Kyk, ek het meer tyd in hotelle spandeer as ’n kind as wat ek dink meeste kinders doen. Elke keer as wat my pa ’n nuwe pos vat in ’n nuwe dorp, het ons in hotelle gebly vir ’n rukkie.
“En die goed wat ek onthou is ou waiters met strikdasse en onderbaadjies. Melba toast met balletjies.”
Die spyskaart
“Kyk, ons a la carte-spyskaart is redelik lywig. Ons het ’n hele paar voorgeregte, ons het hoofgeregte, nageregte en dan het ons ook probeer inbou, jy weet daai gluten free, die vegetariese disse, ook die vegan disse,” verduidelik Ronél hul spyskaart.
Malcolm Gruneberg, een van hul baie lojale kliënte, bevestig dat daar ’n baie groot verskeidenheid op die spyskaart is. “Daar’s nie fout nie,” kom dit van hom.
Ronél verduidelik dat hulle by die hotel met 50% buitelanders en 50% plaaslike mense deel.
“So, die behoefte is groot. Wanneer ’n gas kom om aandete te geniet, dan wil hy ’n verskeidenheid hê,” sê sy en noem dat sy ’n tydjie gelede begin het met ’n meningsopname onder hul gaste om onder andere uit te vind wat hulle van die verskeidenheid disse dink.
“Dis ons afdeling wat die minste punte kry, en ek weet nie heeltemal hoe om dit op te los nie,” erken Ronél. “Ek is net nie daar nie . . .”
Sy noem ook dat baie van hul toerusting in die kombuis baie oud is en dat hulle deurentyd besig is om goed reg te maak.
Skilderye en ’n spokerige storie
“Kyk, wat baie belangrik is om te noem dat die twee skilderye . . . is eintlik maar die middel-fokuspunt van die a la carte-restaurant. Die dametjie in die skildery, haar vryer het haar verneuk en sy’t hom vermoor.
“Nou, gaste kom hier en dan neem hulle geweldig notisie daarvan en hulle neem dit baie ernstig op want die storie is dat, as jy in die winter in die a la carte-restaurant sal sit, en daar’s veral ’n kaggelvuurtjie wat brand, sal die flikkering van daai kaggelvuur baie keer maak dat jy bloed op die water sien, en dat sy selfs ’n bietjie nader aan jou sal beweeg.
“Maar nou moet ek erken, soms kan ek nie nalaat om vir die gaste te sê ‘Meneer, ek is seker daarvan as jy nog wyn drink, gaan jy daai sien’,” kom dit met ’n vonkel in die oog van Ronél.
Wat mag Misi en wat mag Misi nie?
Ronél is baie duidelik daaroor dat die skilderye moet bly waar hulle is. So ook die antieke buffet wat dekades reeds in die vertrek staan.
“Wat die res betref, ek voel vir ’n lang tyd al die Victoria Room is ’n bietjie donker, ’n bietjie swaar. Maar ek het nie die kennis om te besluit wat moet ek hier doen om nog steeds daai ryke ambience te behou, maar dit so bietjie ’n nuwe look te gee nie.
Met “sy’t ’n vry hand” gee Ronél vir Misi toestemming om met die res van alles aan te vang wat sy wil.
In die sop
Ronél sê dit was Daan wat met die idee na vore gekom het om In die sop te nader, en alhoewel sy aanvanklik vies was daaroor.
“Want in die sop beteken dis in die sop. Maar, soos die Engelsman sê, along the lines het ek agtergekom dat ‘in die sop’ het ’n ander betekenis ook en dit is ons ‘in die sop’ lê daar dat hierdie restaurant moet die kersie wees van die Swartberg Hotel-koek en hy is dit nog nie.”
Sy voel ook dat hulle nie so goed soos van die ander restaurante in Prince Albert presteer nie en dat die pap gereeld op die grond val met dit wat uit hul kombuis kom.
Erika en Dewald sê hulle besoek die Swartberg Hotel gemiddeld twee keer ’n week, maar die Victoria Room sowat een keer in ses maande. Op sy beurt sê Ian die spyskaart het dieselfde gebly van 2017 af.
“Ek is nie ’n vreeslike goeie kok myself nie, ek wens so ek het die vermoë gehad om hierdie Victoria Room óm te draai, maar ek weet nie hoe nie,” erken Ronél.
Bertus arriveer
“Jissie, ek kan nie glo die plek is al 150 jaar oud nie. Dis amazing. Genade,” is sy eerste reaksie.
Ronél is gelukkig nie op haar senuwees om hom te ontmoet nie. Sy sê hy kom vir haar kalm voor en dis duidelik dat hy empatie het met die mense op In die sop.
Sy vertel vir Bertus dat daar volgens verskeie gaste glo ’n spook (dalk meer) hier rondloop, maar dat sy self nog nie dit ervaar het nie.
Toe Bertus haar uitvra oor hoogtepunte van die hotel, is Ronél vir ’n wyle uit die veld geslaan.
“O, bl*ksem,” is haar eerste reaksie. Sy sê sy is gewoonlik iemand wat goeie selfbeheersing het en nie sukkel om haarself uit te druk in woorde nie. Maar sy het onverwags gesukkel om haar gedagtes te orden.
Dit eindig op ’n komiese oomblik toe Bertus wil weet wanneer hulle die hotel oorgeneem het.
“Die hotel toon ’n duidelike groei vandat ons oorgeneem het in 18 . . . Waar’s ek nou?” wil sy verbaas weet.
Bertus laat nie op hom wag nie: “1872? Ek het die spook gekry!”
Hy sê vir Ronél dat dit nie lyk of hulle in die sop is nie, maar dat hy graag die geleentheid gebied wil word om ’n ikoniese ou eetkamer oor te doen, veral in die Karoo.
“Ek dink ’n ou hotel-eetkamer is vir my so mooi en ek hoor julle het die Victoria Room. Kan ek asseblief daar gaan kyk?”
Met die intreeslag beskryf hy dit as ’n uitsonderlike eetkamer. Maar toe hy hoor hoe uitgebreid hul spyskaart is, laat hy sonder huiwering vir Ronél weet hy hou daarvan om spyskaarte te krimp.
Die kombuis is verwaarloos en Ronél verduidelik dat daar gereeld iets anders voorval wanneer hulle planne maak om dit beter te maak. Verf, nuwe toerusting en baie aandag is beslis nodig.
Proetyd
Die porsies is beslis nie skamel nie. Ronél verduidelik dat hulle hul lamsvleis in George aankoop omdat daar nie iemand in die omgewing is wat grootskaal genoeg kan produseer vir hulle behoeftes nie.
Die dubbel-gebakte soufflé word met plaaslik-vervaardigde kaas voorberei.
“Jy kan sien daar is iemand wat kán kook in die kombuis. Natuurlik, dis wat belangrik is – iemand wat kan kosmaak. Die loin-tjoppie is rêrigwaar baie goed gaargemaak. Perfek pienk,” sê Bertus.
“Die smaakprofiele is heerlik. Ek meen, daai vyepoeding was fantasties gewees. Jy kan definitief die benadering ’n klein bietjie verander, ’n klein bietjie varser hou en ’n klein bietjie meer moderner, natuurlik. Maar nog steeds met een oog natuurlik op ons geskiedenis en nostalgie en Suid-Afrikaanse nostalgiese smake,” laat Bertus hoor.
Ronél is aangenaam verras met Bertus se positiewe terugvoer.
Op sy beurt mik Bertus om van ’n diensperspektief veranderinge teweeg te bring rondom goed wat nie meer bestaan nie.
“So, as gaste kom sit, wil ek baie graag vir mense ’n bietjie Melba toast gee. Dit herinner my aan ou hotelle toe ek ’n kind was.
“Ek dink as dit kom by soort van groente en aartappels natuurlik, wil ek baie graag hê dat die kelners by die tafel kom opskep, ’n bietjie silver service doen,” sê hy.
“En ek dink iets soos ’n pudding tray of ’n desert trolley, ’n pudding trolley, kan rêrig stunning wees, want dis . . . die eetkamer vra daarvoor.”
Misi en Bertus
Bertus sê vir Misi dis ’n eer om so ’n ou eetkamer te kan oordoen.
“Ek dink dieselfde, Bertus. Toe ek my lipstick aansit . . . ons gaan nou vir ’n ander ou dame ’n mooi lipstick aansit,” sê sy.
Bertus bevestig dat In die sop se fokus op die kombuis en Victoria Room gaan wees. Misi is vasberade om op die ouwêreldse sjarme van die hotel te fokus. Sy sien swaar eetgerei, fyn glase en ’n gedekte tafel in die Victoria Room se toekoms.
Bertus wil op Karoo-kos op die outydse manier fokus. En toe hy die trollies noem, is Misi slaggereed met twee trollies byderhand.
Dag 1
Ronél beloer die ontruiming van die Victoria Room met groot oë. Sy en Daan mis nie ’n enkele episode van In die sop nie, maar die werklikheid dat dit hier gaan gebeur, sink nou in.
Chris Coetzee, elektrisiën, sien uit daarna om die kandelare te poleer om hulle weer mooi te laat lyk. Maar hy het ook ander belangstellings – hy is die man wat gaan kyk of hulle die antieke muurhorlosie weer kan laat “ghong”, aldus Misi.
En Ronél glo dat Misi haar reg lees en sal weet wat spesiaal vir haar sal wees.
Ook in die kombuis word gewoel en gewerskaf, losgeskroef en uitgedra.
Kort voor lank word een vel muurpapier na die ander verwyder terwyl Ronél en Daan dit gadeslaan. Daan is verlig dat die mure wat nou blootgelê is, in ’n beter toestand is as wat hy aanvanklik gedink het.
Ronél kon nie die emosies keer toe sy besef dit is inderdaad die laaste keer dat sy die Victoria Room gaan sien soos wat sy dit oor die afgelope bykans sewe jaar leer ken het nie.
Misi is baie bly om te weet, soos wat sy verwag het, dat hier ook ’n kamer gaan wees wat volgepak is met goeters . . . en sy en dekorkoördineerder Elize Buys kies koers na ’n skatkis van prente en “nog ’n paar lekker goedjies”.
Dag 2
Misi verduidelik dat, ten spyte daarvan dat dit ’n klein spasie is, daar baie werk is wat wag en moet gebeur.
Sy vertel vir Bertus dat Chris “inge-zone” het op die muurklok en dit aan die werk gekry het! En natuurlik blink dit want Chris is ’n man wat hou daarvan om dinge tot hul volle glorie te herstel.
Bertus en Ronél gaan na Gay’s Dairy toe vir Karoo-kosinspirasie. Bertus noem Gay van Hasselt een van die grootste kosgeeste in Prince Albert en dat hy absoluut gek is oor haar kaas.
Gay verduidelik dat die belangrikste aspek van Guernsy-melk is die proteïene in die melk. Dit is die A20-proteïen, dieselfde proteïen wat in mens- en bokmelk gevind word. Daarom kan mense wat allergies is vir melk, van Gay se produkte geniet.
Sy maak sowat 10 verskillende soorte kase, asook jogurt, drinkbare jogurt en amasi vir die plaaslike inwoners.
Bertus is in die sewende hemel want hy het ’n groot liefde vir kaas, en toe dit kom by die proetyd van Gay se kase, het hy behoorlik geswymel.
Intussen is Paintmaster se span besig om groot verandering in die Victoria Room te bewerkstellig. Hulle maak van ’n groot taak maklike werk, vertel Misi. Maar dit keer haar nie om al die manne in die kombuis aan te jaag nie. Twintig minute, dan moet hulle almal uit!
Oor ’n koppie tee by Prince Albert Country Stay erken Ronél dat haar gemoed ’n bietjie op-en-af is, alhoewel sy ook opgewonde voel. Die spyskaart is vir haar ’n bron van kommer. Sy hou nie daarvan om die leisels oor te gee nie en sê haar kinders terg haar gereeld en sê sy is ’n beheervraat. “En ek erken dit.”
Bertus sê hy dink die probleem met die eetkamer is dat Ronél-hulle iets vir almal probeer wees “maar as jy iets vir almal probeer wees, is jy op die ou end niks vir niemand nie”.
By Victoria Room stap Misi die vertrek binne.
“Dis ’n baie seldsame oomblik, die hele restaurant is leeg, en ’n oomblikkie kan ek vat en die vordering waardeer.”
In die kombuis is sjef Raheem en sjef Armand lekker besig. En Bertus raak net al hoe meer opgewonde.
Dag 3
Misi sê dis net die details wat nou afgerond moet word. Die twee portrette is op pad terug na die muur, die blinkgepoetste klok tel die minute af en die tafels word gedek.
In die kombuis word slakpasteie gemaak wat met knoffelbotter afgerond gaan word.
“So, ons maak flippen lekker slakpasteie in die Karoo, jong,” kom dit van ’n opgewonde Bertus.
Een van die trollies gaan vir die sop ingespan word. Daarna gaan dieselfde trollie vir die bykosse gebruik word terwyl die tweede trollie vir die nageregte voorberei gaan word.
“My pa was ’n diplomaat en my ma was baie fyngekunsteld – so, ek het die voorreg gehad om altyd by ’n mooi gedekte tafel te eet,” vertel Misi.
Kort voor lank laai Daan vir Ronél af voor die hotel.
“My gedagtes is tog ’n bietjie van ’n warboel,” erken Ronél. Sy vertel vir Bertus sy voel opgewonde en emosioneel. Hy vat haar eerste na die kombuis toe omdat hy dink die kombuis is goed, maar dat die eetkamer vir hom die hoogtepunt is. Hy wil dit graag vir haar tweede wys.
“Nee! Julle . . ! Dis ’n ander kombuis, dis heeltemal . . . Ag nee, dis oop, skoon. Ag, Bertus,” kom dit van ’n verstomde Ronél.
“Ja, In die sop-span. As dit is hoe dit hier lyk, dan weet ek nie of dan kan ek nie wag vir daai a la carte-restaurant nie,” sê sy.
Bertus, die ewige terggees, kan homself nie keer nie. “A la carte?! Ons het ’n burger-plek gedoen,” en dit was so hittete of Ronél het hom geglo.
“Nee! Dis prentjiemooi!” En toe’s Ronél se woorde vir ’n wyle weg.
“Dit is ’n fees vir die oog. Dis baie outentiek. Regtig. Dis pragtig. In die sop, ek het nou ’n oomblik nodig,” kom dit sagkens van Ronél. “Ou-wêrelds. Enig in sy soort. In die sop, dis pragtig,” en toe kom die trane.
Sy is net so bly toe Bertus haar daarop attent maak dat die klok weer werk. En hy sê vir haar dis sy tipe kontrei-eetkamer en dat Misi en haar span baie pret gehad het om dit op te kikker.
“Dit voel soos ’n eetkamer wat al hier staan vir die afgelope 100 jaar, maar dis vernuwe en dis vars en dis mooi en dit hunker terug na ons kosgeskiedenis toe op ’n baie mooi, respekvolle manier,” sê hy.
“Weet julle wat slaan my asem weg? Is al daai klomp ou goed wat ek in my stoor gaan wegpak het. Dis mooi, dis nostalgies, dis ou-wêrelds. Daar’s ’n stukkie eenvoud daarin.
“Hoorie, dis die dak saam met die mure – dis soos ’n eenheid. Ons ligte is blink en gepoets. Daai koper lyk soos wat dit moet lyk. Tot die kaggel, tot die spieël lyk anders. Ek moet sê dat dit het my wildste drome oortref,” sê Ronél.
Die groot vraag is natuurlik: Gaan die skilderye nog spook?
Proetyd
Bertus verduidelik aan Ronél en Daan dat daar besluit is om eenvoudige kos op ’n eenvoudige manier voor te sit.
Daar is lamstjops met chermoula, gepekelde vis, hoender op die rooster met bykosse en nageregte wat jou vir lank drome gaan laat droom oor hierdie disse.
En toe Monique met die trollie binnekom om sop op te dis, voel Ronél dat alles nou perfek inpas.
Die gaste, bestaande uit lojale kliënte, bure en vriende, het die verandering blinkoog gadeslaan en heerlik saam geëet. Ook Malcolm, wat tergenderwys mik om ’n wegneemsakkie te vra . . .
En Bertus?
“Ek het dit al baie gesê, en ek sal dit weer sê… Binne-in my kruip daar ’n ou Afrikaanse tannie weg wat hou van ou goed. En in elke voorkamer in Suid-Afrika is daar ’n familiekas met oudhede. Dit is wat hierdie plekke vir ons is.”
“Daar is nie enige plek in die wêreld waar jy hierdie ervaring gaan hê wat jy nou by die Victoria Room in die Swartberg Hotel gaan hê nie,” verklaar Misi.
“It doesn’t have to be over the top, jy moet net f*kken lekker wees,” sê Bertus toe hy vadoek-oor-die-skouer vir oulaas wegstap van hierdie ou dame.
In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.