Menu terloops
In Recaps & Resensies [15 Mei 2024]

‘In die sop’: Nostalgie en stasiekos herleef langs die treinspore in Middelburg


In die 11de episode van kykNET se werklikheidsreeks ‘In die Sop: Restaurant Evolusie’ se derde seisoen, is sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf se teiken Middelburg in Mpumalanga.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk nou

‘In die sop’: Nostalgie en stasiekos herleef langs die treinspore in Middelburg

Dié uittog is ’n eerste vir die span wat hoofsaaklik in die Wes-Kaap aktief is.

Die treinstasie, wat in 1895 hier voltooi is, is waar hulle weer ’n restaurant evolusie teweeg gaan bring. Johan Janse van Rensburg en Liezl Prinsloo sien om na die stasie en dis hier waar hulle ’n restaurant, heel gepas getiteld Stoom Pub & Grill, oopgemaak het. 

Maar hulle het effe uit stoom gehardloop en In die sop se span is hier om te help.

Tussen treine

In die sop
Johan Janse van Rensburg en Liezl Prinsloo sien om na die stasie in Middelburg en dis hier waar hulle ’n restaurant, Stoom Pub & Grill, oopgemaak het. Foto: Verskaf

Liezl se pa en oupa het beide op die spoorweë gewerk en sy glo dis waar haar liefde vir die bedryf, en veral treine, wortel geskiet het. Johan beduie na die museum wat deel is van die stasie. Sy pa se vakleerlingkontrak van 1962 is daar teen die muur gemonteer.

Johan vertel hy het kleintyd baie graag op die lokomotiewe rondgespeel, ’n liefde wat hy en sy pa gedeel het. 

“As ons na plekke toe gegaan het, tjoe! Eerste waar’s die lokomotiewe. Ons kyk die lokomotiewe,” vertel hy.

Liezl vertel dit was Johan se ontmoeting met een van die bekendste stoomtreine ter wêreld, die Red Devil, in die Kaap waar die saadjie geplant is.

’n Vriendin het hulle van Middelburg se stasie vertel.

“Ons het die stasie gekry in ’n baie vervalle toestand. Die stasie was rêrig . . . Hulle het al die koperpype gesteel, die geyser . . . Enigiets wat metaal is, is uitge-strip, en die tuine was vuil. Die kakiebos was op die platform seker so hoog gegroei,” sê Johan en beduie heuphoogte met sy hand.

Hulle huur wel die perseel by PRASA, maar voel baie sterk dat iemand na die stasie moet kyk. En op ’n dag het hulle ’n groot skoonmaakdag daar gehou en die gemeenskap daarby betrek. 

In die sop
Johan en Liezl vertel hoe die restaurant tot stand gekom het. Foto: Verskaf

Die begin van Stoom

“Dit help nie ons het die stasie nie, ons moet ’n inkomste kry. En ons begin toe sê . . . kom ons begin ’n restaurant en ons het op die naam gekom Stoom Pub & Grill,” vertel Johan.

Hy het groot planne en wil ook die enigste stoomtreinoperateur word in Mpumalanga, maar “ja, dis nie net vinger klap en dinge gebeur nie”.

Bymekaarkomplek

Corrie Erasmus en Marietha Stamatiou is twee van Stoom se lojale kliënte en vir hulle is dit ’n lekker kuierplek om by uit te hang.

“Jy kan jou honde saambring, jy kan die kinders saambring. So, dit raak letterlik soos ’n familiebyeenkoms as ons daar sit en kuier,” sê Marietha.

Ook Lappies en Mary Labuschagne geniet dit om naweke daar te gaan sit en male sonder tal gaan kyk as die treine inkom.

Stoom

Daar is ’n buitegedeelte met sitplek en ’n verhoog wat deur ’n tent bedek word. Dan is daar die gedeelte wat aanvanklik die koffiewinkel was, maar Johan voel dit gaan dalk meer deel van die restaurant word.

Daar is ook twee museumkamers waar al die museumstukke en die “ou goedjies” van die spoorweë uitgestal word.

“ ’n Mens kuier baie lekker daar. Ek geniet dit om net daar te sit en bietjie te kyk hoe die mense sing,” vertel Lappies oor die buitegedeelte.

“Daar’s gereeld kunstenaars. Oom Brian [Voget] . . . Ons love oom Brian. Dit skep net ’n ander atmosfeer as ’n jukebox,” sê Adele du Toit, nog ’n lojale kliënt van Stoom.

Joyce Watkins is nie net ’n lojale kliënt nie, sy is ook Brian se ma. Dit was juis vanweë Brian se optredes by Stoom dat sy vir Johan en Liezl leer ken het.

“[Brian] sing vir troues, verjaarsdae, divorces, geboortes . . . Hy sing vir almal,” vertel sy trots.

Sy sê ook Johan en Liezl is baie gaaf, ook teenoor ouer mense, “especially me. I always get ice cream, maar hul gasvryheid tel vir baie [mense] daar”.

Die spyskaart

“Wat ons alles hier kan bedien, is natuurlik jou gewone pub-kossies en dan die bekende ding is deesdae jou loaded fries,” sê Liezl.

“Jy eet uit ’n graaf uit, sommer iets wat ons self opgedis het. Ons sit maar al die goeters bymekaar,” vertel Johan.

Is daar wel iets wat nie van die spyskaart af kan verdwyn nie? Johan lag en sê dis ’n vraag wat aan die land gevra moet word. Dit is hul pepper steak [pastei], sê Adele.

“Hulle stasie-pies is ’n hot hit,” kom dit van Joyce.

“Dis ’n goeie pie, dis nie ’n garage pie nie,” beaam Corrie. 

Johan kan nie wag dat Bertus hierdie gewilde pastei self op die proef stel nie. Hy beskryf hulle pastei as perfek en noem dat dit drie maande geneem het om dit tot op daardie vlak van tevredenheid te kry.

Die kombuis

Johan sê die oomblik dat daar meer as drie of vier mense in die kombuis is, begin hulle mekaar raak te trap. Die toerusting in die kombuis is hoofsaaklik van tweedehandse of pandjiewinkels afkomstig en dan word dit deur hulle self reg gemaak.

Juggle. Ons juggle die hele tyd,” vertel Johan.

In die sop

“Ons is huidiglik in die sop omdat ons ons eie geld in die stasie gedruk het om die stasie te laat hardloop en aan die gang te hou. Die restaurant alleen kan nie die stasie dra nie. Ons resources is huidiglik tot op rock bottom, as ek dit so kan stel,” sê Liezl.

“Johan het sy geld hier ingedruk, ek het my werk en alles opgegee om hier voltyds te wees, want dis ’n passie vir my en Johan.”

“Toe ons die dag oopmaak Oktobermaand en ons maak die stasie oop vir die mense . . . Ons het met R100 begin,” vertel Johan.

Die twee het twee jaar lank alles self en alleen gedoen. Hulle was daar 24 uur ’n dag, elke dag van die jaar.

Hoe voel dit om te erken dat hulle hulp nodig het?

“Ons is gedreineer, ons is moeg. En ons kyk altyd maar na mekaar. As die een bietjie swak is, is die ander een daar,” sê Liezl. “Wat dit moeilik maak om vir hulp te vra – ons is net anders grootgemaak.”

Johan vertel dat hy 12 jaar lank vir die grootste staalmaatskappy op die dorp gewerk het, en die volgende 12 jaar daarna sy eie besigheid gehad het. 

“Toe kry ek Covid,” en skielik is Johan se trane baie vlak. Volgens Brian het Johan by die dood omgedraai en hy moes van sy besittings ontslae raak om kop bo water te hou.

“Die plek lê my baie, baie na aan die hart. Alles wat in daai museum is, wat my pa s’n was, is vir my . . .” en toe raak sy woorde op. Liezl voltooi sy sin vir hom: “Dis uniek en spesiaal.”

Bertus arriveer

In die sop
Bertus meen die stasie lyk soos dié van Richard van der Westhuizen se lied “Tussen Treine”. Foto: Verskaf

“Sjô, dit lyk vir my soos die stasie waar Richard van der Westhuizen ‘Tussen treine’ geskryf het. Stunning,” is sy eerste indruk van die pragtige stasiegebou.

“Wat gaan Bertus vir ons sê? Dis waaroor ons worry,” kom dit byna uit een mond van Johan en Liezl, al te oulik uitgedos in hul Spoor-uniform. En hulle wonder wat sy terugvoer gaan wees op hul pasteie en ander disse.

Bertus wil weet of daar nog treine verby die stasie kom. Inderdaad, bevestig Johan en sê die steenkool- en chroomtreine kom gereeld verby. Die vorige dag het die spoggerige Rovos Rail daar ingestoom.

Bertus glimlag toe hy hoor van die loaded chips op ’n steenkoolgraaf. Binnekant Spoor wil hy weet of die hout ou dwarslêers (sleepers) is. Dit is, en daar is ’n wonderlike storie hoe die twee dit op eie houtjie gemonteer gekry het. 

“Ons het in die aande alleen hiersô met ’n bottel Beyerskloof . . . het ek en sy die goed self opgetrek, toue hier om die pale, en dan ry sy met die bakkie en dan trek ons dit tot by die dak uit en maak dit vas,” vertel Johan.

Wie’s Oom Bokkie?

“Ons het vriendinne wat altyd hier kom kuier het en die spesifieke vriendin het gesien hier’s ’n siel wat hier rondloop, ’n oom met ’n bokkiebaard. 

“En toe’t die storie begin loop maar daar is regtig ’n oom wat hier ronddwaal – ’n vriendelike oom – met die bokkiebaard. Toe sê ek vir almal oukei, nou maar kom ons noem hom nou dan maar Oom Bokkie,” vertel Liezl.

“Ja, dis lekker om te weet dat almal, lewend of dood, welkom is hiersô,” lag Bertus.

Die kombuis en die koffiewinkel

Die kombuis was voorheen die telefoniste, ene Tannie Vinkie, se kamertjie vanwaar sy die skakelbord hanteer het vir die kommunikasie tussen die verskillende stasies.

Dit is die enigste spasie wat nou as kombuis benut word en ’n verstomde Bertus kan nie glo dat hulle enigiets daarin kan voorberei nie.

“So kan ’n mens nie werk nie. Dis glad nie funksioneel nie,” besluit Bertus. Maar ook hy twyfel of hy enigiets hier kan bewerkstelling om dinge makliker te maak.

Die vertrek wat aanvanklik as ’n koffiewinkel beplan is, is deesdae die plek waar mense klein funksies kan kom hou. Maar dis ver van die kombuis en dit maak die kelners moeg om heeldag op en af te beweeg.

Nostalgie

Bertus sê hy dink nie mense deesdae het ’n begrip van hoe stasies was nie, die plek waar soveel afskeid geneem en vaarwel toegeroep is.

“Ons sien baie van die ou spoorwegmense, die ouer garde wat hier kom. Die tannie se man het vir jare op die spoorweg gewerk en dan kom sit sy hier en sy kom drink ’n koffie en dan begin sy net te huil. Dan moet jy maar troos,” sê Johan.

Liezl sê dis die heimweë wat hulle vir die publiek wil teruggee. En Bertus verstaan dit goed. Sy oupa was ’n treindrywer van Leeu Gamka.

Proetyd

Die senuwees het behoorlik gelol in die kombuis met die voorbereiding van hul disse vir Bertus om te proe.

Die pastei trek beslis sy aandag. “Dis stewig, dis ’n baksteen-pastei,” is sy kommentaar.

Ook voor hom is die graaf met loaded chips, ’n Griekse slaai, die Platform-burger en ’n T-been kruisskyf met ’n eier en tjips. Hul topverkoper is wel die pasteie, en daarmee saam hul gebakte vis en tjips . . . En die loaded chips.

Bertus noem aan hulle dat hy verstaan hoekom hulle so ’n verskeidenheid op hul spyskaart het, maar die realiteit is dat hul kombuis te klein is om dit te kan doen.

“Ek dink hulle het baie reggekry. Johan en Liezl het hard gewerk om die treinstasie weer aan die gang te kry maar, weet, die plek het nog steeds baie liefde nodig,” kom dit van Bertus.

Die beste nuus wat hy vir die twee kan gee, is dat die kombuis gaan sneuwel. Liezl is bly en Johan soek net na ’n hamer.

Nog goeie nuus van Bertus se kant is dat die twee se pasteie enige tyd kan inpas by die Kaapse Pasteiroete wat van die Peregrine-padstal en Houwhoek tot Dassiefontein strek.

Misi en Bertus

Misi is ongetwyfeld gek oor die gebou en sê sy sal hier een van Bertus se sêdinge in gedagte moet hou: Fokus!

Sy verwys na vervloë dae toe Johannesburg-stasie die bekende Blue Room gehad het en dit die plek was waarheen mense gegaan het om uit te eet. Sy gaan ook hier blou inbring.

“Dis ’n ongelooflike storie om van deel te wees. Dis die eerste keer uit die Wes-Kaap grense uit wat natuurlik sy eie uitdagings bring. Maar ja, ons is hier om ’n job te doen . . . In drie dae,” kom dit vasberade van Misi.

In die sop
Misi en die span trek laer om magic te maak. Foto: Verskaf

Dag 1

Liezl en Johan is verstom oor hoe vinnig die gedugte In die sop-span die vertrekke ontruim.

Misi is ook gaande oor die mooi vertrekke met al die erfenis-elemente wat sy voel mense moet eenvoudig sien. Tussen alles deur wys Johan ook vir haar die plaaslike munisipaliteit se eerste embleem.

“Ek dink dit is waarvoor mense moet kom, om hier te kom sit, heerlik te eet, die omgewing in te neem en weg te stap en verryk te wees,” is haar wens.

Bertus se hande jeuk om van ’n klomp onnodige goed ontslae te raak. Maar vir Johan is dit nie so maklik nie. Hy kon nie glo wat in 20 minute van hul mure afgehaal is nie en hy kan nie sy emosies beheer nie. “Dis baie erg vir my,” kom dit so tussen die trane deur.

“Dit is so bittersoet, ja, so bittersoet,” erken Liezl. Die twee noem ook dat hulle nie besef het daar is so baie wat gaan verander met In die sop se span nie.

“Onthou jy, né, onthou jy hoe’t ons gebid ‘Here, gee ons net ’n break’? Nou, dít is die break,” bemoedig Liezl vir Johan.

Misi weet daar lê baie werk voor, en met dié gee sy vir Johan sy stasiemeesterhoed en stuur vir hom en Liezl weg vir twee dae. Maar hy is gou om reg te stel dat die stasiemeester se hoed die blou een is met die embleem voorop.

“So, vir ’n oomblik was ek eintlik ’n polisieman, ’n stasiepolisieman – of hulle het hulle genoem ‘stasieblompotte’. Ag, dis alles in goeie spirit,” lag hy toe hulle twee polisiehoed in die hand koers kies.

Die splinternuwe kombuis loop weer onder Paintmaster se bekwame verwers deur. Tussendeur beplan Misi om al die lekker treinstories na die restaurant te skuif. En haar hande jeuk om so tussendeur bietjie reg te pak. “Ons moet altyd nog ’n bietjie doen.”

Misi erken: “Ek het geweet hierdie een gaan ook vir Chris [Coetzee] diep lekker wees, en veral in die laaste museumvertrek is daar baie ou ligte.” Sy was reg! Dié elektrisiën is in die hemel, veral toe hy ’n groot treinlig gewaar. 

Nutsman Hendri Hamman kom met ’n blink plan na vore vir die tekort aan die klein klei-teëltjies in die huidige boë bo die deure. Hulle kon ’n paar van die teëltjies red om van die ander boë aan te vul.

Daar moes ’n paar staaltafels vervaardig word vir die kombuis. Gelukkig is daar nie ’n tekort aan staal in die dorp nie.

Dag 2

Die ou kombuis agter die kroeg is die nuwe tuiste vir die grawe met tjips.

“Die grawe is ’n nice storie, maar dis nie eintlik my vibe nie,” erken Bertus. “Dit het ’n plek by Stoom, maar nie in die nuwe Blou Kamer nie. En dis oukei.”

Bertus ontmoet vir Johan en Liezl by Rovos Rail in Pretoria.

“Dit klink seker baie simpel, maar ek sê ‘joegh, dit voel amper of dit vandag my verjaardag was vandag’,” kom dit van Liezl. En Johan het behoorlik ’n knop in die keel gehad toe hy die plek onder oë kry.

Hy is gou om vir Bertus te vertel dat Rovos Rail op 29 April hul 35ste bestaansjaar gevier het. Kort voor lank klouter hy en Liezl op een van die stoomlokomotiewe rond en verwonder hulle aan alles in die kajuit.

Johan het duidelik ’n omvattende kennis van treine en hy vertel vir Bertus alles en nog wat oor alles – van die waens tot die ketelmakers. En alhoewel hy besef Bertus weet alles van kos en dinge af, is dit vir hom lekker om te sien dat sy inligting oor die treine Bertus se nuuskierigheid geprikkel het.

“Dit was ’n bietjie lekker gewees om hom te wys wat gaan aan, en wat ons weet,” sê Johan.

“Ja,” beaam Liezl. En in die weergalose woorde van Dricus “Stillknocks” du Plessis koor die twee saam: “Nou weet hy wat ons weet.”

“Om ’n bietjie liefde aan al die areas te gee, het ons besluit om net die nuwe logo en ’n mooi bord voor die tent op te sit,” vertel Misi.

In Pretoria vertel Bertus vir Liezl en Johan hulle sal daarop moet fokus om Stoom meer professioneel te bestuur. Sisteme, higiëne en stoorspasie is onder andere waarop daar nouer gelet moet word.

Hy noem ook dat dit nie meer ’n geval van “heeltyd speeltyd” gaan wees as hulle ’n sukses van Stoom wil maak nie. 

“As jy enigiets in die lewe wil regkry, gaan jy moet flippen werk. Jy moet dink oor wat jy doen. Jy moet alles analiseer en vir jouself vra: ‘Waar is ek nou, en waar wil ek wees?’ Moenie ’n flippen donkie wees nie. Wees slim,” kom dit van Bertus.

Met sy terugkeer by die stasie, vind Bertus uit dat dinge skeefgeloop het. Eers kon alles nie in die kombuis pas nie. En toe bars daar ’n waterpyp . . . 

Maar sjefs Armand Durandt en Rahim Cassiem is vasbeslote om nie deur hierdie terugslae ontspoor te word nie. Hulle is slaggereed om met die voorbereiding te begin vir die volgende dag se disse.

Misi is baie opgewonde oor die stoffeerwerk wat afgehandel is. Ook die ou stasiestoeltjies is uit die museum gehaal en met nuwe sitplekke toegerus.

Johan en Liezl kan nie wag om te sien wat by die stasie gebeur het nie en hulle sien uit na ’n skoon begin.

“Dis nie lekker om jou trots in jou sak te druk nie, maar ja, dis lekker as iemand bietjie kom en jou help,” erken Johan en die trane is weer daar.

Dag 3

“Hierdie trein vertrek amper . . . ons is nog kniediep in installasie,” kom dit van ’n benoude Misi. Daar’s hope prente wat nog gehang moet word en sy het ook ’n paar goed uit die museum geneem om in die restaurant te plaas.

“Die rev counter is so rooi soos my baadjie vandag!” sê sy.

In die kombuis word daar gesweet om die allegaartjie en hope tjips reg te kry vir die groot opening.

Die nuwe Spoor

Met Johan en Liezl se aankoms, word hul asem byna weggeslaan met alles wat vermag is. Die voortuin is netjies, die nuwe bord is vir hulle baie mooi. Toe word hulle na binne genooi, maar hulle moes dit toe-oë doen.

“Reg vir julle. Kyk ’n bietjie rond,” moedig Bertus hulle aan toe hulle hul oë oopmaak. Woorde was min, maar die twee was duidelik aangenaam verras.

Johan het dadelik die blou muur geëien as soortgelyk aan die van stasies in die ou tyd toe mense daar hul etes geniet het. En daar is groot waardering vir Misi se besluit om van die museumstukke in die vertrek te inkorporeer.

Johan lag effe verbouereerd toe Bertus hom inlig dat die kombuis geskuif het. Maar dit verander gou in ’n vreugdevol lag toe hulle sien wat daar gebeur het. Hulle is ook verlig dat die grawe kan bly – al gaan dit nie deel van die nuwe kombuis wees nie.

“Hier doen ons net regte ou stasiekos,” kom dit ferm van Bertus.

Op die spyskaart

Vir die nuwe Blou Kamer is daar ’n nuwe spyskaart, nostalgiese treinkos soos Bertus dit beskryf.

Dis welkom aan die allegaartjie (mixed grill), ’n dagwood-burger wat nogal wild is, ’n hoender-burger, lekker groot ontbyt en iets wat Bertus nog nooit vantevore gemaak het nie: ’n Spice bag, ook bekend as Ierse dronk-kos . . . 

Stoom voort!

“Ek kan met eerlikheid sê ons fokus is terug, ons het ’n nuwe blaadjie omgeslaan,” sê Liezl.

‘Daai vuurtjie is weer aangesteek,” beaam Johan.


In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies