Suid-Afrika het maar nou net die X-faktor as dit tyd word vir produksiespanne om te besluit waar die of daai volgende groot fliek of TV-reeks geskiet moet word. Van flieks soos Viola Davis se G20, wat vandeesweek op Prime Video première het, en Avengers: Age of Ultron, tot reekse soos die Yellowstone–prequel, 1923, en die uitmuntende fantasiereeks, The Wheel of Time – hier is ’n (onvolledige) lys van TV-reekse en flieks wat of deels, of heeltemal in Suid-Afrika geskiet is.
G20

Stroom op Prime Video.
G20, ’n aksiefliek met Viola Davis in die hoofrol as die Amerikaanse president, is in Kaapstad verfilm. Die storie draai om ’n aanval op die G20-beraad en hoe Davis se karakter dié hele gemors moet beredder.
Novocaine
Dié aksieriller volg ene Nathan Caine (Jack Quaid), ’n man wat geen fisieke pyn kan voel nie, sy pad oop skop, skiet en donner, om sy meisie te red nadat sy ontvoer word. Quaid het op Drew Barrymore se geselsprogram vertel hoe lekker dit was om dié fliek in Kaapstad te verfilm (die Moederstad staan in vir San Diego, Kalifornië, waar die storie afspeel).
Blended

Drew Barrymore en Adam Sandler het oor die loop van ’n paar maande dié familiefliek by Sun City geskiet. Daarin vertolk dié duo twee enkelouers wat ná ’n mislukte date niks met mekaar te doen wil hê nie. Maar dan beland hulle – en hul kinders – saam by dieselfde vakansieoord en moet noodgedwonge die beste van die saak maak.
1923

Kyk dit op Showmax.
Soos met Yellowstone draai die verhaal in 1923 om die Dutton-familie. Hier word daar egter op vroeër generasies gefokus met die vertelling wat in 1923 afspeel. Dis ’n periode van geweldige broekskeur. En nie net vir die Duttons nie, maar ook vir die groter Amerikaanse volk met onder meer die beginstadium van die Groot Depressie en die Prohibisie-tydperk.
The Giver
Dié distopiese dramafliek, gegrond op die gelyknamige boek deur Lois Lowry, het ’n sterbelaaide rolverdeling wat onder andere die bekroonde Meryl Streep, Alexander Skarsgård en Jeff Bridges insluit. Dis onder meer in Kaapstad, Paarl, en Johannesburg verfilm.
The Wheel of Time S3

Kyk dit op Prime Video.
Die derde seisoen van dié fantasiereeks is op verskeie plekke in die Wes-Kaap vefilm. In die reeks, gegrond op die gelyknamige boeke deur Robert Jordan, vind ’n doodgewone plaasseun uit dat hy die sogenaamde Dragon Reborn is. Hy is glo ook bestem om óf die wêreld te red óf totaal te vernietig.
The Kissing Booth
Alhoewel gedeeltes van die Netflix-fliek in Los Angeles verfilm is, is dit grootliks in Suid-Afrika geskiet, waaronder Kaapstad.
London Calling
Dié aksiekomedie met onder andere Josh Duhamel, Rick Hoffman en Aidan Gillen in die rolverdeling, is hoofsaaklik in Kaapstad verfilm. Dit draai om ’n huurmoordenaar wat lelik droogmaak en dan gedwing word om sy baas se tienerseun onder sy vlerk te neem.
Mandela: Long Walk to Freedom
Justin Chadwick wou geskiedkundige plekke wys wat van belang was rondom die geskiedenis van Madiba. Dit het die Transkei-heuwels, sy sel op Robbeneiland en die Pretoria-hof waar hy verhoor is, ingesluit.
Outlander S3
Dele van die derde seisoen van dié uiters gewilde reeks is in en om Kaapstad geskiet, waaronder by Cape Town Film Studios, Silwerstroomstrand en die De Grendel-wynplaas.
Kyk dit op Showmax.
Die sesde fliek in die reeks is gedeeltelik in Kaapstad, Hartbeespoortdam en Ponte-stad verfilm.
Kyk dit op Showmax.
Die fliek met Tom Cruise as die hardlopende, helikoptervlieënde, doodsveragtende held in die hoofrol, is gedeeltelik in die omgewing van Hoedspruit, Limpopo, verfilm.
The Mauritianian
Dié regsdrama draai om die ware verhaal van ’n man wat vir 14 jaar verkeerdelik in die Amerikaanse militêre gevangenis, Guantanamo Bay in Kuba, aangehou en geteister is. Die fliek, met onder andere Tahar Rahim, Jodie Foster, Shailene Woodley en Benedict Cumberbatch as spelers, is gedeeltelik op verskeie plekke oor die Wes-Kaap verfilm, waaronder Strandfontein en Paarl.
Warrior S1-3

Kyk die eerste twee seisoene op Showmax.
Warrior is in Kaapstad verfilm en daar is ook verskeie Suid-Afrikaners in die rolverdeling, onder andere Colin Moss, Robert Hobbs en Andre Jacobs. Die storie, gegrond op die skrywes van die vegkunstenaar Bruce Lee, speel af in die genadelose wêreld van San Francisco in die laat 19de eeu, met mededingende Chinatown-groepe wat om oorheersing veg.
One Piece S1 & 2
Kyk dit op Netflix.
Dié Netflix-reeks is gegrond op die gewilde manga deur Eiichiro Oda en vertel oor die avonture van die seerower Monkey D. Luffy en sy berugte bemanning soos hulle na ’n legendariese skat, One Piece, soek. Die meerderheid van die eerste twee seisoene is in Kaapstad geskiet.

Agter die skerms op die stel van One Piece. Emily Rudd as Nami. Foto: Casey Crafford/Netflix






Raised by Wolves S1 & 2

Raised by Wolves speel af ná die vernietiging van die aarde en draai om twee androïede, Mother (Amanda Collin) en Father (Abubakar Salim), wat mensekinders op ’n geheimsinnige planeet, Kepler-22b, moet grootmaak. Die stel wat vir die reeks by Cape Town Film Studios gebou is, sluit onder meer reuse-agtergrondskerms en high tech-beligting in. Daar was egter baie buitelugtonele en dié is in die Helderberg-omgewing en Kogelbaai verfilm – die perfekte landskap om as die planeet Kepler 22-B in te staan.
Tomb Raider
Lara Croft (Alicia Vikander) se besoek aan die Chinese stad was bitter ver van die ware Jakob. Die Japannese eiland Yamatai bestaan glad nie. Groot dele van die fliek speel af in Houtbaai naby Kaapstad terwyl baie van die Wes-Kaapse landskap ook ingesluit is.
The Last House on the Left
Die gruwelfliek van 1972 is in 2009 oorgeskiet, met dieselfde regisseur in die stoel (Dennis Iliadis). Kaapstad is ingespan om daardie angswekkende atmosfeer van dié kultus-meesterstuk te skep.
Avengers: Age of Ultron
Die Hulk (Mark Ruffalo) het alles in sy pad vernietig, ook Johannesburg se stadskern.
Black Panther
Wakanda, hier kom ons! Die Golden Gate Highlands Nasionale Park in die Vrystaat is grootliks gebruik vir buitetonele waaronder die lugskote en gevegstonele.
Kyk dit op Showmax.
Leonardo DiCaprio het dalk gefaal as ’n Afrikaanssprekende wat Engels probeer praat, maar Blood Diamond is op verskeie plaaslike plekke geskiet. Daaronder tel die V&A Waterfront in Kaapstad en Port Edward in KwaZulu-Natal.
Mad Max: Fury Road

Die post-apokaliptiese Mad Max: Fury Road is hoofsaaklik in Namibië geskiet, maar daar is ook ’n draai in Kaapstad gemaak om tonele by Cape Town Film Studios op te neem.
The Dark Tower
Dié fliek het absoluut gebom by die loket, maar dit was definitief nie as gevolg van waar hulle dit verfilm het nie! Eerder ’n nimmereindigende lys probleme wat reeds tien jaar voor die fliek se uiteindelike vrystelling in 2017 begin het. Meeste van die fliek, wat losweg gegrond was op die gelyknamige Stephen King-boekreeks, is in die Wes-Kaap verfilm, waaronder Worcester en die Cederberge. Dele is ook in die Tankwa-Karoo, asook die Blyderivierspoort-natuurreservaat verfilm.
The Last Days of American Crime
Ten spyte van die fliek se titel, het die verfilming nie in die US of A plaasgvind nie, eerder in Johannesburg en Kaapstad. Die fliek draai om ’n bankrower wat besluit om die grootste rooftog nog aan te pak.
Invictus
Die fliek, met Matt Damon in die rol van die inspirerende Bok-kaptein, Francois Pienaar, is na afloop van die Bokke se Wêreldbeker-sege in 1995, in Kaapstad, Robbeneiland en Johannesburg geskiet.
Malcolm X
Die epiloog is by die Phakamani Gekombineerde Skool in Soweto geskiet waar Nelson Mandela ’n merkwaardige toespraak gelewer het. Die township Alexandra is ook in die fliek te sien.
Bykomende bronne: collider.com, atlasofwonders.com, imdb.com
Ook lekker om te lees
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →