Menu terloops
In Wat om te kyk [17 Sep 2022]

Die kroonprins van klugte, Hannes Brümmer, gesels oor die nuwe Afrikaanse komediefilm, ‘Dina Dagbreek’


In ‘Dina Dagbreek’ vertolk die bekroonde akteur Hannes Brümmer die rol van Ryno, die regisseur van ’n ontbytprogrgram waar alles wat kan, skeefloop.

Deur Watkykjy
Die kroonprins van klugte, Hannes Brümmer, gesels oor die nuwe Afrikaanse komediefilm, ‘Dina Dagbreek’
Kyk lokprent

Dina Dagbreek is ’n splinternuwe Afrikaanse komediefilm uit die stalle van kykNET se Storiefilm-projek wat tydens die Covid-19 pandemie begin is om werk in die plaaslike filmbedryf te skep. Die regie is deur Adri Britz behartig en die verhaal volg Dina Malan se eerste dag terug op die stel van die gewilde 1980’s ontbytprogram, Goeiemôre my Sonskyn, ná ’n skande haar dwing om stert tussen die bene die program te verlaat. Die bekroonde akteur Hannes Brümmer vertolk die rol van Ryno, die regisseur op die stel van hierdie ontbytprogrgram waar alles wat kan, skeefloop. Ons het hom oor die fliek uitgevra. 

Dina Dagbreek
“Ek gaan nou nie sê ek het full method gegaan met hierdie nie, maar ek het definitief my eie storie vir Ryno geskep oor wie hy is,” vertel die akteur Hannes Brümmer oor sy rol in die komediefilm, Dina Dagbreek. Foto: Verskaf/kykNET

Dina Dagbreek het amper die gevoel van ’n klug. Jy is die koning van klugte – sou ’n mens hierdie produksie maklik verhoog toe kon neem?

“Ek dink Dina Dagbreek het beslis die gevoel van ’n klug. Dit begin so amper half dramaties met Dina se terugkeer na haar tydjie in die tjoekie, maar die karakters word in Luan Jacobs en Johan Riekert se teks baie slim aan die gehoor bekendgestel, een vir een. En op die ou einde loop al hul stories saam, en dis net chaos! So dis baie klug-agtig in die ontwerp daarvan. Koning van die klug? Jy vlei my! Daar is soveel ervare mense in daardie genre in hierdie land van ons. Ek is dalk meer soos ’n hertog, of dalk ’n kroonprins van klug. Ek dink hierdie sal baie maklik vir die verhoog verwerk kan word. Jy het vier areas wat die stel self verteenwoordig en dan sien ons natuurlik ook wat agter die skerms gebeur. Dit gaan dalk ’n geldjie kos om die stel agtermekaar te kry, maar ’n mens kan mos aanpas en verwerk. Dis tog wat teater so opwindend maak – om met so min as moontlik slim te werk te gaan.”

Die Storiefilm-projek is aanvanklik geloods met die doel om werksgeleenthede tydens die Covid-19 pandemie te skep. Het ons regtig ’n pandemie nodig gehad vir so projek om af te skop?

“Die Storiefilm-projekte was baie welkom gewees in die tyd wat dit gekom het met die Covid-pandemie. Ek dink die een ding wat die baie mense laat besef het, is dat dit moontlik is om hoë gehalte produksies in ’n redelike kort tydjie af te handel. Dis nou mits jou pre-produksiewerk deeglik genoeg is. Ek dink die pandemie het hande gedwing om iets soos dit aan te pak. Ek dink in hierdie geval was die pandemie dalk ’n katalisator. Dina Dagbreek het die parameters van die storiefilm baie slim gebruik deur dit ’n studio-opname te maak. Dit beteken dat ons binne dieselfde omgewing gebly het en só ons tyd baie beter kon benut, want jy het ’n redelike gestandaardiseerde beligtingsplan. Daar is ook slim te werk gegaan om ’n 50 minute lange film te maak. Ons het drie dae gehad om te skiet en het elke oomblik effektief benut onder die uitmuntende leiding van Adri Brtiz.”            

Julle is nogal ’n sterk groep van gesoute komiede-akteurs. Dink jy die feit dat meeste van julle vriende is, die produksie gladder laat verloop het?       

“Daar vat jy dit nogal raak. Dit is beslis ’n groep gesoute komiede-akteurs. Daar is geen twyfel daaraan nie. Ek dink almal wat in die rolverdeling is, is of fans van mekaar of so goed as lewenslange vriende. Dit het ongetwyelfd ’n effek op hoe vinnig ’n mens kan werk. Vir myself was daar ’n paar nuwe gesigte. Ek is ’n aanhanger van Luan Jacobs se werk al vir ’n tydjie lank, so om direk saam met hom te werk, was heerlik gewees. Sy teks ook. Maude Sandham is skreeusnaaks en dis die eerste keer wat ek saam met haar gewerk het. Cindy Swanepoel, Melt Sieberhagen… Hulle is van my beste vriende in hierdie bedryf. So, ja, dit help om dinge gladder te laat verloop in terme van die oomblikke vinniger raak te vat. Maar die dilemma is egter dat vriende wat vir mekaar lag, het ’n geneigdheid om dinge te vertraag!     

Is jou karakter, Ryno, ’n goeie regisseur? Sal jy vir hom kan werk? 

“Ek gaan nou nie sê ek het full method gegaan met hierdie nie, maar ek het definitief my eie storie vir Ryno geskep oor wie hy is. Ek het altyd die gevoel gehad dat om op te eindig by Goeiemôre My Sonskyn, was nie noodwendig sy plan nie. Hy wou eintlik die regisseur van Agter Elke Man gewees het, maar Frans Marx het nou obviously toe bietjie van ’n monopolie daar gehad. Ek dink hy is bekwaam en goed met wat hy doen, en hy doen dit al lank genoeg dat hy weet hoe alles aanmekaargesit moet word. Hy is soos ’n voorman op die stel wat weet hoe om te delegate en ek dink hy is effektief genoeg daarin. Ek dink hy raak ook so ’n bietjie lewensmoeg. Die vroeë oggende begin hom opkeil. Dit beteken nie hy is ambisieloos nie. Ek dink hy hou maar nog steeds so half duim vas dat hy sy pad Hollywood toe gaan vind, maar vir nou doen hy maar oggendprogramme. Ek dink ek sou met hom kon werk. Van sy modekeuses sou dalk net my aandag afgetrek het.”               

Dina Dagbreek het dadelik ’n visuele, nostalgiese impak. Die kortfilm se storielyn ter syde gestel – dink jy nie Suid-Afrika kort ’n regstreekse komiese Afrikaanse ontbytprogram op so ’n 80s filmstel nie? 

Ek weet nie? Ek wil so dink. Nostalgie verkoop mos, jy weet? Die hoekom ons hierdie herhaling van modesiklusse het, want die mense wat op ’n tyd ’n ding waardeer het, is nou die mense wat die kreatiewe besluite neem. Of die jonger generasie daarvoor gaan val, sal ons maar moet sien. Die eighties was die mooiste en die lelikste dekade van almal, dis ’n feit! Die groot probleem sou wees as ons die nuus van die eighties herhaal. Ons wil nie dit hê nie! Nee, dankie! So ja, ek dink dit kan werk, maar dan die ander ding is, media word nou anders versprei. Hoe sou ons hierdie kon verander na iets vir ’n stromingsdiens? Dis die groot vraag.”          


Dina Dagbreek saai 17 September om 20:00 uit op op kykNET. Hou kykNET dop vir nog uitsaaidatums.

Jy kan Hannes ook te sien kry in:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies