Menu terloops
In Recaps & Resensies [28 Des 2023]

‘Die brug’: Warrehel?


Om in net drie dae 21 vlotte te bou en die 42m na Die Eiland (met die jackpot) te voltooi, is geen maklike taak nie – veral wanneer Die Brug meer vra as wat dit teruggee… Gaan hierdie spannetjie oorlewendes dit maak terwyl die uurglas kantel? Of gaan die wantroue onder hulle begin seëvier?

Deur Bouwer Bridges

Stroom nou aanlyn

‘Die brug’: Warrehel?
Kyk lokprent

Aan die einde van verlede week se episode van Die brug het die lastige cliffhanger Larry se onthulling van wie wil bly en wie wil gly, onderbreek. Hierdie week se episode begin by presies dieselfde oomblik waar ons die groepie deelnemers in die Houthuis verlaat het. Wonder bo wonder is daar niemand wat op hierdie laat stadium van die spel die aftog wil blaas nie – selfs al is daar ’n lekker R100 000 om die exit te vergemaklik. Kan dit wees dat almal hier is vir dieselfde rede – en dat dit beslis nie die geld is nie?

Almal kan dít goed glo, behalwe Geo. Geo is glad nie seker hoekom Larry nie die keuse gemaak het om die spel te verlaat nie. In plaas daarvan dat hy ’n moordkuil van sy hart maak, is dit die mees strategiese speler van die lot wat sy mond oopmaak om die twyfel in sy hart stil te kry. Sonder om Larry direk aan te spreek, wil Geo baie diplomaties weet hoekom Larry nie sy gedeelte van die pie gegryp en gewaai het nie.

Die brug
Geo is baie skepties oor Larry se bedoelings. Foto: Skermgreep

Larry se antwoord is net so diplomaties, maar ook nogal belaai met emosie wanneer hy vir Geo sê dat Die brug die geleentheid van ’n leeftyd is. Dat dit nie sommer weer vir hom aangebied sal word nie – en dat hy hier is om die spel te voltooi. Of hierdie die antwoord is waarna Geo gesoek het, al dan nie, is seker maar weer ’n ope vraag. Maar met daardie antwoord volstaan Larry, en die groepie oorblywendes klop almal mekaar uitgelate op die skouer om so hul gelukwense aan mekaar oor te dra. 

Maar hoekom?

My vraag is dit: wie sou op hierdie stadium vrywillig die spel wou verlaat? Hoe minder mense daar aan die einde is, hoe groter stukke koek kan gesny word van daardie lekker jackpot (wat al reeds meer as net ’n knibbeltjie weg het)! Jy moet jou kop laat lees om te dink die math is not mathing…

In ’n off-camera-onderhoud maak Larry dit darem ook aan die res van ons bekend dat hy nie net altruïstiese motiewe het om te bly nie, maar dat hy ook dink daar is meer geld om gemaak te kan word – mits ’n mens die regte stemme werf. En daarmee gaan Larry weer volstoom aan met sy veldtog om as BrugStapper van die Jaar aangewys te word. 

Larry se veldtog begin so hier en daar van die spelers te irriteer, want dit begin ongemaklik sit onder sommige se velle. Veral dié wat reeds ook hul eie veldtogte van stapel wil stuur. William is die een wat vir Sam die voorstel maak of hulle nie maar as ’n groep bymekaar kan kom sodat elkeen dan nou op sy eie seepkissie kan staan om redes aan te voer oor hoekom hulle as die BrugStapper van die Jaar aangewys moet word – al dan nie! Sam dink dit is ’n baie goeie idee, en nie net omdat hy ook sy eie redes het om op sy eie seepkissie te gaan staan nie. 

Plannetjies en nog plannetjies

DIE BRUG
Sam begin ook sy vertroue in Geo te verloor… Foto: Skermgreep

Tina is die eerste een wat saamstem met die plan, maar is eers bekommerd oor William se motiewe vir hierdie skuif – maar besluit dan dat hy nie een is wat met ’n plannetjie speel nie. William deel dan ook sy plan met die res. Geo is die eerste een wat wil weet hoekom hy dit juis vandag wil doen. Is Geo dalk bang dat iemand sy antwoord by hom gaan steel? Beplan hy dalk ’n lokval-oorreding? Of pas dit nou net nie heeltemal in sy strategie van hoe hy hierdie game wil eindig nie?

Elders begin Sam ook sy vertroue in Geo te bevraagteken, en praat hardop daaroor met Tina. Dit vuur ook weer Tina se groeiende wantroue in haar vertroueling. In ’n gesprek met Robert maak Geo dit baie duidelik dat hy graag wil wen, en dat die geld ’n bysaak is. Hy maak ook dan die stelling dat die wenner nie noodwendig die jackpot gelykop hoef te deel met die res nie, want dit sou “baie ver verwyderd wees van die werklikheid”. Hierdie stelling alleen sou my slapelose nagte gegee het indien Geo my vertroueling was. En daar is ’n oomblik van huiwering wat in Robert se oë te voorskyn kom.  

Daai vervlakste fakkel

In ’n off-camera-onderhoud is dit Robert wat ook uiteindelik te kenne gee dat die ding waarmee hy die meeste struggle is die feit dat hy nie weet wat die regte of eerbare ding is om te doen nie. ’n Mens wil graag, volgens Robert, die mense vergoed wat jou gehelp het om by die jackpot uit te kom, maar op die ou einde van die dag het elke deelnemer ook verpligtinge en geliefdes terug by die huis wat dalk op daardie pragtige neseiertjie staat maak…

Robert se gewete begin hom erg te pla… Foto: Skermgreep

Terwyl die mans nog diep in strategie dryf, gaan daar weer ’n vervlakste fakkel af – en hierdie keer weet almal dit kan nie goeie nuus wees nie. Larry is weer die een wat die Melkkan se briefie aan die groepie lees waar hulle laer getrek het in die woud. Die briefie se titel is ‘Die Verwydering’, en dit werk so: elkeen van die oorblywendes moet hardop voor die ander die persoon se naam sê wat hulle op hierdie stadium sal laat gaan. Hulle mag nie met mekaar praat oor hul keuse nie. Die persoon wat dan aangewys word om die spel te verlaat, moet dan een ander persoon kies – en daardie persoon sal dan saam met die uitverkorene die spel verlaat. Hoe wreed is dit?

So long, farewell…

Hoe dit ookal sy, Larry se veldtog om die BrugStapper van die Jaar te word skiet hom in die voet, want die groep besluit om hom uit te stem. Larry se keuse vir ’n exit-maatjie is Melanie, wat met die aanhoor van haar naam in trane uitbars. Maar wanneer die duo by die vlotte aankom om die stukkie landskap te verlaat, is daar meer as een rede om breed te glimlag. ’n Volle R100 000 staan vir hulle en wag in twee pakkies. Om hierdie geld te verdien, moet hulle besluit of hulle saam of alleen 10 van die vlotte gaan vernietig waaraan almal so hard gewerk het. 

Melanie was baie hartseer dat Larry haar as sy exit-maatjie aangewys het. Foto: Skermgreep

Vir my is dit ’n baie maklike besluit om te maak: vat die geld en hardloop! Vir Melanie is dit egter ’n moeiliker besluit as vir Larry. Sy kan dit amper nie oor haar hart kry om hul span se harde werk in die water te gooi nie – maar Larry herinner haar dat hulle reeds uit die span is (hulle is nie meer deel daarvan nie, en staan geen kans om iets van daardie jackpot te sien nie) en dat hulle nou buite die spel staan. Hiermee kan Melanie nie stry nie, en die besluit word geneem om die geld te verdien…

Gemoedere loop hoog

Terug by die groepie hardwerkendes, wat nou heelwat harder sal moet werk om die brug na die skat te voltooi, begin die gemoedere hoog te loop. Geo dink dit is ’n goeie idee om vir William nader te hark om saam met die res van die mans te stem oor wie die BrugStapper van die Jaar moet wees, terwyl Geo ook sy visier begin instel op Sam. Geo het off-camera nie ’n geheim daarvan gemaak dat hy van die nuutste leier ontslae wil raak nie – en juis ook net omdat hy weet dat indien daar tussen hom en Sam gestem sou moes word, Sam die een sou wees wat met die titel sou wegstap waarna Geo al so lank vry. 

Sam doen homself ook nie gunsies nie as Tina en Iana begin geirriteerd raak met die feit dat die vrouens vlak in die oë gekyk word oor hul bydrae tot die produksie van die vlotte. Eiehandig bou die twee dames ’n vlot terwyl die mans materiaal aan dra, maar omdat dit nie is wat Sam van hulle gevra of verwag het nie, vryf hulle mekaar vurig, ferm, maar baie diplomaties op. Dit werk natuurlik in Geo se guns, aangesien (veral) Iana nie te vinde is met Sam se snappyness nie. 

Destroyers of the night…

Terwyl die moeë deelnemers rustig lê en slaap in die aand, is dit Melanie en Larry wat die sweet van hul aangesig met lekkerkry klaarkry – want tien vlotte bly in die slag, maar R50 000 elk is ’n sakpas-gedagte wat hulle help om die wa deur die drif te trek…

Die brug
En daar word die harde werk onklaar gemaak… Foto: Skermgreep

Die span, wat nog geen idee het wat op hul wag in die vroeë oggendure nie, het nou 2 dae om 27 vlotte te bou om die meer as 54m te voltooi om by die skat uit te kom. Is dit haalbaar? Is dit doenbaar? Is dit ongenaakbaar? Daar is nog een episode om hierdie vrae te beantwoord – asook wie die persoon is wat die span gaan kies om oor die voltooide brug te stap…!

Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies