In die openingstonele van regisseur Jozua Malherbe se Devil’s Peak, is Hilton Pelser se Bennie Griessel ’n hygende, bewerige gemors. Angs het ’n huis onder sy vel gemaak, só oorvloedig dit drup saam met die sweet langs die slape van sy gesig af. Neffens dié oppervlak, kom ’n geoefende, geveinsde beheer na vore. Dis genoeg om asem te skep, sy bene te versterk, sy skouers ’n ewewig te help vind, sy hande ferm om sy vuurwapen te grendel. Genoeg om te onthou hy is die jagter. Ongelukkig, ook van homself.
Malherbe se omskepping van die skrywer Deon Meyer se boek – Devil’s Peak is die Engelse vertaling van Infanta wat dit voorafgegaan het – is iets waarop ’n mens gierig wens as ’n boek na ’n ander formaat verwerk word. Malherbe se forte is immers storie – die vertel daarvan, die inkleur daarvan, die bestaan en begrip daarvan as iets lewend; iets wat allermooi én allerverskrikliks terselfdertyd is. Dis veral in sy regie van Griekwastad waar ’n mens sy kuns kan sien sing. Maar só ook dan hier in sy vertelling van Meyer se verhaal en die pynlik menslike karakters waarmee ons kan vereenselwig. Daar is deurgaans ’n ondertoon van anticipation, aangevuur deur ratse redigering, skote van ’n toegeslikte, smerige Kaapstad, en die bloedbedrupte oorblyfsels van dolle geweld.
In Meyer en Malherbe se tapisserie word drie verweefde storielyne ontgin. Daar is Griessel, ’n afwesige man en pa wat toevlug in alkohol vind. Dan Thobela (Sisanda Henna), ’n assegaai-moordenaar op ’n vigilante wraaktog nadat sy seun vermoor word en die polisie hande gevou sit. Daar is ook Christine (Tarryn Wyngaard), ’n call-girl wat enigiets, maar enigiets sal doen om haar kind te beskerm… Selfs vir Griessel help om ’n strik te stel.
Henna se vertolking is ’n kragtoer met die wisselwerking tussen emosie en logika, hart en kop, wat uitloop op intieme rou en weerstand: wraak. Waar Pelser se Griessel, as protoganis, veronderstel is om ten spyte van sy tekortkominge die kyker se guns te wen, is Henna se ontroosbare pa, vas in die kloue van ’n amper primitiewe woede eie aan ’n ouer wat ’n kind verloor, ook ’n onwaarskynlike held. Ja, hy moor. Ja, two wrongs don’t make a right. Maar Henna speel sy antagonis so dat jou empatie wyd strek vir dié man. Wyd, wyd, wyd.
Soli Philander se spel as ’n fopdosser spring – genadiglik – die clichès van dié soort karakter vry. Sy tonele saam met Pelser is ’n barmhartige seën in die walms van swaarmoedigheid wat om Griessel hang.
Tog bly die reeks, bestaande uit vyf episodes, verteerbaar. Dit wyk weg van enigiets té, maar is terselfdertyd getrou aan die realisme van die bende- en geweldgeteisterde wêreld waarin die storie afspeel. Dié balans is moeilik bekombaar, maar nodig om tot ’n Suid-Afrikaanse gehoor te kan spreek. Een wat dié tipe geweld en boosheid self ken en daarmee kan identifiseer, terwyl hulle ook die gemak en afstand van storie, van fiksie wat nét onrealisties en realisties genoeg is, vereis. Hiermee dan Devil’s Peak, ’n prysenswaardige, amper tasbare misdaadriller met briljante toneelspel wat die uitnemendheid van die boek gestand doen.
Devil’s Peak se vyf episodes begin Sondag, 29 Oktober 2023, om 20:00 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101).