Neem asseblief kennis dat die kosprogramme se beskikbaarheid kan verander. Dié artikel word deurlopend aangepas soos uitsaaibesonderhede aangekondig word en/of verander.
Kos vorm die wêreld oor deel van mense se kulturele diversiteit. Omdat Suid-Afrika self so diverse land is, het ons nogal ’n veelsydige palet wat deel van ons land se identiteit uitmaak. Kyk, ons laaik van ’n happie kos. Ons bak en brou, kook en braai en, as ons oorpresteerders is, groei, soek, vang of jag ons soms ook. Van ons oumas se oumagrootjies het ons lipafleklekker-wenresepte geërf, en as ons die gode wil uitdaag, pas ons soms dié resepte aan.
As die kwessie van ’n ander land se kultuur in ’n casual gesprek tussen vriende (wat humble brag oor hulle onlangse reistogte) opkom, kan ek jou amper waarborg dat jy vinnig ’n spys-en-drank-konneksie kan maak.
Dit is dus geen openbaring dat die Kook en Geniet digby die twee miljoen kopieë verkoop het sedert die eerste uitgawe in 1951 nie. Tegnologie soos die internet en TV het ook ’n reuse-impak gehad op hoe ons kos en kookkuns benader en beywer. Jy kan deesdae letterlik resepte van kenners en kokkedore op jou skootrekenaar volg terwyl jy die hele kombuis breek. Of, net vir sommerso ontspanning, kan jy ’n celeb chef se tegnieke deur osmose inneem vanuit die gemak van jou nes van Oros, aartappelskyfies en KitKats op die rusbank.
Vir laasgenoemde aktiwititeit, het ons het ’n lys van die beste kosprogramme – in Afrikaans – op Showmax en DStv saamgestel. Lekker kyk!
Realiteitstelevisie is groot
Masterchef Australia is die groot pappa van mededingende kookprogramme wat die TV-sluise in 2009 oopgemaak het en Afrikaans het nie vir lank buite die kombuis gestaan en wag nie.

Kokkedoor is sekerlik dié bekendste realiteitskookprogram in Afrikaans. Hierin word Suid-Afrika se beste sjef, op die trant van die Masterchef-formaat, gesoek. Die program was só ’n groot treffer dat dit gelei het tot ’n spin-off, Koekedoor, om die land se beste en veelsydigste amatuerbakkers op te spoor. Uit dié aflewering het Koekedoortjie (op Showmax beskikbaar), waarin jong bakkers tussen die ouderdom van nege en 13 jaar, deelgeneem het. ’n Gewilde bydrae wat deel van die Kokkedoor-franchise vorm, is Kokkedoor Vuur & Vlam op kykNET. Hierin moet deelnemers sake in die kombuis met hul braai-talente uitspook. Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar, terwyl die tweede seisoen tans op kykNET uitsaai. En onlangs het ons gehoor dat Kokkedoor se volgende gedaante as Kokkedoor: Son & see bekend gaan staan. Dit sal na verwagting in November en Desember vanjaar op die kassie wees.

Natuurlik moet daar ook gebraai word en Suid-Afrika se gunstelingtydverdryf is nou ’n sosiale eksperiment op televisie. In Kom Ons Braai moet drie paartjies – wat mekaar glad nie ken nie – by mekaar braai. Daar gebeur baie om die vuur, en ons praat nog nie eers van die kos nie!
Is jy dalk lus vir ’n weergawe van Kitchen Nightmares maar sonder Gordon Ramsey en sy vuil bek? Supersjef Bertus Basson en sy span help om restaurante en gesinskosondernemings wat In Die Sop is, weer op die been te bring.

In My ma kook beter as joune, aangebied word deur Early B, ding twee spanne vir ’n kontantprys teen mekaar mee. Die spanne bestaan uit ’n ma wat haar plek in ’n kombuis kan volstaan en een van haar kinders wat glad nie kan kook nie.
Voel goed, eet goed
Sekere TV-persooonlikhede het nou maar net ’n manier om meer intiem met die kyker te connect. Wat veral goed werk, is die nostalgiese inslag.
Nataniël is ’n absolute feesmaal op sy eie. Dis kos met persoonlikheid. GROOT persoonlikheid. Terwyl Ek Wag is by verre een van ons gunsteling Afrikaanse kookprogramme. Hierin droom Nataniël heerlike disse op wat deur sy Frans-Hugenote-erfenis geïnspireer is. Dít terwyl hy die hedendaagse invloed van sy voorvaders op landbou, wyn en kookkuns in Suid-Afrika ondersoek.
’n Onlangse toevoeging tot dié groep programme is Lekker en goed met Carmen Niehaus op kykNET. Ná sowat 25 kookboeke het Carmen ’n nuwe koers op die kassie met dié kosprogram ingeslaan. Om gesonder te eet, is een van Carmen se prioriteite en vorm deel van die reeks se aanslag. Sy stel kykers ook aan van die land se mees geliefde en gewildste glanspersoonlikhede bekend.

Dan is daar ook VIA se Plain en simple. In dié kookprogram gaan kuier die aanbieder Gadija Sydow aan huis by merkwaardige mense van Mitchells Plain om Kaapse kookkuns en huiskos te vier. In elke episode word ’n spesiale familieresep gemaak.
Kook en rits rond
Min van ons het ’n geldjie om gereeld oorsee te galavant, so ons moet kulinêre fantasieë maar uitleef deur dié wat dit wel kan doen en vir ons netjies verpak en voorsit.
Wie is Jan Scannell? Dis Jan Braai, man! Hy neem ons op ’n onvergeetlike braaitoer regoor Suid-Afrika in Jan Braai vir Erfenis. Veertig braaie in veertig unieke Suid-Afrikaanse erfenisliggings. Hy stel ook sy braaitalente in die reeks Jan Braai: Weskus ten toon.
In Op pad met my potjie, neem die kosliefhebber Joalette de Villiers kykers op ’n toer deur Namibië waar sy in elke episode nuwe geheime van dié land se kookkuns ontdek met ’n driebeenpot in haar hand. “Die reeks wys al die plekke wat Joalette besoek vanuit die perspektief van die plaaslike inwoners.
Honger vir nog?
Dié reekse word nie tans uitgesaai nie, maar ons is optimisties dat van dié kos- en kookprogramme eersdaags weer op die een of ander platform beskikbaar sal word. Ons hou duime vir die volgende:
- In Kookpunt daag sjefs en aanbieders Yolani Abrahams en Chris Erasmus weekliks drie chefs uit om deur drie disse voor te sit wat uit lukrake bestanddele opgetower word.
- In ’n soortgelyke program, Aansit, ding spanne van drie mee om ’n benydenswaardige kontantprys te wen. Elke span moet ’n driegangmaaltyd om die hoofbeoordelaar en supersjef, Reuben Riffel, uit die veld te slaan.
- Laat die Potte Prut sien hoe drie spanne meeding om die beste potjiekos te maak voordat die horlosie hulle inhaal.
- Kokkedoor-wenner, Tiaan Langenegger, laat jou voel of jy die heerlikste kos deur die skerm kan proe in Tiaan Proe en laat familie, goeie tye en hartskos herleef deur sy nostalgiese kosherrineringe. (Lees ook ons onderhoud met Tiaan oor dié reeks.)
- Die grapmaker van die gewilde TV-program, Maak ’n Las, Nico Nel, kan behoorlik ’n storie vertel. In Nico Nel Kook en Vertel verken hy die geheime van ons land se beste bestanddele en resepte.
- Die Nataniël Tafel laat jou besef nie almal kan kos maak soos Nataniël nie… En dat hy meer is as ’n dramaturg, skrywer, satirikus, komponis, sanger, skoonheidskundige en digter. En dis reeds ’n mondvol.
- Dan is daar ook ’n eiesoortige kitskosreis wat kykers saam met Gerhard Steyn en Alvin Bruinders kan vat in Konings van Kitskos. Die VIA-reeks reis dié vriende die land heen om die lekkerste kitskos te proe.
- Die VIA-reeks Herman en die Ladies, het ’n pragtige aanslag. Daarin bederf die bekroonde sjef en kosskrywer, Herman Lensing, vir tien vroue – wat elkeen ’n stryd teen borskanker gevoer het – met heerlike gebak in die Pink Lady-kombuis terwyl hulle gesels oor die soet en suur van die lewe. Terwyl lewenslesse wat elke vrou op haar kankerpad geleer het, gedeel word, is die reeks ook viering van elk se merkwaardige gees en storie.
- In Skep nog op VIA nooi die tuiskok René de Wit bekende koskenners om saam met haar te kook. Die kinkel is dat sy oorskietgeregte of -bestanddele inspan om ’n splinternuwe gereg op te tower. Só wys René vir kykers hoe om oorskiet in geurige disse te omskep. Daarmee saam word die verpakking ook in nuwe items omskep eerder as wat dit in die asblik beland. Onder die koskenners wat saamkuier tel Marinda Engelbrecht, Isabella Niehaus, Ina Paarman en Carmen Niehaus.
- Kampkos is darem sekerlik binne meeste van ons se bereik? John-Henry Opperman en Beáte Olwagen wys vir ons hoe om in die buitelug te bak en braai. Hulle nooi ook interessante gaste om met hul buitelug-vaardighede te kom spog en hul beste kampkosresepte met ons te deel.
- Bekroonde Afrikaanse auteur, Marita Van Der Vyver, woon al reeds meer as twee dekades lank in Frankryk. In Marita Kook Frans besoek sy die suide van Frankryk en deel die streek se kos, asook haar eie kulinêre avonture en ervarings. Haar topverkoperboek, Dinge Van ’n Kind, is in ’n TV-reeks omskep wat jy op Showmax kan kyk.
- Suid-Afrika se eerste Michelin-ster-sjef, Jan-Hendrik van der Westhuizen, neem ons saam na sy restaurantkombuise, reise deur Europa en aan’t huis in Suid-Afrika terwyl hy sy kosgeheime met ons deel in Jan.