In die laat 90s moes Jane Edwards en Krynauw du Buisson van Egoli-faam rondloop met sambrele in winkelsentrums omdat dit ou-tannie-handsakke op hulle gereën het. Aanhangers van dié reeks kon net nie die akteurs Corine du Toit (as Jane) en Hannes van Wyk (as Krynauw) van hul TV-rolle losmaak nie.
Jy sal dikwels met ’n TV-karakter of twee kan identifiseer as jy ’n reeks begin verslind. Gou word dié karakters gunstelinge. Maar dat jy ook ’n “minsteling” gaan hê om oor gal te braak, is haas onvermydelik. Dis immers deel van die Hollywood-resep vir ’n suksesvolle storie – veral in sepies is die grense tussen liefde en haat vir en van karakters maar bitter bros.
Daar mag dalk nou ’n hele string name van hoogs irriterende karakters by jou opkom. Ek kan self vinnig aan ’n paar dink: Michael Scott van The Office wat oor geen sosiale IK beskik nie; Sheldon Cooper, die narsistiese, neerhalende en selfsugtige nerd van The Big Bang Theory; die ruggraatlose parasiete George Costanza en Alan Harper van onderskeidelik Seinfeld en Two and a Half Men; en die nasale gesanik van Tali (Tali’s Wedding) wat op haar beurt onwillekeurig herinner aan Chandler Bing van Friends se aan-en-af meisie, Janice.
Hier kyk ons na vyf TV-karakters wat jou só warm onder die kraag maak, dat jy soms voel asof jy jou foon na die TV-skerm uit pure frustrasie wil slinger.
Kom ons begin by die ondraaglikste karakter van die lot, want dít is die somtotaal van Jonah Ryan (gespeel deur Timothy Charles Simons) se persoonlikheid. Sy karakter word grotendeels opgemaak deur ’n ongeëwenaarde ego wat deur sy bodemlose toxic masculinity gevoed word. ’n Tipiese Amerikaanse frat boy-mentaliteit heers by hom. Die onsmaaklike vent herinner my nogal aan ’n sekere vieslike Maties-student wat onlangs in die nuus was…
Kyk, daar is eintlik weinig karakters in Veep waarvoor jy ooghare gaan hê, maar een van die meer bedese karakters, Ed Webster (Zach Woods, ook in Silicon Valley) sit vir Jonah behoorlik op sy plek met een van die beste insults van die reeks (en dit wil gedoen wees vir ’n reeks wat bekend is vir die gehalte van sy insults!): “You’re not even a man. You’re like an early draft of a man, where they just sketched out a giant mangled skeleton, but they didn’t have time to add details, like pigment or self-respect.”
Logan Delos in Westworld
Ben Barnes se rol as die vreesaanjaende en wrede Logan in Westworld het die tonge laat klap. Sy karakter as die mees ervare gas in die “speelpark” verteenwoordig ’n donkerder kant van die besoekers. Dis soos om op ’n duur vakansie te gaan saam met iemand wat vir jou die heeltyd voorskryf wat om te doen. Maar dan, as jy iets vind waarvan jy hou, kry jy die grootste oogrol…net baie erger. Logan is iemand wat genot daaruit put om hosts in die reeks te vermoor. En sommer vir die onbenulligste redes. Hy is ’n arrogante en selfsugtige hedonis wat ander mense tart omdat hulle nie hulself soos hy, verlustig in ’n oordaad van seks en geweld nie. Logan is iemand wat jy in die regte wêreld teen alle koste sal wil vermy.
Terloops, die vierde seisoen van Westworld is nou op Showmax met nuwe episodes wat weekliks beskikbaar gestel word. Lees ook André-Pierre du Plessis se resensie hier.
As dit nie vir die aksie-komediereeks, Chuck, was nie, sou ek maklik kon glo dat die aktrise Yvonne Strahovski ook in die regte lewe ’n bose mens is. Dis nou te danke aan twee ander rolle waarvoor sy bekend is. Eerstens, haar rol as die reeksmoordenaar, Hannah McKay, in Dexter, en meer onlangs in die rol van Serena Waterford/Joy in The Handmaid’s Tale.
Toegegee, die reeks se skrywers het hul bes probeer om ons te laat glo dat daar ’n gryntjie hoop vir Serena is. Haar karakter – effe groei en ontwikkling ten spyt – is egter hopeloos te boos om verby selfs die geringste karakterfoute te kyk. Hoe ignoreer ons haar aandeel in die skepping van die ondrukkende, vrouehatende regering van Gilead waar sy Offred en die ander handmaids mishandel en martel? Serena is moontlik die mees sosiopatiese, bedrieglike en selfdienende vrouekarakter in TV-geskiedenis.
Perry Wright in Big Little Lies
Alexander Skarsgård het hom so goed van sy taak in die rol van mishandelaar en vroueslaner, Perry Wright, gekwyt, dat die lyn tussen karakter en akteur ietwat vervaag het. Hy was die mees gehate karakter van die reeks. Hoe kan hy binne ’n kwessie van sekondes super liefdevol teenoor sy kinders wees, pas ná hy sy vrou aangerand het? Hy raak kwaad vir onbelangrike dinge en hy weet dit wat hy doen, is verkeerd.
Dis ’n algemene herhalende gedragspatroon in toxic verhoudings, veral as daar huishoudelike geweld ter sprake is. Dís dalk juis die rede hoekom kykers so maklik daarmee identifiseer en so briesend kwaad raak. Daar is hopeloos te veel hiervan wat in die regte lewe agter geslote deure afspeel!
Wie sou ooit kon raai dat TV se mees gehate karakter deur ’n kind sou wees? In Game Of Thrones was King Joffrey (gespeel deur Jack Gleeson) 16 jaar oud. In die boeke deur George R.R. Martin waarop die reeks gegrond is, was hy maar 11 jaar oud. Ek wou self in ’n stadium die mannetjie se kuif met ’n kroegstoel kam! Hy voldoen aan al die kriteria vir die slegste van die slegste: hy is ’n uitstekende leuenaar en manipuleerder; hy veroorsaak chaos; hy gebruik en misbruik mense; hy is narsisisties, gewelddadig, sadisties, wraakgierig en gee vir niks of niemand behalwe homself om nie.
Gleeson het ná sy tyd op Game Of Thrones besluit om toneelspel vir eers te los en op ’n akademiese loopbaan te fokus. Heel moontlik weens die ongekende haat vir sy karakter wat net wys hoe goed hy homself van sy taak as akteur gekwyt het.
Ons hou heimlik daarvan om karakters intens te haat. Dit gee ons daardie vryheid om in dieselfde kamer as die antagonis te wees. Om te sien wat hulle doen en gewalg te wees – maar sonder enige verantwoordelikheid om iets daaromtrent te doen.
Soos George R.R. Martin aan Jack Gleeson gesê het:
“Congratulations on your marvelous performance, everyone hates you!”