Menu terloops
In Wat om te kyk [1 Mei 2023]

Wat om te kyk: Nuut op TV dié week


Wat om te kyk: Ons gee nou weekliks vir kykers ’n voorskou van die week se TV-hoogtepunte. Die ‘Bridgerton’-voorverhaal, ‘Queen Charlotte’, die distopiese ‘Silo’, en die dramatiese rillerreeks ‘Love & Death’, tel onder ons top-keuses om vandeesweek (1 tot 7 Mei 2023) te kyk.

Wat om te kyk: Nuut op TV dié week

Wat om hierdie week op TV te kyk en aanlyn te stroom – hier is ons top-keuses vir die week 1 tot 7 Mei 2023.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Love & Death S1

Binge episodes 1-3 vanaf Maandag, 1 Mei 2023, op Showmax. Daarna word episodes weekliks beskikbaar gestel om te stroom. 

Love & Death vertel die onthutsende ware verhaal van twee paartjies – nogal boesemvriende – wie se lewens deur ’n wrede bylmoord én ’n affair onherroeplik verander word. Dié minireeks, geskryf deur die welbekende TV-skepper David E. Kelley (ook die skepper van onder meer Big Little Lies, Boston Legal en Anatomy of a Scandal) speel in die 1980’s af met Elizabeth Olsen en Patrick Fugit as Candy en Pat Montgomery. Hul huis (en kerk)-vriende Betty en Allan Gore word deur Lily Rabe en Jesse Plemons vertolk. 

White Lotus S2

Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 4 Mei 2023, op ME (DStv-kanaal 115 en op DStv Online) om 22:15.

In die volgende hoofstuk van The White Lotus word Hawaii vir Italië verruil, met ’n nuwe groep vakansiegangers wat na ’n vakansieoord in Sicilië reis. 

Albei seisoene is reeds op Showmax beskikbaar, maar vanaf hierdie week kan DStv-kykers ook dié fenomenale reeks beleef (en glo ons, dit is beslis ’n belewenis!) 

The White Lotus se eerste seisoen het die meeste pryse by die 2022-Emmy’s opgeraap – tien beeldjies in totaal – waaronder vir Jennifer Coolidge as beste byspeler in die rol van Tanya. Tanya is dan ook die enigste karakter van die eerste seisoen wat ons in die tweede seisoen sien. 

Die nuwe rolverdeling sluit onder andere vir Aubrey Plaza (Parks and Recreation) en Theo James (Divergent) in.

Emily the Criminal

Stroom vanaf Donderdag, 4 Mei 2023, op Showmax. 

Aubrey Plaza (ook in White Lotus S2 en veral bekend vir Parks & Recreation) vertolk die rol van Emily in dié misdaadriller. Emily is ’n mistroostige jong vrou; diep in die skuld. Sy raak dan by ’n kredietkaartbedrogspul betrokke en só ook verstrengel in Los Angeles se donker misdaadwêreld. 

Emily the Criminal het ’n punt van 94% op Rotten Tomatoes met die kritici-konsensus wat lui: ” ’n Strak riller met ’n magdom sosiale kommentaar, wat deur Aubrey Plaza se wonderlike werk in die titelrol oortref word.”

Terwyl The Hollywood Reporter meen die spanning gaan jou aan jou naels laat byt, beskryf die L.A. Times die fliek as “aangrypend”.

Queen Charlotte: A Bridgerton Story 

Vanaf Donderdag, 4 Mei 2023, op Netflix beskikbaar om te stroom.

Die jonge koningin Charlotte se huwelik met koning George van Engeland ontketen ’n epiese liefdesverhaal wat dan in dié Bridgertonprequel afspeel. Ek het ’n gevoel dié reeks se ses episodes gaan ons net vir meer laat vra…

Bridgerton is immers nie stroperige nonsens-televisie nie, maar dit het wel dieselfde tipe stickiness wat maak dat “net nog een episode” op ’n deurnag binge-sessie uitloop. Lees meer oor Bridgerton hier.

Silo S1

Vanaf Vrydag, 5 Mei 2023, op Apple TV+ beskikbaar om te stroom.

Silo vertel die verhaal van die laaste 10 000 mense op aarde. In dié verbeelde toekoms het die wêreld in duie gestort en die oorlewendes woon in ’n reuse ondergrondse silo. Die wêreld buite die silo is dodelik. Giftig, leer ons. Dié distopia se geheime lê egter so diep verborge soos die honderde vlakke van die silo waar mense “leef” in ’n samelewing met reëls wat hulle glo in hul beste belang is. Maar is al die reëls en regulasies regtig om hulle te beskerm? Niemand weet immers wanneer of hoekom die silo gebou is nie en noodlottige gevolge wag op diegene wat te veel vrae vra.

Rebecca Ferguson speel Juliette, ’n ingenieur wat antwoorde soek oor ’n geliefde se dood en dan binne-in ’n maalkolk van leuens en raaisels beland. 

Die reeks is gegrond op die Silo-boeke deur die skrywer Hugh Howey. 

The Midwich Cuckoos

Binge episodes 1-3 vanaf Vrydag, 5 Mei 2023, op Showmax. Daarna word twee episodes weekliks beskikbaar gestel. 

The Midwich Cuckoos speel af in die stil Engelse dorpie van Midwich. Niks veel gebeur hier nie – tot een somersaand as ’n raaiselagtige verduistering oor die dorp toesak en Midwich se vroue skielik – en onverklaarbaar – swanger laat.

Die reeks is ’n hedendaagse herverbeelding van John Wyndham se gelyknamige klassieke wetenskapfiksieboek. Wyndham se storie is reeds bekend aan gruwelliefhebbers as die fliek Village of the Damned.  

The Midwich Cuckoos bestaan uit sewe episodes met die rolverdeling wat onder andere die BAFTA-benoemde Keeley Hawes en Max Beesley insluit. 

The Coronation of His Majesty The King

Vanaf 08:30, Saterdag, 6 Mei 2023, op BBC News (DStv-kanaal 400 en DStv Online).

Dis ’n hele dag se kyk, hierdie affêre. Wat ook al jou opinie oor die monargie en die doen en late van die royals, dis nie aldag wat ’n mens so ’n geskiedkundige oomblik kan waarneem nie. Lank lewe TV! 

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies