…En boonop word Donnalee Roberts en Ivan Botha se dramareeks, Een keer om die son, uiteindelik ook op Showmax beskikbaar gestel. Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Shaka iLembe S2
Weekliks vanaf 15 Junie 2025 om 20:00 op Mzansi Magic en DStv Stream, DStv-kanaal 161.
In Mzansi Magic se Shaka iLembe word ’n fiktiewe interpretasie van die historiese gebeure rondom die Zoeloekoning, Shaka, se opkoms en heerskappy uitgebeeld. Dié reeks se eerste seisoen het 12 Safta-beeldjies opgeraap, maar daarmee saam is groot verwagtinge van die tweede aflewering geskep.
Lemogang Tsipa vertolk weer die formidabele Shaka, met Thembinkosi Mthembu, wat die Safta-toekenning as beste akteur vir sy vertolking in die eerste seisoen gewen het, wat weer die kyker aan die strot gryp in die rol van Dingiswayo.
Die tweede seisoen begin met Shaka en Nandi (Nomzamo Mbatha) se aankoms by KwaNobamba, waar hy sy heerskappy as die nuwe Zoeloekoning begin.
Die volledige eerste seisoen is op Showmax beskikbaar.
Semi-soeter
Vanaf 20 Junie 2025 op Netflix beskikbaar.
Meer as ’n dekade nadat ons vir JP (Nico Panagio) en Jaci (Anel Alexander) op die silwerdoek in die romantiese komedie Semi-soet ontmoet het, is daar nou ’n vervolgprent, Semi-soeter, wat eersdaags op Netflix beskikbaar is. Ook Louw Venter keer terug as Hertjie, met Sandra Vaughn as Karla.
Hoewel JP en Jaci se fokus nou geheel en al op hul professionele ambisies geskoei is, is daar ’n pienkvoet en ’n hele paar vuil doeke wat hul kanse om ’n reuse-kontrak los te slaan, kan omvergooi…
Landman
Weekliks vanaf 2 Junie om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101).
Landman is geskep deur Yellowstone se Taylor Sheridan tesame met Christian Wallace en is gegrond op Wallace se treffer-podcast, Boomtown. Sheridan se vingerafdrukke is oral op dié reeks en as sulks pas dit gemaklik by die res van sy oeuvre in. Dis ook reeds vir ’n tweede uittog hernu.
Die storie draai die keer om Billy Bob Thornton se Tommy Norris, ’n krisisbestuurder vir ’n reuse-oliemaatskappy in Texas. Soos die reeks verloop, ontvou ’n meervlakkige verhaal wat ook die oliebedryf se genadelose invloed op veral die wêreld-ekonomie, geopolitiek, en, natuurlik, die omgewing, blootlê.
Ook deel van die rolverdeling is Demi Moore, Ali Larter en Jon Hamm.
Chimp Crazy
Vanaf 13 Junie 2025 op Showmax.
Dié vierdelige dokkiereeks is onmisbaar – werklik. Die spil draai om Tonia Haddix, ’n voormalige verpleegster wat ons as ’n “makelaar” vir eksotiese diere – soos sjimpansees (chimps) – ontmoet. Dis egter haar liefde-obsessie met veral een chimp wat diereregteorganisasies, die plaaslike owerhede, die media, en selfs die akteur Alan Cumming se aandag trek…
Die regisseur en vervaardiger is Tiger King se Eric Goode, maar, soos die New York Times tereg opmerk: “Chimp Crazy is meer tekstuurryk as Tiger King, deels vanweë die nouer fokus op die lot van diere”, en voeg by dat “daar ’n eindelose ‘OMG’-gevoel regdeur die reeks heers.”
Dis wild.
Vanaf 6 Junie 2025 op Showmax.
Dié reeks het met sy derde seisoen weer skoonskip as beste komedie by die Emmys, die Golden Globes en die Critics Choice-toekennings gemaak, met die storie wat ’n nuwe koers inslaan in die vierde seisoen. Deborah (Jean Smart) en Ava (Hannah Einbinder) is nou hard aan die werk om nie net ’n sukses van hul TV-program te maak nie, maar ook die geskiedenisboeke terselfdertyd te herskryf.
Dié nuwe seisoen spog met ’n punt van 97% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met The Guardian se lof wat lui: “Die vierde seisoen van Hacks is baie snaaks, maar wat dit werklik spesiaal maak, is net hoe rou dit ook is; gereed om jou in die maag te tref wanneer jy dit die minste verwag.”
The Rehearsal S2
Vanaf 25 Junie 2025 op Showmax.
The Rehearsal is ’n doku-komediereeks wat mense as’t ware die geleentheid gee om vir spesifieke situasies te “oefen”. Met ’n konstruksiespan, ’n legio akteurs, en oënskynlik onbeperkte hulpbronne, laat Nathan Fielder (How To With John Wilson) gewone mense toe om vir die lewe se grootste oomblikke voor te berei deur in simulasies – wat hy self noukeurig ontwerp en geskep het – daarvoor te “repeteer”.
Die eerste seisoen was ’n reuse-sukses, met die tweede aflewering wat ewe hoogs aangeskrewe – indien nie meer nie – is. Dis veral die laaste episode van die tweede reeks wat kolskoot tref (en laat wonder of jy dalk besig is om die beste TV van jou lewe te kyk…). Oneindig fassinerend.
Een keer om die son S1
Vanaf 25 Junie 2025 op Showmax.
Ivan Botha en Donnalee Roberts se kykNET-dramareeks is nou uiteindelik ook vir Showmax-kykers beskore.
Een keer om die son vertel die verhaal van ’n gesin wat op die oog af gelukkig lyk en volg hul lief en leed oor die loop van ’n kalenderjaar nadat ’n tragedie hul lewens omverwerp. Elk van die twaalf episodes beeld ’n maand in hulle lewe uit. Daar is ook terugflitse om te wys hoe hulle beland het waar hulle is.
Onder die storie se uiteenlopende karakters is daar onder andere Ruan van Wyk (Jacques Bessenger), ’n neurochirurg. Hy is met Lani van Wyk (Jana Kruger) getroud. Hulle het saam drie kinders: Markus (Liam Bosman), wat in matriek is, die 15-jarige Leandri (Alma van Heerden), en Sophia (Klara van Zyl) wat 8-jaar oud is. Dan is daar ook Amé Cloete, vertolk deur Donnalee Roberts, Ruan se suster en ’n suksesvolle finansiële bestuurder. Sy is getroud met Joshua Cloete (Ludwig Binge), die eienaar van ’n kunsgalery. Ruan en Amé se ouers is Sebastian (Albert Maritz), ’n insekkunde-professor, en Elma (Joanie Combrink) besit ’n tuisnywerheid.
Die reeks is reeds vir ’n tweede seisoen hernu.
Smoke
Die eerste twee episodes is vanaf 27 Junie 2025 op Apple TV+ beskikbaar met nuwe episodes wat daarna weekliks beskikbaar gestel word.
Smoke volg ’n taai speurder en ’n brandstigtingondersoeker soos hulle jag maak op twee reeksbrandstigters wat amok maak.
Die reeks het ’n helse indrukwekkende rolverdeling. Taron Egerton en Jurnee Smollett vertolk die hoofrolle met Greg Kinnear, John Leguizamo, Anna Chlumsky en Rafe Spall wat onder die ander spelers tel. Die storie self is deur ware gebeure en die bekroonde Firebug-podcast geïnspireer, met die draaiboek deur skepper Dennis Lehane.
Stick
Vanaf 4 Junie 2025 op Apple TV+.
In die komediereeks speel die geliewe Owen Wilson ene Pryce Cahill, ’n oor-die-muur gholfspeler wie se belowende professionele loopbaan jare gelede voortydig kortgeknip is. As sy huwelik in duie stort én hy sy werk by ’n sportwinkel verloor, besluit Pryce om ’n laaste kans te waag op Santi (Peter Dager), ’n 17-jarige gholf-fenomeen.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →