In die nuwe Afrikaanse dramareeks Die nuusmakers, draai die spil om ’n gesoute TV-nuusleser wie se persoonlike lewe een aand terwyl sy op die lug is inmekaar tuimel. Soos Rozanne Els in haar resensie van dié reeks skryf, bied Die nuusmakers “ ’n imponerende fiktiewe blik op die wêreld van plaaslike TV-nuusskepping wat met haas versmorende nabyskote, sekure tydsberekening, en ’n rolverdeling wat voluit speel, ’n dimensie van vergete menslikheid verlig.”
Buiten dié vertelling, is die TV-landskap ryk aan fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel. Onder hulle tel bekroonde verhale wat met sorg en uitnemendheid die wêreld van joernalistiek blootlê.
Hier is ons keur van agt sulke stories wat ’n blywende indruk gemaak het.
The Newsroom (2012-2014)
Kyk al drie seisoene op Showmax.
Aaron Sorkin se The Newsroom het oor die verloop van drie seisoene met aangrypende, tydige en relevante storielyne ’n vertelling oor die agter-die-skerms-wêreld van ’n TV-nuuskantoor geskep. Die rolverdeling, met onder meer Jeff Daniels, Emily Mortimer en Olivia Munn, het puik, puik, puik toneelspel gelewer.
Die reeks het sedertien, soos meeste Sorkin-reekse, nou ’n tipe van kultusaanhang met een van die eerste tonele in die loodsepisode wat sedert die mees onlangse Amerikaanse presidentsverkiesing opnuut wyd (miljoene kere oor) gedeel word. Sorkin is nie een wat ooit wegskram nie, en Daniels se karakter van Will McAvoy was ’n intuïtiewe en prysenswaardige interpreteerder van sy teks.
Spotlight (2015)
Beskikbaar op Apple TV+ en Prime Video.
Spotlight volg The Boston Globe se ondersoekende verslaggewerspan soos hulle herhaalde sistemiese misbruike in die Katolieke Kerk ontbloot nadat hulle ’n in-diepte ondersoek van seksuele misbruik teen ’n plaaslike priester – wat na bewering meer as 80 seuns mishandel het – loods. Hul ondersoek, en die stories wat uiteindelik gepubliseer is, het nie net die plaaslike Katolieke gemeenskap geruk nie, maar ook die wêreld oor.
Die fliek is gegrond op die ware stories wat dié span geskryf het en waarvoor hulle in 2003 die gesiene en gesogte Pulitzer-prys gewen het. Dié groep joernaliste word deur onder andere Mark Ruffalo, Rachel McAdams en Michael Keaton gespeel.
All the President’s Men (1976)
Beskikbaar op Apple TV+ en Prime Video.
Hierdie 1976-fliek is ’n ware classic – en moet voorgeskrewe materiaal vir alle joernalistiekstudente wees. Dit is gegrond op die ware verhaal van hoe die Washington Post-verslaggewers, Bob Woodward (hier vertolk deur Robert Redford) en Carl Bernstein (Dustin Hoffman) die Watergate-skandaal, wat tot Ronald Reagan se bedanking as president gelei het, oopgevlek het.
In die fliek, wat Woodward en Bernstein se gelyknamige boek as bronmateriaal gebruik, sien ons hoe hulle die stukkies van die legkaart – met moeite en met hul bronne wat vir hul lewens gevrees het – bymekaar gesit het.
The Insider (1999)
Beskikbaar op Apple TV+ en Prime Video.
The Insider vertel die ware verhaal van Jeffrey Wigand, ’n voormalige sleutelfiguur in die tabakbedryf wat ’n fluitjieblaser geword het. Russell Crowe vertolk Wigand, wat groot gewaag het om die ongeruimdhede in die bedryf, onder meer hoe die gesondheidsgevare van tabak onderdruk is, te ontbloot. Sy storie het uiteindelik tot ’n onthulling op die ondersoekende nuusprogram 60 Minutes gelei. Dié fliek vertel egter ook oor die agtergrond om uiteindelik, met moeite, daardie episode op die lug te kry. As gevolg van druk uit die korporatiewe geledere van CBS, 60 Minutes se uitsaaier, is dié storie baie, baie amper in die kiem gesmoor.
Dié fliek het talle toekennings opgeraap en is ook vir sewe Oscars benoem, waaronder vir beste rolprent, beste akteur (vir Crowe se spel) en beste regisseur (Michael Mann).
Tokyo Vice (2022-2024)
Kyk S1 van Tokyo Vice op Showmax.
Ansel Elgort en Ken Watanabe vertolk die hoofrolle in Tokyo Vice, ’n misdaaddrama waarin ’n Westerse joernalis (Elgort) een van Tokio se grootste misdaadbase aanvat.
Soos die boek, vertel die reeks die ware verhaal van Adelstein, ’n Amerikaanse joernalis wat na Tokio verhuis en by die bekende koerant, Yomiuri Shimbun, begin werk het nadat hy hul berugte en vreeslik streng taaleksamen geslaag het. Só het hy dié koerant (in die reeks Meicho Shimbun genoem) se eerste buitelandse joernalis geword – boonop ook hul misdaadverslaggewer. Tot sy groot voordeel, besluit ’n veteraanspeurder (Watanabe) om hom onder sy vlerk te neem. Saam-saam ondersoek hulle die donker en gevaarlike wêreld van Japanse georganiseerde misdaad. Veral die doen en late van die Yakuza kom onder die loep.
Scoop (2024)
Kyk dit op Netlix.
Dié fliek is gegrond die werklike gebeure wat aanleiding gegee het tot BBC Newsnight se berugte onderhoud met Prins Andrew oor sy hegte vriendskap met die veroordeelde Amerikaanse seksoortreder Jeffrey Epstein. Die vertelling sluit alles – met rolling senutergende tonele – in. Van die Newsnight-span se onderhandelinge met Buckingham-paleis tot die uiteindelike, verstommende onderhoud wat die joernalis Emily Maitlis (Gillian Anderson) met die prins gevoer het.
Rufus Sewell (The Diplomat) vertolk Prins Andrew. Ook met onder andere Billie Piper (Penny Dreadful) en Keeley Hawes (Line of Duty) in die rolverdeling.
Shattered Glass (2003)
Beskikbaar op Apple TV+ en Prime Video.
Dié fliek, met Hayden Christensen in die hoofrol as Stephen Glass, is ook op ’n ware verhaal gegrond. Absurd, ja, maar waar. Dié voormalige joernalis het in sy tyd as verslaggewer by The New Republic etlike van die stories wat hy geskryf het, heeltemal of gedeeltelik opgemaak. Dié 2003-fliek is ’n boeiende blik met Christensen wat regtig nommerpas in die rol van vriendelike bedrieër is.
Hoewel hy aanvanklik, en nogal redelik lank, met sy leuens wegkom – al is talle klagtes oor sy beriggewing opgeteken en feitefoute uitgewys – is dit uiteindelik ’n Forbes-joernalis wat later die hele lot leuens lostorring en die bewyse aan Glass se baas oorhandig. In ’n onderhoud met CNN het Glass later dié fliek as sy eie “persoonlik gruwelfliek” beskryf.
The Morning Show (2019–)
Die vierde seisoen sal na verwagting in September op Apple TV+ beskikbaar wees.
Hierdie Apple TV+ reeks se eerste drie seisoene was uiters gewild onder kritici én kykers met veral Jennifer Aniston en Reese Witherspoon wat vir hul spel uitgesonder is. Die reeks kyk na alles wat agter die skerms van ’n ontbytnuusprogram gebeur. Die genuanseerde teks, uiters tydige storielyne, en volronde, feilbare karakters, maak dit egter ook ’n tematiese baken in die TV-landskap soos parallelle in die “regte wêreld” verlig word.
En nog…
- She Said (kyk dit op Netflix)
- Frost/Nixon (Apple TV+/Prime Video)
- Bombshell (Apple TV+)
- Whiskey Tango Foxtrot
- The Loudest Voice (Prime Video)
- Zodiac (Apple TV+/Prime Video)
- The Post (Apple TV+/Prime Video)
- Sports Night (Apple TV+/Prime Video)
- Murphy Brown (Prime Video)
- Being Mary Jane (kyk dit op Netflix)
- Inventing Anna (kyk dit op Netflix)
- Boston Strangler (Disney+)
- Nightcrawler (Apple TV+/Prime Video)
Ook lekker om te lees
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →