Suid-Afrikaanse sepies is al vir dekades die hartklop van ons plaaslike televisie landskap. Die gejaag in die gange van ’n hospitaal, die geskinder in koffiewinkels, familiedrama en verbode romanse – daar is niks lekkerder as die kinkels van ’n sepie nie. Oor die jare heen het baie akteurs met hul sepierolle huishoudelike name geword. Maar soos die seisoene verander het, het die paaie van sommige geliefde sterre ook wendings geneem.
Alhoewel hulle nie meer daagliks op ons skerms verskyn nie, bly hierdie voormalige sepie- en TV-sterre deel van die kultuurstof wat ’n hele generasie in Suid-Afrikaanse televisie gedefinieer het. Of hulle nou draaiboeke skryf, die volgende generasie akteurs mentor, of besighede bou, hierdie akteurs wys dat die magic van storievertelling nooit verdwyn nie. Eerder dat dit moontlik is om ’n heel nuwe vorm aan te neem.
Party het van die skerm af verdwyn om nuwe passies na te jaag. Ander het agter die kamera hul roeping gevind. En dan was daar ook diegene wat na ’n heeltemal ander bedryf oorgeslaan het. Ons vertel jou meer van vyf ikoniese Afrikaanse akteurs wat ’n blywende indruk op kykers met hul toneelspeel gemaak het en sedertdien opwindende nuwe avonture onderneem het.
Nina Swart

Nina se vertolking van Wilmien in 7de Laan — die spontane, suksesvolle, pret en wilde kind van Afrikaanse televisie — het haar as ’n fan favourite gevestig. Jare later het Nina haarself herontdek as ’n kreatiewe krag agter die kamera. Sy het al op talle produksies gewerk wat onder meer Die Byl, Tuiskoms, Plaasjapie, Fraksie, Troukoors en Survivor SA insluit. Sy dra ook die hoed van skrywer en vervaardiger in TV, film en digitale inhoud. Haar storievertelling gaan voort — net van ’n ander perspektief af.
Diaan Lawrenson

Of jy haar nou ken as Paula van der Lecq in 7de Laan, Joey Steyn in Spoorloos 3 of Anet Ludik in Ludik, Diaan se vertolkings laat kykers altyd na meer hunker. Danksy haar eksentrieke, snaakse en boeiende vertolking as Paula, bly hierdie karakter een van die mees ikoniese karakters op plaaslike TV. Diaan het haar waarlik met hart en siel lewe gegee. Vandag neem Diaan haar liefde vir storievertelling en vermaak na die klaskamer. Sy dien tans as dekaan van die AFDA-filmskool in Kaapstad en bly daartoe verbind om toekomstige filmmakers en talent te mentor. Sy werk ook dikwels agter die skerms as ’n vervaardiger.
Neil Sandilands

Kykers het hom al gesien as ’n skurk in The Flash, Sweet Tooth, London Calling en Kingdom of the Planet of the Apes. Maar voordat hy ’n Hollywood-baddie geword het, was Neil een van die gewildste akteurs in Suid-Afrikaanse sepies en dramas, en het aanvanklik bekendheid as Bart in 7de Laan verwerf. Nou spandeer hy meeste van sy tyd in die buiteland en behaal hy internasionale sukses met uitsonderlike rolle in groot reekse en films. Hy is ook ’n musikant, skrywer en regisseur, en verteenwoordig steeds Suid-Afrikaanse talent op die wêreldverhoog. Hy is ook bekend vir sy rolle as Bernoldus in DAM en Freddy Greyling in Desert Rose. Kykers kan ook tans sy ikoniese diep rasperstem as die storieverteller op die tweede seisoen van die kykNET-realiteitsreeks Die brug hoor.
Ingrid Paulus

Ingrid Paulus was vir jare ’n sentrale figuur in sepieland as Vanessa Meintjies in 7de Laan. Sedert sy dié sepie vaarwel gegroet het, dra Ingrid voltyds ’n regisseurshoed. Ná jare se werk in Johannesburg agter die kamera, werk sy deesdae as regisseur op kykNET se gewilde sepie Suidooster. Hier span sy haar kennis van die sepiewêreld in om dié Kaapse sepie se vele fassinerende storielyne lewe te gee.
Quinne Brown

Kykers het vir jare vir Quinne se Connie op 7de Laan aangehang. Dit was ’n rol wat sy met warmte en opregtheid vertolk het. Ná haar verhuising na die VSA en die geboorte van haar kinders, het Quinne ’n nuwe roeping gevind deur ander vroue te help om geboorte te gee as ’n doula. Sy werk nou as lewensafrigter, motiveringsspreker en welstandsfasiliteerder. Só gebruik sy haar leweservaring om ander te help genees, besin en te groei.