Menu terloops
In Onderhoude [13 Aug 2024]

Van ‘7de Laan’ tot ‘Skemergrond’: Hildegardt Whites oor ‘geseënde nuwe hoofstuk’


Toe die einde van ‘7de Laan’ aangekondig is, het die aktrise Hildegardt Whites dié nuus met ’n oop gemoed ontvang. ’n Skuif na die Kaap en haar nuwe rol as Lily in ‘Skemergrond’ het haar ‘geseënde nuwe hoofstuk’ daarna ingelui, vertel Hildegardt.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom aanlyn

Van ‘7de Laan’ tot ‘Skemergrond’: Hildegardt Whites oor ‘geseënde nuwe hoofstuk’

Vir meer as 15 jaar het sy haar mede-akteurs op hul tone en kykers vasgenael voor die kassie gehou – of dit nou was in ’n paar van Bonita se stylvolle stilettos of in die (nou ikoniese) tronk-overalls. ’n Meer slinkse skurk sal ’n mens nie sommer weer vind nie, maar toe die einde vir Bonita en die 7de Laan-familie aanbreek, was dit ’n nuwe begin vir Hildegardt Whites en haar eie gesin. 

Ná 17 jaar in Gauteng, het dié Noord-Kaapse boorling die einde van haar 7de Laan-era sommer met oop arms verwelkom. Hildegardt se kop het lank voor die einde van 7de Laan en die begin van Skemergrond reeds Kaap toe gestaan, maar die tydsberekening het nooit reg gevoel nie. 

“My man het vir twee jaar in die Kaap gewerk en ek wou graag hê my gesin moes weer saam wees, maar al was daar ander geleenthede om Kaap toe te kom, het dit nie gevoel asof daar longevity in daardie geleenthede was nie,” vertel sy. 

“Maar elke keer as moes terugvlieg Johannesburg toe, het dit al moeiliker geraak. Ek wou nie meer teruggaan nie. Ek het Joburg ge-love, maar ek kon voel dit is tyd vir verandering. Toe hulle sê die Laan maak klaar, was dit natuurlik hartseer, maar ek was soos, ‘Okei, nee, dit is my sign, ek gaan Kaap toe’.” 

Lily Louw roep haar naam

Hildegardt Whites
Hildegardt Whites het uit die staanspoor geweet sy wou Lily Louw op Skemergrond vertolk. Foto: Verskaf

Hildegardt was nog besig om aan 7de Laan te skiet toe sy van Skemergrond hoor. Sy het ’n lang lys van karakters ontvang, maar iets het haar onmiddellik na Lily Louw aangetrek. 

“Ek het oudisies gedoen met Lily in gedagte en toe my agent my ’n paar weke later bel om te sê ek het die rol gekry, kon ek dit nie glo nie,” vertel sy. 

“Dit was nog voor ek by die Laan klaargemaak het, so ek moes dit vir ’n hele rukkie stil hou. Ek het deur baie verskillende emosies gegaan, want ek was dankbaar vir hierdie geleentheid en iets nuuts om na uit te sien. Maar dit was ook hartseer om my familie by die Laan te groet en natuurlik was daar baie kollegas wat sonder werk gesit het.”

In die periode tussen die einde van 7de Laan en die begin van Skemergrond se verfilming, het sy haar lewe in Johannesburg opgepak en die tyd gebruik om met haarself te reconnect

“Wanneer mens so besig is, is dit nogal vreemd om weer so baie tyd te hê. Vir die eerste keer in baie lank het ek tyd gehad en moes ek nêrens heen rush nie. Tyd is baie belangrik vir my deesdae en ek geniet regtig die pas-verandering. Dinge is baie rustiger in die Kaap. Die eerste paar weke ná 7de Laan moes ek wel daaraan gewoond raak om my eie hare en make-up te doen. Vir ’n sekonde moes ek dink of ek nog my eie make-up het,” skerts sy.

‘Divine timing’

“Alles was ’n nuwe ervaring. Dit was ’n nuwe stad, ’n nuwe skool, nuwe roetine en ’n nuwe werk om na uit te sien, maar my gesin was weer saam as ’n unit en ek was baie opgewonde al was ek so bietjie nervous.” 

Hildegardt beskryf die manier hoe dinge vir haar en haar gesin uitgewerk het as divine timing.

“Ek is truly blessed. Alles het net perfek uitgewerk en ek kon nie vir beter gevra het nie. Dit is vir my so lekker om weer naby my mense te wees en om nuwe dinge te doen en te sien,” vertel sy.

“As jy iets nuuts doen, is jy maar senuweeagtig, veral omdat ek vir so lank dieselfde karakter vertolk het, maar ek het baie uitgesien om saam met die Skemergrond cast te werk. Toe ek die teks lees, het dit net reg gevoel. Ek was soos, ‘I’m so ready for this!’ ”

Wie is Lily?

Hildegardt se nuwe karakter, Lily Louw, is die jongste dogter van JP (Charlton George) en Jasmine (Khadija Heeger) Louw. Sy het op 16-jarige ouderdom uit die bloute haar sakke gepak en Everlasting (hul familie-blomplaas) sonder ’n woord verlaat. Sy het Europa platgetoer met haar dogter, Amber (Talia Davis), maar het onlangs plaas toe teruggekeer. 

Hildegardt Whites
Talia Davis vertolk die rol van Amber, Lily (Hildegardt Whites) se dogter in Skemergrond. Foto: Verskaf
Hildegardt Whites
Hildegardt Whites en Charlton George in Skemergrond. Foto: Verskaf

“Baie sou sê Lily is die swartskaap van die familie, maar dit is glad nie waar nie… Al voel sy soms soos ’n inkommer in haar eie familie. Sy is baie independent en ná jare van rondreis het sy al baie dinge gesien en beleef. Dit is baie anders as haar familie wat hul hele lewe lank nog net die plaas en lewe op die plaas ken. Dit laat haar anders kyk na dinge en die lewe. Ek hou baie van haar en ek dink sy gaan nog diep in mense se harte kruip,” vertel Hildegardt. 

Berge, blomme en bome

Skemergrond is kykNET&kie se nuwe telenovela wat in die Wes-Kaapse platteland en Kaapstad afspeel en vir Hildegardt is dit ’n ekstra seëning om in so ’n mooi omgewing te kan skiet. 

“Vir jare lank het ek net in ’n ateljee geskiet. Jy gaan donker in en as jy buite kom en jy kan nog jou sonbril aantrek, dan is jy gelukkig. Ek het nou die dag met ons regisseur Roxanne (Blaise) op die plaas gestaan en gesels toe ons 07:30 die oggend al reggestaan het met hare en grimering en toe vertel ek vir haar net hoe blessed ons is om op daardie mooi plaas te kan skiet,” vertel sy. 

“Om elke dag so tussen die berge, blomme en bome te kan skiet is iets wat ek so geniet. Ek is maar self ’n buite-mens. Jy sal my en my kind altyd in die tuin of by ’n park kry, so die Kaap is perfek vir ons.” 

Ou vriende

Hoewel sy haar nuwe kollegas en familie op Skemergrond geniet, is dit vir haar ook lekker om ’n paar ou gesigte van die Laan saam met haar te hê.

“My eksman (in 7de Laan) Dewet (vertolk deur Dirk Stoltz) speel Manny in Skemergrond, terwyl antie Ivy (vertolk deur Nazli George) nou bekend is as Rachel. En dan is daar natuurlik my aartsvyand Marianne (vertolk deur Deirdre Wolhuter) wat hier die rol van Tillie vertolk,” vertel sy. 

“Al is dit lekker om nuwe mense te leer ken en met nuwe kollegas te groei, is dit so spesiaal om met ou vriende en kollegas op iets nuuts te kan werk. Ek en Carmen Maarman, wat die rol van my sussie Hazel vertolk, het ook al saam op 7de Laan gespeel. Dit is hoekom dit so lekker was toe ons mekaar ná jare weer op Skemergrond kom kry het.” 

Rustigheid in die Kaap

Al skiet hulle al maande aan Skemergrond, het Lily maar eers onlangs op die kassie verskyn. Maar binne ’n week het mense Hildegardt reeds Lily begin noem in die winkels. En gelukkig vir haar is mense meer vriendelik teenoor Lily as Bonita. 

Hildegardt is opgewonde om te sien waar hierdie nuwe hoofstuk vir haar en haar gesin gaan neem, maar vir nou is die stadiger lewe hemels.

“Ek het rustigheid in die Kaap gevind. Nou probeer ek net die meeste van elke dag maak. Ek moet myself gereeld herinner dat ek nie meer hoef te jaag nie. Dan sê ek vir myself, ‘Nee, meisie, kom sit en geniet jou tyd en jou tee.’ 

“Dit is regtig die klein dinge wat deesdae vir my belangrik is. Tyd gaan so vinnig verby en jy kry dit nooit terug nie. Dit is ook nie iets wat vir jou gewaarborg is nie. So maak die meeste van jou tyd en geleenthede.”


Skemergrond saai weeksdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream uit. Dit sal ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies