Menu terloops
In Gons [25 Apr 2025]

‘The Mommy Club’: Van die hoofstad’ se Johandri: Getrou aan haarself ten spyte van seer


Met die nuus dat die realiteitsreeks, ‘The Mommy Club: Van die hoofstad’, vir ‘Trompoppie’ oortref het as die mees gekykte Afrikaanse reeks op Showmax sedert dié platform se vernuwing, vertel Johandri Johnson meer oor haar ervaring as deel van dié dramabelaaide program.

Kyk 'The Mommy Club: Van die hoofstad'op Showmax

‘The Mommy Club’: Van die hoofstad’ se Johandri: Getrou aan haarself ten spyte van seer

In die Afrikaanse uittog van Showmax se gewilde The Mommy Club-franchise ontmoet kykers vyf ambisieuse en Afrikaanse ma’s van Pretoria: Johandri Johnson, Ansu Viljoen, Crystal Van Der Burgh, Louise Volschenk en Tessa Tullues.

Die 33-jarige Johandri het al verskeie Bikini Fitness-titels ingepalm en omhels nou die lewe as ’n voltydse ma en smaakmaker. Sy en haar man, Stiaan Johnson, is die ouers van ’n eenjarige. 

Terloops het met Johandri oor haar Mommy Club-ervaring gesels.  

The Mommy Club
In die Afrikaanse uittog van Showmax se gewilde The Mommy Club-franchise ontmoet kykers vyf ambisieuse en Afrikaanse ma’s van Pretoria: Ansu Viljoen, Crystal Van Der Burgh, Johandri Johnson, Louise Volschenk en Tessa Tullues. Foto: Verskaf

Wat het jou genoop om aan die reeks deel te neem? 

“Ek het deelgeneem omdat ek deel wou wees van ’n gemeenskap sterk, inspirerende vroue wat die unieke reis van moederskap verstaan. Dit gaan nie net daaroor om gesien te word nie, dit gaan daaroor om ware stories te deel – die hoogtepunte en die laagtepunte – en om mekaar te ondersteun, te wys dat ma’s kragtig, stylvol, suksesvol, en steeds kwesbaar kan wees. Ek wou my opregte self verteenwoordig, met ander mense bande smee, en vroue inspireer wat met my en my storie kan vereenselwig.”

Hoe voel dit nou as jy jouself op die TV-skerm sien?

“Om myself op TV as kwesbaar en sagmoedig te sien, was baie emosioneel en insiggewend. Dit het my gedwing om die emosies wat ek dalk in die oomblik afgeskud het, in die gesig te staar. Maar om dit als te sien uitspeel, het my laat besef watter krag dit geverg het om getrou aan myself te bly. Ja, dit het seergemaak – ons is almal menslik – maar dit het my ook aan my veerkragtigheid en krag herinner. Ek het beslis daaruit gegroei en nou sal ek met meer selfvertroue praat, nie net vir myself nie, maar vir ander wat dalk dieselfde voel.”

Wat was jou familie en vriende se reaksie oor jou deelname aan die reeks?

“Die aandag en terugvoer van my familie en vriende nadat hulle die program gekyk het, was nog niks behalwe liefde en ondersteuning nie. Elke liewe persoon wat my hart ken en wat my as persoon ken, het gesê, ‘Dis presies wie jy is.’ En dís die grootste kompliment, want ek het aan myself getrou gebly.”

Hoe voel dit om jou persoonlike lewe so op skerms – en inderwaarheid met derduisende vreemdelinge – te deel?

“Om myself en my persoonlike lewe so oop te maak, was ’n groot stap, maar een waaroor ek nie spyt is nie. Dit was emosioneel, rou en eg, maar ook bemagtigend. Ek het my ware self gewys – foute, sterk punte, emosies, alles – en dis iets waarop ek trots is. Dis nie maklik om só blootgestel te wees nie, maar as selfs een persoon met my storie of my teenwoordigheid kan vereenselwig, dan was dit die moeite werd. Ek het baie oor myself in die proses geleer, en ek het uit die ervaring gegroei.”

Wat het jy geleer tydens dié hele ervaring?

“Ek het geleer dat ’n goeie hart, en die begeerte om soms ’n vredemaker te wees, jou in die gat kan byt. Nie almal gaan van jou hou nie, en dís oukei. Ek het geleer dat nie almal toegang tot jou energie of jou nabye kring mense verdien nie. Jy kan vir jouself opstaan, grense stel en steeds vriendelik bly. Jou mag hoef nie altyd hard te wees nie; dit kan kalm, gegrond en onbeskaamd eg wees.”

Hoe voel jy oor die reünie-episode wat binnekort opgeneem word – is daar iets wat jy wil opklaar voordat dit gebeur?

“Ek sien uit daarna, nie net om oor als te besin nie, maar ook om duidelikheid te gee waar dit nodig is. Ek wil dit baie duidelik stel: ek was nooit ’n opdringerige persoon nie… Ek staan ​​op vir myself wanneer ek glo die situasie verdien my energie.

“Maar as dit soos hoërskooldrama voel, sal ek my afstand hou, en ek is oukei daarmee. Sommige mense sal dit dalk met swakheid verwar, maar dit verg eintlik baie krag om kalm te bly en nie negatiwiteit te koester nie.”

Het jy enige blywende vriendskappe of bande met van die ander vroue gesmee?

“Ja, ek het wel egte bande met ’n paar van die mammas in die program gesmee. Wanneer jy in só ’n ruimte is, vol verskillende persoonlikhede en sterk vroue, is dit nie altyd maklik nie, maar daar is beslis oomblikke waar ware bande vorm.

“Ek waardeer egtheid, so die bande wat ek wel gemaak het, was gegrond op wedersydse respek en egte nergie, nie net vir die kameras nie. En dít is vir my wat werklik saak maak.”

Wat maak van dié reeks sulke lekker kykstof?

“Mense moet kyk, want dis eg, dis rou, en, glo my, daar is nog baie meer op pad. Daar is morsige oomblikke en lelike bakleiery, maar onder dít alles is daar ’n kragtige storie oor vriendskap, moederskap en groei.

“Of jy nou ’n ma, ’n sakevrou of selfs ’n jong meisie is – daar is iets in hierdie reeks waarmee jy kan vereenselwig of waaruit jy kan leer. Dis meer as blote vermaak; benewens die drama, het die storie baie hart. Dis die werklike lewe en dit ontvou reg voor jou.”


The Mommy Club: Van die hoofstad is op Showmax beskikbaar om te stroom.

Kyk ook vorige seisoene van The Mommy Club op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies