Menu terloops
In Gons [26 Feb 2024]

Kyk nou: Onthullings volop in ‘The Illuminated’, dokkiereeks wat godsdienste, oortuigings in SA onder loep neem


Van die Christ in Me International Collective en Sciëntologie, tot ’n beweerde kultusgroep in Hermanus en die regse politieke kultus Israel-visie – ‘The Illuminated’ is ’n nuwe dokumentêre reeks op Showmax wat verskillende Suid-Afrikaanse godsdienste en oortuigings ondersoek.

Kyk nou: Onthullings volop in ‘The Illuminated’, dokkiereeks wat godsdienste, oortuigings in SA onder loep neem
Kyk lokprent

Showmax het onlangs die lokprent vir die dokumentêre reeks, The Illuminated, wat op 6 Maart 2024 op dié platform begin, uitgereik. 

Die reeks kyk na Suid-Afrikaanse godsdiensbewegings wat buite die hoofstroom val. Dit sluit onderhoude met kundiges, leiers, oud-lede, nuwe voorstanders, asook teenstanders van dié groepe in.

Die eerste episode handel oor Israel-visie. Soos Japie van Zyl, óftewel Boerseun van Migdol op sosiale media, in The Illuminated sê: “Daar is baie verskillende denominasies. Maar die een ding wat ons in gemeen het, is dat ons almal glo ons is die direkte afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob, die werklike afstammelinge van die 12 stamme van Israel.”

Daaropvolgende episodes fokus op The Church of Scientology; die Christ in Me International Collective; netwerkbemarkingsondernemings en korporatiewe transformasie-afrigtinginisiatiewe wat sekere ooreenkomste met godsdiensgroepe het; KwaSizabantu; nuwe evangeliese kerke; Mancoba Seven Angels Ministries; en The Fellowship in Hermanus.

Daar is ’n gesegde wat sê dat jy nie in beleefde geselskap oor godsdiens of politiek moet praat nie.

Wynand Louw, regisseur

Die laaste episode slaan dalk die hardste. Daarin word gekyk na hoe ekstreme godsdienstige oortuigings mense kan dryf om afgryslike dade te pleeg. Dít word gedoen deur die storie van Hardus en Nicolette Lotter as voorbeeld te gebruik. Die Lotters is skuldig bevind aan moord op hul ouers. Die hof het bevind dat Nicolette se kêrel, Matthew Naidoo, dié broer en suster gemanipuleer het om te glo dat hy die derde seun van God is en hulle aangemoedig het om hul ouers te vermoor.

‘Godsdiens iets wat byna alle Suid-Afrikaners in gemeen het’

Vryheid van godsdiens is verskans in die Grondwet van Suid-Afrika. In die 2022-sensus het slegs 2,9% van die bevolking aangemeld dat hulle geen godsdienstige affiliasie het nie. Terwyl meer as 80% van Suid-Afrikaners identifiseer as Christene, is daar ook baie ander gelowe wat beoefen word, elk met hul eie unieke perspektiewe. Selfs binne godsdienstige bewegings wat uit die Christendom ontstaan, is daar dikwels beduidende verskille, soos The Illuminated duidelik maak.

“Daar is ’n gesegde wat sê dat jy nie in beleefde geselskap oor godsdiens of politiek moet praat nie,” sê die reeksregisseur Wynand Louw. “Maar om rondom godsdiens groot te word, is iets wat byna alle Suid-Afrikaners in gemeen het.”

Elke episode mik na ’n insider-siening van leiers, lede en voormalige lede. Soos die Christ In Me Collective-stigter Xandré Strydom in die lokprent sê: “Dit is die eerste keer in 13 jaar dat die media ons die geleentheid gee om te praat.”

Elke episode praat ook met teoloë, wat die bewegings binne hul breër kontekste plaas.

The Illuminated word vervaardig deur POP24, die produksiemaatskappy agter ware-misdaadreekse soos Imibuzo en Huisgenoot Ware Lewensdramas


The Illuminated begin op Woensdag, 6 Maart 2024, met weeklikse nuwe episodes.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies