Menu terloops
In Sepies [1 Feb 2025]

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie


Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Stroom 'Suidooster'

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Kapenaars sal jou gou vertel dat die Suidooster in Februarie op sy sterkste kan woed. Dís ook waar van die drama-orkaan wat die gelyknamige kykNET-sepie in die komende weke gaan tref. 

Kyk uit vir dié vyf storielyne:

1

Damian (Caleb Felix) se spook loop omtrent in Ruiterbosch en die verdagte omstandighede rondom sy dood lei tot talle vrae, vrae wat Wade (Dean Smith), Justin (Eden Classens) en Gary (Craig Adriaanse) sukkel om te antwoord. Speurder Malherbe (Riaan Ellis) kry boonop snuf in die neus dat alles nie pluis is nie. Sy ondersoek voorspel groot probleme vir Wade. Dit begin ook lyk of Wade waarskynlik nie oop kaarte speel oor die gebeure van daardie noodlottige aand nie. Wink daar dalk ’n tronksel vir hom?

Suidooster
Wade (Dean Smith) sukkel om vrae rondom Damian se dood te beantwoord. Foto: Skermgreep
2

Riaan (Daniel Coetzee) besef dat daar baie waarheid steek in die sêding: “ ’n jakkals verander van haar, maar nie van snaar”. Hy moet weer die skerwe van sy lewe optel nadat hy uitgevind het sy vrou, Hanli (Celeste Loots), se lus vir ander mans kan nie geblus word nie. Is daar dalk hoop vir hom en Bianca (Simone Biscombe) om weer te probeer? Of het daar net té veel water in die see geloop?

3

Moederskap blyk ’n groot uitdaging vir Ruiterbosch se nuwe mamma, Kaashifa (Jawaahier Petersen), te wees nadat sy met nageboorte-depressie gediagnoseer word. Maar is daar dalk iets anders fout? Haar gedrag raak toenemend al meer vreemd… en selfs gevaarlik. Dit veroorsaak groot spanning in haar huwelik en sy begin selfs haar eie vriende verwyt. Dan gebeur iets wat die hele Ruiterbosch tot diep in sy fondamente skud.

4

’n Ou vriend van Elana (Esther van Waltsleben), Cilliers (Laudo Liebenberg), daag onverwags by haar voordeur op. Dié skielike besoek vang haar en Susan (Natasha van der Merwe) onkant en Susan ruik dadelik ’n rot. Dit is duidelik dat daar meer in Cilliers se besoek steek as net ’n kuier. Gaan Susan agter die werklike kap van die byl kom? En is sy ooit op die regte spoor?

Suidooster
’n Ou vriend van Elana (Esther van Waltsleben), Cilliers (Laudo Liebenberg), daag onverwags op. Foto: Skermgreep
5

Tydens ’n gefuif, bedink Gary en Justin ’n blink plan vir ’n nuwe selfoon-app wat eintlik ’n skitterende idee is. Dit lyk asof hierdie twee vriende dalk ’n sukses hiervan kan maak. Dinge is ongelukkig ook makliker gesê as gedaan – veral as ego’s in die pad begin kom. Daar word nie verniet gewaarsku dat vriendskap en besigheid nie maats is nie…


Kyk Suidooster elke weeksdag om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & Kie. Dit is ook op DStv Stream en Showmax beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies