Menu terloops
In Onderhoude [12 Feb 2025]

Van vriende tot verlief… op die skerm: Schalk Bezuidenhout en Kate Pinchuck vertel oor hul romkom, ‘Soos Pynappel op Pizza’


Vir die jare lange vriende en komediante Schalk Bezuidenhout en Kate Pinchuck is Showmax se ‘Soos Pynappel op Pizza’ die eerste keer wat hulle die hoofrolle in ’n romkom vertolk. Dié duo vertel meer.

Deur Rozanne Els
Van vriende tot verlief… op die skerm: Schalk Bezuidenhout en Kate Pinchuck vertel oor hul romkom, ‘Soos Pynappel op Pizza’
Kyk lokprent

Die stand-up komediante Schalk Bezuidenhout en Kate Pinchuck pak hul eerste hoofrolle in ’n romantiese komedie aan in Showmax se Soos Pynappel op Pizza, wat op Valentynsdag uitgereik word. Die storie draai om hul karakters – Waldo en Becca – se ontmoeting by ’n gekke enkellopende toevlugsoord in die berge, waar die noodlot hulle dan in die een absurde scenario ná die ander laat beland. Só word hulle gedwing om hul opinies oor die liefde te heroorweeg. 

Schalk, ’n tweemalige Comics Choice-wenner, ken goed van toneelspeel. Buiten sy streke op die komedieverhoog, het Schalk ook in die bekroonde Kanarie verskyn, ’n Safta-toekenning vir sy rol as Danny in die geloofde sitkom Hotel ingepalm, en is ook vir sy vertolking van Attie in die Bennie Fourie-sitkom, Taktiek, benoem. 

Kate, ’n veelmalige Standard Bank Ovation-pryswenner, is op haar beurt veral bekend aan Showmax-kykers vir haar Safta-benoemde spel as Taryn in Tali’s Baby Diary.

Ons het met dié duo oor hul romkom gesels. 

First things first… pynappel op pizza?

Schalk: “Ja! Ek is mal oor Hawaiise pizza, maar dit werk net as dit pynappel en ham is, geen ander kombinasie nie.”

Kate: “Absoluut! Ek is mal oor pynappel op pizza. Dis heerlik.”

Hoe het julle by die film betrokke geraak?

Schalk: “Ek ken vir Zandré [Coetzer, vervaardiger by Nagvlug] sedert 2016. Ons het saamgewerk aan vyf seisoene van Hotel, aan Die Ware Naarheid, en meer onlangs aan Taktiek. So sy ken my baie goed. Wat lekker is van om iemand soos Zandré aan boord te hê, is dat sy my en my vermoëns al so goed ken dat ek nie nodig gehad het om deur ’n hele oudisieproses te gaan nie.”

Kate: “Ek is genader met die idee vir die fliek en hulle het gesê, ‘Wil jy saam met Schalk werk?’ Ons is vriende en ons het al saam stand-up gedoen, maar ons het nog nie saam as akteurs gewerk nie, so ek was baie opgewonde. Schalk is baie professioneel en werk baie hard, en ek ook. Ek het geweet as ons saam aan iets werk, sal ons 110% gee en al ons energie en moeite daarin sit. Ons is albei daartoe verbind om dinge so snaaks as moontlik te maak.”

Schalk, vertel vir ons meer van Waldo en hoe hy by die storie inpas.

“As ons Waldo vir die eerste keer ontmoet, is hy hartgebroke, en hy is baie neerslagtig en depressief. Hy woon ook by sy ouers. Omdat hy ’n sjef is, kook hy vir hulle in ruil vir blyplek. Sy ouers is hippies en praat baie openlik oor seks en dies meer, maar hulle is nou moeg daarvan dat hy homself so jammer kry en dwing hom dan om na ’n oord vir enkellopendes te gaan. Hy wil regtig, regtig nie gaan nie. Hy is ’n baie stok-in-die-gat tipe mens… Nie opsetlik nie. Hy is nie ’n rugbykaptein-tipe poepol nie; hy het net ’n stok in sy gat. Maar hy gaan dan na die oord en dís waar hy vir Becca ontmoet. Sy is ’n Instagram-sjef, nie professioneel opgelei soos hy nie, maar sy het duisende volgelinge op sosiale media, en haar broer het vir haar uitgedaag om te gaan.” 

Op sekere maniere is hierdie fliek ’n bietjie van buiteperd-storie en jy beywer jouself selfs meer vir dié karakters omdat dit makliker is om by hulle aanklank te vind.

Schalk Bezuidenhout

En wat was jou eerste indrukke van Becca, Kate?

“Ek dink Becca is ’n interessante karakter. Sy is nogal sexy, parmantig en speels. Sy geniet dit om ’n goeie tyd te hê en met mense op te hook. Sy is glad nie gepla met die liefde nie, wat ek nie dink ’n karakter is wat vroue gereeld speel nie – daai is gewoonlik ’n manlike karakter. Maar Becca en Waldo is die teenoorgestelde van die klassieke romkom-karakterargetipes. Hulle is meer driedimensioneel en vol foute. Hulle is menslik en herkenbaar, maar steeds pret en eienaardig.”

Soos Pynappel op pizza
“Ek weet nie of die regisseur of die vervaardigers geweet het dat ons albei in sekere opsigte so soortgelyk aan ons karakters is nie, maar dit is hoe dit uitgewerk het,” sê Schalk Bezuidenhout oor Soos Pynappel op Pizza.

Kon julle redelik maklik by jul karakters aanklank vind? 

Schalk: “Ek is baie soortgelyk aan Waldo, want ek is ook nogal ’n romantikus. Ek is daardie ou wat gewoonlik die groot dinge ’n bietjie te vroeg sê…

“Ek kan ook beslis vereenselwig met daardie neerslagtigheid wat ’n mens ervaar as jou hart gebreek is en nou sit jy in hierdie gat vas, en jy het motivering nodig om jouself daaruit te kry. Ek was al hartgebroke, maar ek was nog nooit lank enkellopend nie. Dis nie omdat ek verhoudings gaan soek nie, eerder omdat ek daarvoor gaan as ek iemand ontmoet en ek van hulle hou. Ek speel nie speletjies nie. As ek van iemand hou, sê ek vir hulle. Dit hoef nie ’n ingewikkelde ding te wees nie.

“Kate is ook baie soos haar karakter, Becca. Sy is baie parmantig. Ek weet nie of die regisseur of die vervaardigers geweet het dat ons albei in sekere opsigte so soortgelyk aan ons karakters is nie, maar dit is hoe dit uitgewerk het.”

Kate: “Ja, terwyl ons besig was om te verfilm, het ek en Schalk albei besef dat ons albei op sekere maniere baie soortgelyk aan ons karakters is. Ons verskil baie van mekaar, op dieselfde manier as wat Waldo en Becca van mekaar verskil.

“Ek kan baie met Becca vereenselwig. Ek verstaan ​​beslis daardie gevoel om jouself te wil beskerm teen seerkry en liefde te vermy om jouself veilig te hou. Ek het dit een of ander tyd in my lewe gedoen. Ek is verseker nie so wild soos sy nie. Of so selfversekerd nie – Becca stap ’n kamer binne en is oortuig daarvan dat almal met bewondering na haar kyk, wat wonderlik is!

“Om eerlik te wees, ek wil meer soos Becca wees. Jy sien nie dikwels daardie tipe selfvertroue wat deur ’n karakter soos Becca uitgebeeld word nie. Jy sien ook nie baie gereeld sexy en snaaks saam in ’n vroue-karakter nie. Daar is dus baie goed van haar waarvan ek baie hou en wat ek graag sal wil navolg. So ja, ek het baie van myself in Becca ingeploeg, maar ook heelwat van wie ek wil wees.”

Julle is al vir jare vriende – hoe was dit om as akteurs saam te werk?

Schalk: “Wel, Kate is skreeusnaaks. Ek het geweet sy sou wonderlik in die film wees, en sy is. En omdat ons vriende is, het ons nie nodig gehad om enige chemiewerk vir ons karakters te doen nie. Ook, as julle baie gemaklik met mekaar is – soos ons is – kan julle die grense meer toets, want jy weet hierdie persoon is oraait daarmee. En as hulle nie is nie, is hulle ook gemaklik genoeg om net te sê, ‘Moenie dit doen nie.’”

Kate: “Ons vertrou mekaar baie, wat veral lekker was omdat ek nie weet of ek van die goed wat ek met Schalk gedoen het, met iemand wat ek pas ontmoet het, sou gedoen het nie.”

Hoe verskil dié fliek van ander plaaslike romkoms?

Schalk: “Die enigste ander romkom wat ek al gedoen het, was Kaalgat Karel. Daarin het ek die hoofkarakter se makker gespeel. So, wat die hoofrol betref, was hierdie beslis ’n eerste. Wat ek daarvan hou, is dat ek en Kate geneig is om randkarakters te wees as gevolg van ons voorkoms. My krulhare plaas my gewoonlik in die kategorie van die ‘Eienaardige Beste Vriend’ of so iets. En Kate word ook dikwels getipeer in rolle soos dié van ‘Parmantige Beste Vriendin’, wat gewoonlik net ’n rasieleier vir die hoofkarakter is. So ek dink nie die meeste mense sal ons in die hoofrolle verwag nie. Ek dink dít is regtig verfrissend.

“Op sekere maniere is hierdie fliek ’n bietjie van buiteperd-storie en jy beywer jouself selfs meer vir dié karakters omdat dit makliker is om by hulle aanklank te vind.

“Ons gaan nie voluit balls to the walls nie. Maar in vergelyking met baie Afrikaanse romkoms is hierdie een meer aan die stoute kant. Ons praat meer openlik oor seks. Maar die film maak jou gemaklik. Ek sou graag wou gehad het – en ek dink Kate sal met my saamstem – om dit meer stout te maak. Dit sou egter nie noodwendig die beste besluit gewees het nie.”

Kate: “Ek en Schalk moes ook terugvoer oor die draaiboek gee en grappe byvoeg. Ons was baie betrokke by die proses, wat regtig heerlik was. Mense besef nie altyd die waarde wat stand-up komediante wat ook akteurs is tot ’n projek kan voeg nie.”

Was daar baie improvisasie op stel?

Schalk: “Morné [Strydom, die regisseur] moes ons nogal onder bedwang bring, want ons gaan dikwels so hard vir die grap dat ons die opregte oomblikke mis. Die ding met komediante is dat ons baie maal gaan: ‘Opregtheid? Siesa!’ Maar ek dink ons ​​het ’n pragtige balans gevind.”

Kate: “Ons is komediante, so as dit by improvisasie kom… Dit is vir ons moeilik om aan ’n grap te dink en dit nie te vertel nie, so ek en Schalk het nogal baie geïmproviseer. Ons het eers al ons lyne gedoen soos ons veronderstel was om dit te doen, maar ons het noodwendig goed bygevoeg.” 


Soos Pynappel op Pizza is vanaf Vrydag, 14 Februarie 2025 op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies