Menu terloops
In Silwerskermfees [31 Mar 2025]

Silwerskermfees soek storievertellers vir 2026


Met die 13de kykNET Silwerskermfees wat weer in Augustus vanjaar plaasvind, is inskrywings ook reeds oop vir 2026 se fees. Hier’s als wat jy moet weet om in te skryf.

Silwerskermfees soek storievertellers vir 2026

Vanjaar se Silwerskermfees, wat tussen 20 en 23 Augustus in Kampsbaai plaasvind, trakteer weer feesgangers met verskeie premières wat speelfilms, kortfilms, dokumentêre films, en voorskoue van nuwe TV-reekse se loodsepisodes insluit. Oudergewoonte word ’n verskeidenheid werksessies en paneelgesprekke met kenners ook weer aangebied. Die fees se fondasie lê egter daarin om ’n platform aan filmmakers in die TV- en rolprentbedryf te bied. 

SSF, Silwerskermfees

Gesoek: Vars talent én ervare hande

Die kompetisie word in twee kategorieë verdeel: 

  1. Opkomende filmmakers, wat vir beide kortfilms en kort dokkies kan inskryf. 
  2. Gevestigde filmmakers (draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfeeskompetisie deelgeneem het), wat ook hul idees en konsepte vir sowel kortfilms as kort dokkies kan voorlê. 

Met beide kategorieë is die fees op soek na diverse en verbeeldingryke storievertellers wat die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre kan aangee. 

Hoe werk die keuringsproses?

Die keuringsproses vir die kompetisie strek oor verskeie fases.

Indien ’n kort dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, asook verwysings na soortgelyke dokumentêre en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie. ’n Verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom. 

Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2025 gekies sal word, moet ’n voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal bepaal wie die suksesvolle kandidate is wat finansiering en mentorskap om hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak sal ontvang. 

Die kortfilmkandidate vir die 2026 Silwerskermfees sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word. Dié films kan tussen sewe en 30 minute lank wees, in enige genre en in enige variant van Afrikaans. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees. 

As jou voorstel uiteindelik die ja-woord kry, kan jy in die voetspore van vele veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfeeskortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena. Só ook die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam, asook die filmmaker-duo Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie, Toorbos en Hans steek die Rubicon oor (hooffoto) op hul kerfstok het. Verskeie Silwerskermfees-kortfilms, soos Vuil wasgoed en Beurtkrag, is ook al in vollengte-speelfilms omskep.

Jou inskrywing vir die eerste ronde van beoordeling moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Waar is die inskrywingsvorms?

Die inskrywingsvorms vir die twee kompetisies is op die Silwerskermfees-webwerf beskikbaar. 

Die sperdatum is Woensdag 23 April 2025 en die inskrywingsfooi beloop R350. 

Skryf hier in. Rig navrae aan silwerskerm@ideacandy.tv 


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies