Menu terloops
In Gons [11 Apr 2024]

Gesoek: Vars talent én ervare hande vir 2025 se Silwerskermfees (tyd loop uit!)


Met die 12de kykNET Silwerskermfees wat in einde-Augustus vanjaar plaasvind, is inskrywings ook reeds oop vir 2025 se fees. Hier’s als wat jy moet weet om in te skryf.

Gesoek: Vars talent én ervare hande vir 2025 se Silwerskermfees (tyd loop uit!)

Die 12de kykNET Silwerskermfees, wat tussen 28 en 31 Augustus 2024 in Kampsbaai plaasvind, bou voort op sy visie om ’n wegspringblok en platform aan aspirant-filmmakers in die TV- en rolprentbedryf te bied. 

Onder vanjaar se Silwerskermfeesdebuutwerke tel agt kortfilms (deur opkomende filmmakers), ses shotgun-kortfilms (deur gevestigde filmmakers) en vyf kort dokumentêre films. 

Intussen kan Suid-Afrika se eie toekomstige Christopher Nolans, Greta Gerwigs Martin Scorseses en Cord Jeffersons ook reeds inskryf vir 2025 se Silwerskermfees-kompetisie vir kort- en dokumentêre films. 

Twee kategorieë

Vanjaar word die kompetisie in twee kategorieë verdeel met opkomende filmmakers wat vir beide kortfilms en kort dokkies kan inskryf, en gevestigde filmmakers (draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfees-kortfilmkompetisie deelgeneem het), wat nou ook hul idees en konsepte vir sowel kortfilms as kort dokkies kan voorlê. 

Met beide kategorieë is die fees op soek na diverse en verbeeldingryke storievertellers wat die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre kan aangee. 

Keuringsproses

Die keuringsproses vir die kompetisie strek oor verskeie fases.

Indien ’n kort dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, verwysings en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie en ’n verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom. 

Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2024 gekies sal word, moet ’n voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal bepaal wie die suksesvolle kandidate is wat finansiering en mentorskap om hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak sal ontvang. 

Die 2025 Silwerskermfees-kortfilmkandidate sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word. As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ’n rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfeeskortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena; die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaar Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie, Toorbos en Hans steek die Rubicon oor op hul kerfstok het.

Verskeie Silwerskermfeeskortfilms, soos Vuil wasgoed (hooffoto) en Beurtkrag, is ook al in vollengterolprente omskep.

Die 2025-kortfilms kan tussen 7 en 30 minute lank wees, in enige genre en enige Afrikaanse variant. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees. 

Jou inskrywing vir die eerste ronde van beoordeling moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Waar is die inskrywingsvorms?

Die inskrywingsvorms vir die twee kompetisies is op die Silwerskermfeeswebwerf (https://silwerskermfees.co.za/) beskikbaar. Die sperdatum is Maandag 15 April 2024 en die inskrywingsfooi beloop R350. 

Vir enige navrae kontak silwerskerm@ideacandy.tv.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies