Die terugkeer van ’n lank verlore pa, onverwagse liefdesverwikkelinge, skokkende ondersoeke en geheime wat op die lappe kom, is van die storielyn-hoogtepunte wat op Skemergrond-kykers vandeesmaand wag.
Louis se pa bring chaos na Gemoedsdrif
Gemoedsdrif word geskud deur die terugkeer van Louis se lank verlore pa, Ice. Sy onverwagte verskyning krap ou wonde oop, laat gevaarlike spanning opvlam en dreig om lewens te ontwrig. Erica beland in ’n emosionele maalkolk wanneer Ice nader aan haar probeer weeg, terwyl Louis tussen lojaliteit en wantroue verskeurd is. Maar Ice dra ook sy eie geheime saam, en sy vrees vir die polisie is net die begin daarvan.
Wie gaan Patty se hart wen?
Te midde van hierdie drama worstel Patty met haar liefdeslewe. Sy erken aan Manny dat sy smag na romanse, maar tussen ongemaklike ontmoetings, bemoeisieke vriende en selfs ’n oorweldigende Boer soek ’n vrou-video-opname, is haar reis vol humor, frustrasie en moeilike besluite. Wanneer sy skokkende nuus ontvang, moet sy besluit of sy bereid is om haar hart op die spel te plaas.
Ronnie met sy rug teen die muur
Ronnie se loopbaan is in die weegskaal wanneer ’n ondersoek deur die mediese raad in volle swang kom. ’n Opspraakwekkende artikel laat die gemeenskap gons, en die verhoor bring onthullings wat Gemoedsdrif tot in sy fondamente ruk. Al probeer Ronnie positief bly met Junior aan sy sy, is die druk enorm en sy toekoms onseker.
Vriendskap of gevaarlike obsessie?
Intussen veroorsaak Fabian nuuskierigheid – en bekommernis – met sy intense belangstelling in Hazel se lewe. Terwyl ander om haar besig is met hul eie dramas, bied hy ’n skouer en ondersteuning, maar sy motiewe is nie heeltemal duidelik nie. Kan Hazel hom vertrou, of skuil daar ’n agenda agter sy optrede?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.