Menu terloops
In Sepies [11 Mei 2025]

Sepievoorskou: Vrede en geluk het maar kort rakleeftyd in ‘Suidooster’, ‘Skemergrond’


Die tronk en ’n oranje pakkie lyk asof dit beslis op twee Gemoedsdrift-inwoners se bingo-kaartjies vir 2025 is, terwyl ’n Ruiterbosch-inwoner moontlik ’n noodlottige diagnose ontvang. Lees ons sepievoorskou vir meer oor wat vandeesweek wag.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Vrede en geluk het maar kort rakleeftyd in ‘Suidooster’, ‘Skemergrond’

Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (12 tot 16 Mei) in Suidooster, Binnelanders, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien.

Suidooster 

Lee-Ann (Portia Joel) kan weer asem skep ná die afgelope paar maande se drama in haar huis. Maar soos dit maar in sepies gaan, hou die vrede en geluk nie lank nie. Die noodlot het beslis sy mes in vir haar familie, want sjoe, dit lyk asof Bridgette (Denise Newman) se life lines uiteindelik op is. Dit sal geen verrassing wees as Nazeem (Irvine van der Merwe) al weer haar familie se toekoms in sy hande hou nie, maar dit is glad nie vir die redes wat julle dalk mag dink nie. Soms het ons sepieskrywers maar ’n donker sin vir humor… Maar iets sê vir my Nazeem gaan ’n belangrike rol in dié situasie speel. Kom ons hoop Lee-Ann kan vir Bridgette help, veral noudat sy mos uitgerus is en ’n lekker week by die spa geniet het. Dinge gaan nog baie interessant raak en ek wonder reeds hoe dinge gaan uitdraai. 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Binnelanders 

At (Hans Strydom) se gat moet weer gered word, maar soms is dinge glad nie soos wat dit lyk nie. Vra maar vir Conrad (Hykie Berg)! Hy moet weer sy eie vure doodslaan. Die Wagner-manne snuffel steeds rond, maar dit is Annetjie (Lorraine Burger) wat die troefkaart ontdek. Ons almal weet hoe Annetjie oor reëls en geregtigheid voel, maar hoe sy hierdie hanteer het my nogal verbaas. Haar optrede is heel buite karakter vir haar en ek dink kykers gaan haar tonele hierdie week vreeslik geniet! Ek sien altyd my eie angs in Annetjie raak, en dan begin ek sommer hardop lag oor die gedagte dat ek dalk ook só nervous lyk. Ongelukkig het haar ontdekking erge gevolge vir sommige mense – maar hoe om dit te hanteer? 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Skemergrond

So gepraat van gevolge… Daar is twee skuldiges in Gemoedsdrift, al klap die tonge behoorlik oor wat hulle dink gebeur het. Wie sou kon raai dat liewe Tillie (Deirdre Wolhuter) en Dirk (Wilhelm van der Walt) hulself in hierdie situasie sou bevind? Al het ek dit self gesien, laat hul briljante toneelspel my twyfel. Want nou is ek meer deurmekaar as ooit en ek weet kykers gaan dieselfde voel. Manny (Dirk Scholtz) se gesig toe hy daai nuus hoor was die hoogtepunt vir my. Julle gaan dit nie wil mis nie, want iemand gaan hul vingers lelik brand. Hoor wat ek sê! Soms is dom net dom, al het jy goeie bedoelings. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Diepe Waters

Daar is seker min goed wat erger is as iemand wat graag ’n ouer wil wees, maar danksy verskeie redes nie dit kan laat gebeur nie. Wat nog te sê van iemand wat die besluit neem om iemand anders se kind groot te maak, maar hul hele houding sê vir jou dat hulle jou huidige familie uitmekaar wil ruk. Arme Lettie (Stephanie Baartman) se moederhart weet nie of dit wil lag of huil nie. Terwyl sy en Henry (Stiaan Bruwer) begin voorberei vir hul nuwe bondeltjie liefde, gebeur daar dié week iets groot. Hierdie hele storielyn laat my met ’n hol kol op my maag. Hoekom gebeur slegte goed nooit met die skurke nie, maar goeie mense moet altyd ly? Gee ons tog een gelukkige einde, asseblief! 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies