Ons sepievoorskou het die inside scoop oor die grootste storielyne wat hierdie week in Diepe Waters, Suidooster en Arendsvlei gaan uitspeel.
Diepe Waters
Nina (Reze-Tiana Wessels) se groot droom is steeds om in Amerika te gaan studeer, maar haar hart brand ook om ’n swemkampioen te wees. Ongelukkig stel Gys (Justin Strydom) nie daarin belang om vir enige ander swemmer behalwe Charity (Dané De Waal) te help nie. Dalk is dit oor sy swak maniere dat karma nooit sy vriend is nie.
Gys hou hom verniet katjie van die baan, want in ware Zelda-styl (Sandi Schultz) ontbloot sy hierdie week ’n groot Swarts-geheim wat die hele empire gaan ruk. Oh, how the mighty have fallen! But were they even mighty to begin with? Iets sê vir my dat Gys op skuld spog.
Arme Sandra (Deirdre Wolhuter) se vrede is iets van die verlede nou dat sy vasgevang is in die middel van Zelda en Gys se oorlog. Wie gaan hierdie keer wen of gaan Sandra almal verras en terugbaklei?
Almal weet Mari (Diandra Slabbert) is nie die grootste aanhanger van haar pa en Sanet (Nadia Valvekens se verhouding nie. Maar met die dat haar broer Chris (Henri Strauss) in die omgewing is en vir hulle goeie nuus bring, mag dit dalk net help om dinge te verander.
Johan (Liam Bosman) en Jacques (Werner Coetser) sit koppe bymekaar om Rossouw (Altus Theart) uit sy depressie te kry, maar met nuwe verwikkelinge is dit dalk té min, té laat.
Anja (Reandri Grey) word onkant gevang deur ’n onverwagse uitnodiging en besluit sy wil nie meer haar wonde lek nie. Maar is dit ’n goeie idee of gaan dit dinge by die Swartmarlyne net erger maak?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Nes ’n luiperd nie sy kolle kan verander nie, glo ek Nazeem (Irvine van der Merwe) kan nie sy slinkse maniere verander nie. Mense sê die liefde doen snaakse dinge aan mense, maar ek weet darem nie of die liefde skielik vir Nazeem ’n goeie mens gaan maak nie.
Dinge raak nou warm tussen Laylla (Kay Smith) en Nazeem, en hoewel ek graag sou wou glo dat sy ’n eerlike man van Nazeem kan maak, is dit ook (meer as) moontlik dat hy haar net gebruik om inligting te kry oor sy ousus se sake by JPD.
Ongelukkig vir Laylla kan jou kop nie altyd jou hart oorrompel nie. Sy is nog nie vyf minute saam met Nazeem nie en haar lewe val al reeds uitmekaar! Kom ons hoop dat dinge vir haar gaan uitwerk. Ek dink die hele Ruiterbosch sal haar bedank as sy Nazeem kan oortuig om sy skelmstreke te los.
Die Ruiterbosch-inwoners hou van teen mekaar meeding en almal is opgewonde oor die groot vasvrae-kompetisie. Daar gaan beslis wenners en verloorders wees, maar dit lyk asof daar meer as net bragging rights op die spel is vir sommige mense. Tannie Kate (Annelisa Weiland) en Elana (Esther von Waltsleben) gebruik die vasvrae-kompetisie om matchmaker te speel, maar sal hul plannetjies uitwerk?
Siya (Gantane Kusch) en Dani (Vashti Prins) vermoed hulle het groot nuus om te deel, maar dinge draai nie uit soos wat hulle gedink het nie. Siya verloor ook weer sy geduld met Aiden (Theodore Jantjies). ’n Mens wil vir Aiden jammer kry, maar wanneer gaan die man sy les leer en uit Dani en Siya se sake bly? Desperaat was nog nooit ’n goeie look nie.
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.
Arendsvlei
Clint (Clayton Evertson) se skokdood krap baie ou wonde oop en Hein (Merlin Balie) sukkel met die feit dat hy weer iemand verloor vir wie hy nie kon groet nie.
Arme Beatrice (Jolene Martin) moet ook die stukke optel, maar dit is makliker gesê as gedaan. Clint was haar groot liefde en ons het dan so lank vir hierdie sprokieseinde gewag! Hoekom hou geluk dan nooit in sepieland nie? Ons moes dit seker sien kom het…
Dinge is nog baie ongemaklik in die Mortlock-huishouding, veral met Janice (Crystal-Donna Roberts) wat vir ’n tweede keer Steve se dood moet rou.
Desmond (Alistair Izobell) is besig om Janice teen almal te draai, maar Janice wil nie luister nie en glo dat almal wat vir haar omgee verkeerd is oor die Galants. Sy het daai kop beslis hard gekap, maar gelukkig gaan Beaty dit nie daar los nie.
Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.