Menu terloops
In Sepies [4 Jan 2025]

Sepievoorskou: Trouklokke, moeilikheidmakers en spyt in ‘Suidooster’, ‘Diepe Waters’


Die liefde bring soms ewe veel vreugde as pyn… iets wat ’n hele paar van ons sepiekarakters in vandeesweek se episodes besef. Lees ons sepievoorskou vir meer oor wat hierdie week op kykers wag.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Trouklokke, moeilikheidmakers en spyt in ‘Suidooster’, ‘Diepe Waters’

Hier is waarna jy hierdie week (6 tot 9 Januarie 2025) op Suidooster en Diepe Waters kan uitsien. 

Diepe Waters 

Rossouw (Altus Theart) vind uit oor Anja (Reandi Grey) se groot planne ná orkaan Candy (Christia Visser) hul verhouding getref het. Hy besef nou eers sy fout, maar spyt kom mos altyd te laat. Dis asof Rossouw blind was vir al die flikkerende rooi ligte én flapperende rooi vlae. Hy het nog gehoop hulle het ’n toekoms, maar hierdie nuwe verwikkeling kan die einde van sy verhouding met sy sielsmaat beteken. 

Fourie Bester (David Louw) maak nog net moeilikheid vandat hy in Boskruin aangekom het, maar hierdie week is dit glad te ongemaklik om te sien! René (Marijke Coetser) se moederinstinkte het vir haar gesê sy moet haar seun vat en wegkom van haar verlede en die Besters, maar toe oortuig Zelda (Sandi Schultz) haar om te bly… en nou gaan haar grootste vrees waar word. Op die ergste manier! 

Tommie (Righard van Jaarsveld) vind hierdie week uit wat gebeur as jy jou pa aanvat, maar die arme ou het nie regtig ’n keuse gehad nie. Dit is of hy vat sy pa aan, of hy vat sy meisie, Tomi (Deoudone van der Merwe)… En iets sê vir my Tomi laat nie met haar mors nie. 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster 

Trouklokke lui hierdie week in Ruiterbosch, maar nie almal is gelukkig daaroor nie. Dit is hoekom ek nooit in ’n plek kleiner as ’n stad kan bly nie. Ek wil nie nog my eks en sy nuwe of ou vrou raakloop nie. Ek wil nog minder ’n vriendekring deel. Dit is erger as ’n egskeiding wanneer vriende tussen ekse moet kies. Maar dit lyk nie as of enige iets vir Hanli (Celeste Loots) en Riaan (Daniel Coetzee) pla nie. Kate (Annelisa Weiland) wil ook nie kla nie, want ten minste is haar seun steeds in die Kaap. 

Intussen probeer almal vir Bianca (Simone Biscombe) beskerm, maar dinge gaan rof. My hart voel nogal baie seer saam met haar. 

Nazeem (Irvine van der Merwe) is besig met sy nuutste planne en die sentrum word weer geteiken. Hy kan net nie sy ousus en haar besighede in vrede los nie. 

Wade (Dean Smith) is altyd my held, hy sal altyd veg vir wat reg is al glo niemand hom nie en al lyk hy altyd soos die vark. Soms is hy wel onnodig, maar hierdie keer is ek bly dat iemand vir Damian (Caleb Felix) in sy plek sit en die vroue van Ruiterbosch beskerm. Damian kan ek sommer sien is die volgende Tim (Marco Spaumer) en ek hou glad nie daarvan nie. 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies