Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (26 tot 30 Mei) in Suidooster, Binnelanders, en Skemergrond kan uitsien.
Skemergrond
Daar word groot stappe geneem na genesing en versoening op Gemoedsdrift. Veral met die groot hofuitspraak wat inwoners op hete kole het.
Vir Lily (Hildegardt Whites) en die Pienaars het die tyd aangebreek om finaal die donker hoofstuk in hul lewe af te sluit. Ek was ’n bietjie geskok tydens die groot toneel hierdie week; ek het glad nie daardie reaksie verwag nie en dit was nogal ’n diep emosionele belaaide toneel. Al was Lily se onmiddellike reaksie een van teleurstelling. Maar waar een deur toegemaak word, is daar ’n ander wat uiteindelik oopmaak en dít gee vir my hoop vir ’n gelukkige toekoms vir die Louw-meisies.
Dít is meer as wat ek kan sê van Christine (Devonecia Swartz). Kykers gaan verras wees wanneer haar nuutste huisgas intrek. Maar natuurlik is daar meer agter hierdie uitnodiging as net familie-liefde! Ek weet nie of ek Christine moet bejammer of uitjou nie. Sy is ’n komplekse karakter wat my weekliks laat kopkrap.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Ella (Marlee van der Merwe) gaan beslis deur ’n interessante fase – en ek is hier vir dit! Hierdie vrou se lewe was tot dusver net een groot teleurstelling. Drama, ongeluk en onmin vind altyd vir Ella, so sy verdien hierdie “tiener”-fase van haar lewe. Ongelukkig pas dit glad nie by die image van ’n dokter McDreamy nie en dit is presies hoekom ons ander mediese TV-power couple dikwels vasgesit het. Derek kon ook nie altyd met Meredith se wilde kant cope nie. En nes Meredith en Christina altyd saam moeilikheid gemaak het, is Ella en Tracy (Melinda Viljoen) ook nou ’n dinamiese duo.

Maar terwyl Ella se probleem nie regtig ’n probleem is nie, sit Binneland-kliniek met regte probleme. Ek kan nou nie meer by hou met wie nou eintlik vir Binneland probeer sink nie, maar een ding is seker, dinge raak nou regtig benoud. Delia (Odelle De Wet) se toekoms by Binneland hang nou af van hoe sy hierdie probleem gaan oplos. As sy nie vinnig die dag red nie, kan sy maar haar kantoor oppak, want almal is nou amptelik op breekpunt.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Die Booysen-broers pak ’n avontuur aan, maar soos gewoonlik neem die lewe ’n snaakse draai met hulle. Dit sorg egter vir lekker sports. Ek het omtrent uit my maag gelag vir dié twee. Ek wens soms daar is meer humor en minder drama in sepies. Mens het tog hierdie ligter storielyne nodig. Maar ongelukkig is drama en skandaal die hartklop van sepies. Bridgette (Denise Newman) en Nazeem (Irvine van der Merwe) sorg vir albei hierdie week.
As mense eers uitvind wat Bridgette gedoen het, gaan hulle anders na haar kyk, veral nadat dinge nou so erg uitgedraai het. As dit ek was, het die skuldgevoelens my van binne af opgeëet. Verbeel jou jy vra iemand só ’n groot guns, behandel hulle sleg en dan gebeur dit… Eish ek speel nie met karma nie. Hierdie storielyn is hectic en laat my met baie gemengde gevoelens.
Ongelukkig is Moena (Jill Levenberg) nou weer die een wat gaan swaar dra aan hierdie uitkoms.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.