Hier is waarna jy hierdie week (5 tot 9 Mei) op Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Skemergrond
Toe die legkaartstukke uiteindelik hierdie week inmekaar begin pas, was Lily (Hildegardt Whites) se gesigsuitdrukking presies hoe ek gevoel het. Ek wens hierdie goed het net in sepies gebeur, maar ek dink dit is juis omdat dit so naby aan die werklike lewe is dat dit mens so diep in die hart tref. Hildegardt Whites vertolk hierdie storielyn uitstekend en die pyn van haar moederhart is tasbaar. Mens voel dit sommer deur jou skerm. Ek dink nie Amber (Talia Davis) kon die mes dieper in haar ma se hart gesteek het nie. Dít is die laagste van laag. Skemergrond se skrywers herinner my op die oomblik van die emosionele tuimeltreinrit waarop Shonda Rhimes ons almal laat klim het tydens die eerste tien seisoene van Grey’s Anatomy. It was the one train you just couldn’t get off! Praat van uitputtend.
Maar asof Lily se onthulling nie erg genoeg is nie, het Dirk (Wilhelm van der Walt) sy eie oomblik van waarheid. Dit laat die tonge in Gemoedsdrift klap en ek blameer hulle nie, want ek sou seker ewe lekker saam geskinder het.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Suster Vlok (Megan Vorster) vind dié week uit wat gebeur wanneer jy ogies vir ’n dokter soos Conrad (Hykie Berg) begin maak. Ek wil my nou nie in ander se drama verlekker nie, maar dít is tog wel die punt van ’n lekker sepie. Ek moet erken ek was nogal heel verbaas en ek dink kykers gaan ook wees. Hierdie storielyn kon enige kant toe, maar ek is bly die minder voorspelbare roete het gewen. Maar hoe sien Suster Vlok en Amor (Laura-Lee Mostert) dit? Conrad gee vir Amor ’n spesiale versoek en nou probeer sy uitwerk hoe sy dit moet hanteer. Sterkte!
Intussen kan ek die ongemaklikheid tussen Joe (Roberto Kyle) en Fiona (Carla Classen) nie meer hanteer nie. En ek dink Fiona sou saamstem. Iets gebeur hierdie week wat hulle of nader aan mekaar gaan bring of finaal uitmekaar gaan dryf. Stem jy vir #Jiona of teen hulle?
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Elana (Esther von Waltsleben) moet finaal besluit of sy Pronk se vloerlap gaan wees en of sy haar vrou gaan staan! Soms is dit beter om net weg te stap, maar ek sou ook so hard baklei soos Elana om daardie uitdrukking op Amore (Antoinette Louw) se gesig te sien. Dié vrou is iets anders. Ek kan mos nie sulke mense verdra nie, so Elana is beslis ’n beter mens as ek. Ek het nie geweet sy kan só laag daal nie, maar ek moet erken dit is nogal indrukwekkend…
Lee-Ann (Portia Joel) en Carla (Jadon Booysen) se verhouding kry ’n nuwe begin en daardie laaste toneel het my diep in die hart getref. Daar is regtig niks so mooi en hartroerend soos ’n ma se liefde nie, al beteken dit dat sy vir ’n tydjie gaan seerkry. Dit laat mens regtig sommer na jou eie ma verlang.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.