Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (15 tot 19 September) in Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Skemergrond
Tillie (Deirdre Wolhuter) werk hard om Patty (Gretchen Ramsden) te oortuig dat sy by een van Suid-Afrika se gewildste realiteitsreekse moet inskryf. En terwyl Patty nie heeltemal gretig is nie, is dit vir my so lekker wanneer sulke storielyne ingeskryf word! Ek het nooit gedink ek sou dié reeks se naam op Skemergrond hoor nie, maar tog maak dit 100% sin. Ek sal graag wil sien hoe ver Patty met een van dié hunks kom. Sy is mos tog ’n plaasmeisie…
Intussen sien almal – behalwe Erica (Shimmy Isaacs) – rooi wanneer dit by haar liefdeslewe kom. Sy maak hierdie week ’n besluit wat almal in haar lewe gaan affekteer. Ek weet hulle sê die liefde is blind, maar ek kan nie verstaan hoekom vroue altyd van die goeie ou af weghardloop en liefde in die bad boy se arms gaan soek nie. Ons weet tog almal hoe dit eindig. Ek het regtig meer van Erica verwag. Dit is omtrent cringe om te sien hoe sy haar eie hart gaan breek.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Soms is die liefde blind en ander tye is dit net flippen ingewikkeld. Op die oomblik is dit slegs Rhafiek (Irshaad Ally) en Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther von Waltsleben) wie se verhoudings sonder drama oorleef. Dit is beslis tyd dat hierdie paartjies vrede ervaar, maar sjoe, dit gaan maar rof vir die res in Ruiterbosch!
Siya (Gantane Kusch) en Bianca (Simone Biscombe) het soos enige paartjie gedink dat liefde genoeg is, maar hulle vind gou uit dat ’n blended familie nie kinderspeletjies is nie. Hulle moet die onmoontlike besluit tussen hul verhouding en kinders maak. Ek het glad nie hul keuse verwag nie, maar, ná baie spanning, dink ek dít was presies wat hulle én die res van Ruiterbosch nodig gehad het. Al kom dit met sy eie dramas.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
Noudat die hele fiasko met Gavin verby is, wag almal in spanning vir Tracy (Melinda Viljoen) om wakker te word, maar intussen word dinge tussen Rentia (Heléne Lombard) en Tertius (Reynardt Hugo) al erger. Conrad (Hykie Berg) sal maar moet besluit wat die beste vir sy dogter is, want ouma en bonus-pappa kan beslis nie. My hart breek vir hulle, maar Tracy is ’n fighter en sy gee nie sommer op nie.
Terwyl een gesin bekommerd is oor hul mamma, wil ’n ander graag net mamma en pappa word. Ek het van die begin af ’n ongemaklike gevoel rondom Velma (Lindi Niemand) gekry. Sy gee vir my heavy dodgy vibes en in plaas daarvan dat hulle na Naomi (Je-ani Swiegelaar) se gut feeling luister en iets te doen, wag hulle danksy Louis (Germandt Geldenhuys) se hardkoppigheid. Toe gebeur daar iets wat enige ouer in ’n toestand sou kry. Hierdie situsie het ek 100% verwag – die tekens was immers daar, maar kykers sal maar self moet inskakel om hierdie nagmerrie te aanskou. Ek hoop tog net dit het ’n goeie einde!
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.