Menu terloops
In Sepies [25 Aug 2024]

Sepievoorskou: Lewens op die spel in ‘Binnelanders’, katgevegte in ‘Suidooster’


Vertroue word getoets in ‘Binnelanders’, terwyl verhoudings in ‘Suidooster’ gekompliseerd is, en vergifnis die tema van die week in ‘Diepe Waters’ is. Hier is jou sepievoorskou vir vandeesweek.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Lewens op die spel in ‘Binnelanders’, katgevegte in ‘Suidooster’

Hier is waarna kykers hierdie week (26 tot 30 Augustus) op Suidooster, Binnelanders en Diepe Waters kan uitsien. 

Diepe Waters

Terwyl Tshepo ‘Bullet Buti’ (Johnny Potsanyane) vir mense wys wat om nie te doen wanneer jy famous word nie, verbaas Gys (Justin Strydom) en Zelda (Sandi Schultz) vir mense vir ’n heel ander rede. 

Ek het mos verlede week gesê die koel is deur die kerk en dat ek twyfel of liefde genoeg gaan wees om Nina (Reze-Tiana Wessels) en Tshepo se verhouding te red. Ek was toe reg, maar ongelukkig is hul verhouding die laaste ding waaroor Tshepo bekommerd moet wees. As hy so aangaan sal hy dalk net daai goue medalje en sy aanhangers oor hê. Bullet Buti het vir Tshepo heel ingesluk en kykers sal nie glo wat hy dié week kwytraak nie.  

Intussen bid die hele Boskruin dat Gys en Zelda gevind sal word. Maar terwyl mense oor hul veiligheid worry, is daar net een liedjie waaraan ek kan dink om Gys en Zelda se week te beskryf: Rihanna se We found love in a hopeless place. Gys was nog altyd mal daaroor om die shine te vang, maar hierdie week vat die koek! Selfs my mond het oopgehang. 

Rossouw (Altus Theart) is op sy eie liefdesmissie, maar hoe lyk dit dan nou vir my asof Sanet (Nadia Valvekens) glad nie ten gunste van ’n dubbeltroue met haar sussie en eksman is nie? In die woorde van sanger Cardi B: “Okurrr!”

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Rhafiek (Irshaad Ally) besluit om vir sy ma ’n tweede kans te gee, maar nie almal glo dat Mymoena (Jill Levenberg) ’n nuwe bladsy omgeslaan het nie. Bianca (Simone BIscombe) se houding teenoor haar ma het my regtig hierdie week verbaas… En my hart so ’n bietjie gebreek. Sy kry hierdie week ’n onverwagse reality check.

Angie (Char Carrie) en Aiden (Theodore Jantjies) leer ongelukkig dat sommige mense net wolwe in skaapsklere is. Maar vir ander in Ruiterbosch is daar wel tweede kanse. 

Terwyl Wade (Dean Smith) salig onbewus is en sy tydjie in Durban geniet, lyk dit asof Angie en Zoë (Lauren Joseph) reg is om mekaar te rol. Hulle mag dalk as dames voorkom, maar selfs ek het ’n bietjie geskrik toe die October-prinses haar stem dik maak en haar vingers in Bella bolla, ag ek bedoel Angie, se gesig druk. Nee, kyk, ek hoop julle lag net so lekker soos ek gelag het! Daar is nie beter as Angie en Zoë hierdie week nie. Elke toneel met dié twee het my laat giggel. Dames se voet! Angie verloor ook ’n baie belangrike koevert en as iemand dit in die hande kry, gaan dit ongemaklik wees, because the eyes can’t unsee certain things

Aiden vind ten minste uit dat iemand jou kan liefhê, al verraai hulle jou ook.

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Binnelanders

Gabby (Maude Sandham) het hierdie keer te ver gegaan, maar sy is nie die enigste een wat leuens vertel het nie. Almal word verdink ná ’n moord plaasvind, maar wie is nou eintlik skuldig? Selfs ek kan dit nog nie uitpluis nie!

Uys (Gerald Steyn) vang iets hierdie week aan wat tot groot probleme kan lei, maar wat eintlik ’n bedekte seën is. Hy en Joe (Roberto Kyle) sal vinnig koppe bymekaar moet sit as hulle hul pasiënt wil red.  

Delia (Odelle de Wet) maak hierdie week ’n aanbod wat kykers en die Binneland-familie gaan verras, maar dit mag dalk net die skuif wees wat vir haar daai sitplek op die raad wen.

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies