Menu terloops
In Sepies [13 Apr 2025]

Sepievoorskou: Kattige konfrontasies kom in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’


’n Ego kan ’n mens nie sommer wegsteek nie, maar as jy slinks genoeg is, kan jy oënskynlik wel dwelms, ’n lyk en selfs die vaderskap van jou dogter wegsteek! Lees ons sepievoorkou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie gaan uitspeel.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Kattige konfrontasies kom in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’

Hier is waarna jy hierdie week (14 tot 18 April) op Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.

Skemergrond

Of jy nou kwaad in die dag of nag wil aanvang, maak nie regtig ’n verskil nie, want alle geheime sien een of ander tyd die lig. Tillie (Deirdre Wolhuter) en Dirk (Wilhelm van der Walt) het te gemaklik geword en gedink hul sondes is diep onder die grond weggesteek. 

Ongelukkig vir hulle is Junior (Ayden October) toe mos nooit rugby-akademie toe nie en nou is die plaas al wat hom besig hou. Tillie en Dirk was so wit soos spoke toe hulle sien waarmee Junior vandeesweek besig is. As ek iets groter as ’n jakkals begrawe het, sou ek ook seker só bleek om die kiewe gewees het. Junior probeer selfs vir Ruan (Dann-Jacques Mouton) en Oupie (Charlton George) oortuig om te kom kyk wat hy ontdek het. Maar glo hulle hom of dink hulle dit is sommer tienersnert? En dan bedink Dirk en Tillie nog ’n slegte plan van aksie uit! Ai, om ’n misdadiger te wees, sit nie in almal se broek nie.

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Vir ander is dit weer tweede natuur om in die skaduwêreld van die gereg te lewe… Vra maar vir Ziempie (Irvine van der Merwe). Nazeem en Carlo (Jadon Booysen) se verhouding bereik ’n vurk in die pad en hulle kan regtig net een van twee drastiese besluite neem. Gaan hul besluit Carlo se toekoms verder opmors, of is daar lig aan die einde van ’n donker tonnel vir Carlo? 

Maar Carlo is nie die enigste een in Ruiterbosch wat met klappe oor sy oë rondloop nie. Elana (Esther von Waltsleben) was nog altyd iemand wat net die beste in ander wil raaksien. Dit het haar al baie keer in die gat gebyt, maar hier is ons weer. Haar nuwe begin by Pronk is alles behalwe ’n honeymoon en ek sal julle drie keer laat raai hoekom? Ek het geweet Ruiterbosch se nuwe diva is gif, maar ek het nie besef hoe erg Amor (Antoinette Louw) nou eintlik kan wees nie.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Diepe Waters

Ek het toe nooit my Zelda-showdown gekry nie! Zelda (Sandi Shultz) was toe te erg beseer, maar Pam (Tracey-Lee Oliver) is beslis haar ma se kind. Sy het lekker vir Hilda (ook Sandi Schultz) op haar plek gesit. 

Maar vandeesweek kry kykers die showdown wat hulle nie geweet het hulle wou hê nie! Sanet (Nadia Valvekens) het nog nooit toegelaat dat iemand met haar mors nie en al is sy deesdae ’n bietjie meer broos en sensitief, gaan sy beslis nie nou dat iemand oor haar loop nie. Bianca (Natasja Jacobs) beter lig loop, want dit wat Sanet dié week uitdeel, is maar net die begin. Sanet het weereens bewys hoekom sy dié alpha female in Boskruin is en vir die eerste keer ondersteun ek haar 100%. Wat ’n heerlike toneel. Lekker slaap, Bianca! 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

LJ (Julian Robinson) jaag hierdie week weer spoke en ongelukkig is dit hierdie keer nog meer belaglik as tevore. Ella (Marlee van der Merwe) neem beheer van sake en die antwoord is regtig ’n groot anti-klimaks vir LJ. Ek was natuurlik baie bly dat die storie nie weer ’n voorspelbare draai geneem het nie. Ek voel vir LJ, maar dalk is dít ’n les om die verlede in die verlede te los.  

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies