Menu terloops
In Sepies [2 Mar 2025]

Sepievoorskou: ‘Et tu, Brute?’


Verraad is hierdie week dié groot tema in sepieland soos een verhouding uitmekaar geskeur en ’n ander een getoets word. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die kinkels en draaie wat vandeesweek op kykers wag.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: ‘Et tu, Brute?’

Hier is waarna jy hierdie week (3 tot 7 Maart) op Suidooster, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien. 

Diepe Waters

Die tyd het uiteindelik aangebreek vir Gys (Justin Strydom) en Zelda (Sandi Schultz) se groot dag, maar voordat jy jou uitrusting vir die saamkyk afstof soos met Binnelanders se Tertius (Reynard Hugo) en Tracy (Melinda Viljoen), onthou dat hierdie nie ’n Disney-verhaal is nie! Daar is weinig happily ever afters in sepieland… Ek het maande gewag vir hierdie onvoorspelbare sprokie om af te speel en hierdie is een troue wat nie teleurgestel het nie. Ek bedoel, hierdie twee het die hele Boskruin deur hel gesit danksy hul vendettas teen mekaar, maar ná dekades het hulle hul pad na mekaar gevind. #Gyselda is nogal ’n kragtige paartjie, so ek het vermoed dat daar nog ’n kinkel kom, maar ek het gehoop ek is verkeerd!

Toe Gys daai besoeker sy huis binne nooi, het ek geweet dit is tyd om my gordel vas te maak vir die volgende week se tuimeltreinrit. Julle! Hierdie week sien julle hoe diep woorde kan sny, met ’n meestersklas in hoe ’n mens verraad hanteer! Dit is vir julle om te besluit of julle daarmee saamstem of nie, maar in my persoonlike opinie kon ek nie vir beter gevra het nie. Die plot, die toneelspel, die uitrustings… dit is ’n tien uit tien van my af! 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Skemergrond 

As julle wil weet hoe ’n mens ’n mes in iemand se wonde draai, moet julle dié week inskakel om Hazel (Carmen Maarman) in aksie te sien. Ons almal weet Christine (Devonecia Swartz) is die skurk in hierdie gemeenskap, maar Hazel wys vir almal hierdie week wat gebeur wanneer goeie mense te ver gedruk word.

Ek was so bly dat iemand uiteindelik besluit het om Christine op haar plek te sit, maar sjoe, ek weet ook nie of ’n mens tot daai punt moet gaan nie. Dié oomblik is so cringe dat ek nie eens na my skerm wou kyk nie. Ek staan voor in die koor om Christine agter tralies te sien, maar daar is dinge wat ’n mens moet vermy as jy nie tot ander se vlakke wil daal nie. Hazel het hierdie geveg gewen met ’n knockout punch, maar teen watter prys? Ek weet nie of hierdie week se besluite vir Everlasting gaan red en of Hazel sopas die plaas op ’n silver platter vir Christine oorhandig het nie. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Suidooster 

Daar is so baie wat tans in Ruiterbosch aangaan en die Samsodiens het my heel week laat trane afvee en snik. Maar die Daniels-gesin is die mense waaroor ek die meeste bekommerd is. Carlo (Jadon Booysen) moes nooit by Nazeem (Irvine van der Merwe) gaan werk het nie.

Ek stem nooit saam met Bridgette (Denise Newman) nie, maar dié keer is sy reg. Nuwe inligting rondom hierdie werksverhouding kom by Lee-Ann (Portia Joel) uit en in my opinie het sy weereens die situasie heeltemal verkeerd hanteer. Carlo is een van die goeies, maar wanneer leuens eers vir jou maklik word, is dit die begin van die einde. Ons het almal gesien wat met Aiden (Theodore Jantjies) en Gary (Craig Adriaanse) gebeur het… Carlo is sterk op pad om die volgende slag offer te wees. Die kind vang ook net nonsens aan, maar daar is een oomblik wat my darem hoop gee. 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

‘Die nuusmakers’, ‘The Newsroom’, ‘Spotlight’ en meer – kyk dié spanningsvolle stories vir ’n blik op die wêreld van nuus

Met die Afrikaanse dramareeks, 'Die nuusmakers', wat tans op kykNET uitsaai, vertel ons jou meer oor agt ander fassinerende en aangrypende stories wat in en om die nuuskantoor afspeel.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 9 stories in Junie misloop

Die tweede aflewering van een van die grootste plaaslike TV-reekse nog – 'Shaka iLembe'; die stroperige romkom-vervolg, 'Semi-soeter' met skermbekendes Anel Alexander en Nico Panagio; die werklik wilde dokkiereeks 'Chimp Crazy'; en die vierde uittog van die bekroonde komediereeks 'Hacks', tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Junie 2025

Die skoolvakansie is vol belofte, maar dit beteken nie dat Shani, Dolf en die res drama (of trauma) kan vryspring nie... Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Junie 2025

Aline verloor amper haar kop oor Caio, en Agatha se terugkeer blyk ʼn bedreiging vir meer as een karakter te wees... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Junie. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies